Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rian: Ons raak uiteindelik aan alles gewoond

Ons sal gewoond moet raak aan ’n nuwe bestel oor die eienaarskap van grond en daar sal dalk nie meer huise langs die see wees wat vir maande leegstaan nie. Maar is dit noodwendig ’n slegte ding? vra Rian van Heerden.

Rian van Heerden

Tydens ’n onlangse gesprek met ’n voormalige gevangene, Carene van der Westhuizen, het ek gesit en wonder oor gewoond raak aan dinge.

Jy sien, Carene was ’n middelklas vrou wat net heeltemal te lief begin raak het vir geld. Uiteindelik het sy sowat R450 000 van haar werkgewer gesteel en is hiervoor tronk toe gestuur.

Sy het aanvanklik in Pollsmoor beland en vertel hoe sy die eerste aand omgehuil het. Blykbaar het haar selmaats (daar was 18 van hulle) haar probeer moed inpraat, maar Carene wou niks weet nie.

Sy het die absolute laagtepunt in haar lewe bereik. Bykans vier jaar later is Carene vrygelaat en het op dieselfde dag ’n laat middagete gaan eet saam met ’n vriendin. Sy kon eenvoudig glad nie iets oor haar lippe kry nie, en boonop het daar heeltyd ’n vreemde “ping”-geluid vanaf haar vriendin se foon gekom. Die vriendin het verduidelik dat hierdie te wyte was aan ’n uitvinding genaamd “WhatsApp” en dat dit bloot mense was wat haar voorspoed wou toewens met haar nuwe lewe van vryheid. Die Carene wat daardie dag haar verwonder het aan WhatsApp was ’n ander Carene as die een agter wie die seldeure destyds toegeklap het. Hierdie Carene het anders gekyk na elke dag, sy het die moontlikhede in elke sonsopkoms gesien.

Hierdie Carene het gewonder waarom mense nie net sal erken as hulle verkeerd is nie . . . sy het en doen dit steeds gereeld.

Die vorige Carene het gedink dat geld alles kan koop, veral mense se respek en bewondering. Die nuwe Carene is tevrede in haar klein meenthuisie in Durbanville met haar ma en dogtertjie.

Sy moes oor 1 338 dae agter tralies aan baie dinge gewoond raak. Geen privaatheid nie, die feit dat jou hele lewe gereguleer word deur iemand anders, en ja, daar was nie die televisie waarvoor sy so lief was nie.

Maar was dit uiteindelik ’n slegte ding?

Die vorige Carene het gedink dat geld alles kan koop, veral mense se respek en bewondering. Die nuwe Carene is tevrede in haar klein meenthuisie in Durbanville met haar ma en dogtertjie. Heeltemal tevrede.

Armoede deel van miljoene se bestaan

Die skrywer Agatha Christie het tydens die Eerste Wêreldoorlog diens gedoen as ’n oorlogsverpleegster in die Rooi Kruis-hospitaal in Torquay en was met haar aankoms oorweldig deur die pyn en lyding wat sy daar aangetref het.

Blykbaar het een van die susters haar toe gerusgestel met die woorde “You can get used to anything”. En kort voor lank het sy.

Baie waar of hoe?

As jy gelukkig is om middelklas te wees, wonder jy seker byvoorbeeld hoe enige mens in 2018 steeds gewoond kan wees aan puttoilette en om water gaan haal by ’n gemeenskaplike kraan. Maar dis deel van miljoene mense se daaglikse bestaan.

Veral as jy let op waaraan Suid-Afrikaners gewoond moes raak oor die jare.

As jy gelukkig is om middelklas te wees, wonder jy seker byvoorbeeld hoe enige mens in 2018 steeds gewoond kan wees aan puttoilette en om water gaan haal by ’n gemeenskaplike kraan. Maar dis deel van miljoene mense se daaglikse bestaan . . .

Arm Suid-Afrikaners het gewoond geraak hieraan. Net soos arm Suid-Afrikaners daaraan gewoond geraak het om in sinkhuisies te bly saam met rotte wat so groot soos katte is.

Net soos ons almal gewoond geraak het aan wag, veral vir die polisie om op te daag.

Die idee van naweekplasies en huise langs die see wat vir maande aaneen leegstaan sal dalk binnekort iets van die verlede wees.

Binnekort sal ons almal gewoond moet raak aan ’n nuwe bestel oor grond en die eienaarskap daarvan. Die idee van naweekplasies en huise langs die see wat vir maande aaneen leegstaan sal dalk binnekort iets van die verlede wees.

Is dit noodwendig ’n slegte ding?

Die oorgrote meerderheid logiese denkers (dit sluit die Rooi Berets uit) verstaan dat jy nie eenvoudig al die grond vir die regering kan gee om te bestuur nie. Veral nie die suksesvolle reuseplase wat ons almal aan die lewe hou nie.

Maar vir die res . . . .

Aan sekere dinge in Suid-Afrika kan en moet ons nooit gewoond raak nie. Onderdrukking is veral een van hierdie dinge, uiterste armoede ’n ander.

In ’n land met massiewe druk op hulpbronne sal jy maar uiteindelik bereid moet wees om dit af te staan wat nie deur jou gebruik of verbruik word nie.

Aan sekere dinge in Suid-Afrika kan en moet ons nooit gewoond raak nie. Onderdrukking is veral een van hierdie dinge, uiterste armoede ’n ander.

Maar vir die res moet ons die vraag vir onsself afvra: Is gewoond raak aan drastiese veranderings werklik so ’n slegte ding?

* Van Heerden is ’n TV-persoonlikheid en radio-omroeper.

Meer oor:  Rian Van Heerden  |  Armoede  |  Suid-Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.