SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Menings
Rian van Heerden: Realistiese voornemens vir 2018

Hoekom faal jou edele nuwejaarsvoornemens elke jaar? Hoekom voel dit asof alles dieselfde gebly het, vra Rian van Heerden.

Hier is ons al weer. ’n Nuwe jaar wat elke keer op dieselfde manier begin: Voornemens van verandering. Elke keer is dit dieselfde: gewig, gesondheid, beroep, liefdesverhoudings. Ek wil maerder wees of dikker, ek wil ophou rook, ophou drink, gesonder eet, meer vaartbelyn raak, ’n beter werk kry, ’n lewensmaat kry of my bestaande een laat gaan of verander. Elke jaar faal hierdie voornemens met die uitsondering dalk hier en daar van ’n vasbyter. Maar hoekom faal hierdie edele voornemens dan? Jy het tog daar in die doodsnikke van die vakansie in Hartenbos jouself plegtig belowe dat dinge sal verander. Hoekom dan ervaar jy reeds in die eerste kwartaal van die jaar al die déjà vu?

Hoekom voel dit asof alles dieselfde gebly het? Jy is weer terug op dieselfde gewig, steeds by dieselfde werk, jy gaan huis toe na dieselfde persoon of net ’n kat.

Die rede is tog voor die hand liggend: Jy was nie realisties nie. Die mense met die pragtige lywe op die strand is baie jonger as jy, het meer tyd en kies om nie van die paptert te skep by ’n braai nie. Hulle het nie jou stres nie en het bes moontlik baie beter gene as jy!

Oor die werk-verander-ding hoef ons seker nie eers te praat nie. Daar is nie werk nie. Punt. Dis nou behalwe as jy baie bedrewe is as ’n ingenieur, programmeerder of chirurg. Jy kan seker jou eie onderneming begin, maar daar is genoeg biltongwinkels en gekartelde tjips by kunstefeeste bring net soveel geld in.

As die verliefdheid oor is kom jy agter jy het eintlik nou ’n tweede joppie bygekry.

Die liefde moet jy ook maar besef is werk. As die verliefdheid oor is kom jy agter jy het eintlik nou ’n tweede joppie bygekry. Ek kan jou bykans waarborg dat as Jack nie bodem toe is saam met die Titanic nie, sou sy en Rose se huweliksbootjie ook gereeld byna ondergaan. Jy kan natuurlik nou alles doen in jou vermoë om iemand van vooraf te leer ken, maar jy sal steeds geen idee hê hoe hulle tydens nuwe krisisse sal optree nie.

So, jy werk maar daardeur. Met die klem op wérk. Nou moet ek ook hier byvoeg dat sekere bliksems so gou as moontlik gelos moet word as hulle jou behandel soos drek. Niemand verdien ’n lewe van vrees by hul eie huis nie. Niemand.

Vir die res van ons: Liefde is werk. Punt. As jy nie bereid is om ’n verhouding as tweede joppie te hê nie, los dit maar eerder en word ’n enkellopende.

Ook dink hulle gereeld aan ander mense as hulle seks het met mekaar.

Op daardie punt: As jy ’n enkellopende is wat in 2018 ’n maat begeer, onthou net asseblief dat die idilliese romanse wat paartjies voorgee om te ervaar, nooit die werklikheid is nie. Hulle het bes moontlik in die motor op pad na jou afspraak baklei of sal op pad terug. Ook dink hulle gereeld aan ander mense as hulle seks het met mekaar. Solank jy besef dat verhoudings nie gaan wees soos in die flieks nie. Flieks is net 90 minute lank, nie jare nie.

Gelukkig is daar uiteindelik die kinders om oor te praat as die geselskap in ’n verhouding opdroog. O ja, en as jy bang is om alleen dood te gaan: Die kanse hiervoor is ongelukkig baie goed, al is jy in ’n verhouding.

So wat sal realistiese voornemens vir 2018 wees? Wat kan jy verander as jy dan nou so graag nie weer déjà vu wil beleef hierdie jaar nie? Hier is ’n voorstel: Lig jouself in en verander jou sienswyse. Socrates het gesê dat hy net een ding weet en dit is dat hy niks weet nie. Maar ons kan ten minste probeer, of hoe? Miskien kan jy begin deur jou eie sienswyses te meet aan bestaande kennis. Is dit byvoorbeeld in enige geloof aanvaarbaar om te jubel oor ’n motorongeluk net omdat jy nie van die betrokkenes hou nie?

Is ’n lewe van voortgesette haat teenoor mense wat verskillend van jou is of van jou verskil goed vir jou gesondheid? Terloops, is hulle werklik so verskillend van jou?

Kom ons verander ons vlakke van onkunde. Kom ons wend ’n poging aan in 2018 om meer uit te vind.

Ek waarborg jou dat 2018 dan vir jou ’n goeie jaar sal wees!

*Rian van Heerden is ’n TV-persoonlikheid en radio-omroeper.

Meer oor:  Rian Van Heerden  |  2018
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.