Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rian van Heerden: ‘Sensuur se moer!’

Tieties was aanvaarbaar, maar tepels was verbode. Ons is die resultaat van sensuur, skryf Rian van Heerden. 

Rian van Heerden. Foto: Christiaan Kotze

Bang mense sensor.

Hulle vrees om mag te verloor wat gebou is op die onkunde van mense wat weens hul gebrek aan kennis na die maghebbers opkyk vir hulp en leiding.

Kennis is mag, jy sien. Gee die gepeupel toegang daartoe en jy is verdoem.

Laat hulle glo die maan is van kaas en dat jou welsyntoelaes van jou af weggeneem sal word as enigiemand anders regeer.

Laat hulle glo niemand anders is ongelukkig nie, dat dit eintlik net jy en ’n paar ander is. Verder gaan dit sha-na-na.

Niemand is só kwaad dat hulle simbole van jou mag aan die brand sal steek nie. Niemand is só kwaad dat hulle hul eie kinders se toekoms op die spel sal plaas om met ’n inferno van skoolgeboue jou aandag te probeer kry nie.

Gaan stem weer vir daai party waarvan ons die refrein keer op keer herhaal: “Ons het jou bevry! Sonder ons sal jy ly!”

Ons ken sensuur. Ons, wat op die plaas gebly het voor die rewolusie, voordat die varke in die plaashuis ingetrek het. Toe was dit maar dieselfde ding. Eintlik was dit erger. Plate is gekrap, boeke is verban. Ons is vertel dat daar vroue en kinders by Bloedrivier was en dat die vroue die gewere help laai het.

Alles was sha-na-na.

God was aan ons kant. Wie kon dan teen ons wees?

Ons trek in die donker aan. Ons praat van tollies en moemfies. Ons het geen swart vriende nie. Ons is die resultaat van sensuur.

Die gras was nog groen aan hierdie kant en jy het nie nodig gehad om oor hoë mure te loer om dit te sien nie. Maria het die huis skoongemaak en eenkeer ’n jaar iewers heen verdwyn. F*k weet waarheen. Het sy kinders gehad? F*k weet.

Iewers was daar ’n oorlog, maar dit was op die grens van ons eie gebied. Ons het eintlik maar net ons eie grense beskerm, jy sien. Nooit was ons verder noord nie. Maar daardie grense moes ons bewaak, want daai terroriste wou allerhande obsene dinge met ons vroue en girlfriends doen. En dan God die see injaag. Ons God. Daardie Een wat nie vir Homself kon baklei nie.

Uiteindelik het hulle besluit ons kon TV kry, maar ook net-net TV. Met oorgeklankte Duitse programme en Uit en Tuis. Ons het vir hase en mense met cowboy-hoede op die skerm gestaar en op die nuus gekyk na die beeld van die weerman waaroor name sou rol van dooie soldate.

Gereeld sou nuuslesers met groot brille en kantpadjies vertel van terroriste wat weer iewers aangekeer of doodgeskiet is. “Lekker!” sou ons sê en nog 'n sluk van ons sodastream vat.

Tieties was aanvaarbaar, maar tepels was verbode. Ons sou hulle met cutex remover op die foto’s te siene probeer kry en het gewonder hoe hulle lyk.

Ons moes op die radio hoor hoe iemand instaan vir Fanus, want hy’t oor ’n ou gepraat wat sonder sy broek op die Brooklyn-bus was.

Ons was niks gewoond nie. Ons stroom steeds na konserte van stokou oorsese sangers wat met hulle laaste kragte verhoë opsukkel. Ons loop steeds in die boekwinkel boeke raak wat ons nooit mag gelees het nie en voel agterlik omdat die wêreld dit al lankal ken.

Ons trek in die donker aan. Ons praat van tollies en moemfies.

Ons het geen swart vriende nie.

Ons is die resultaat van sensuur.

Daar, in die plaashuis, het die nuwe inwoners die ou boer se bloudrukke gekry. Stadig maar seker het hulle weer begin praat van sensuur. Hulle probeer dit as ’n goeie ding aan ons verkoop. Hulle besef nou dat jy daarmee mag behou as die mense begin onrustig raak.

Ons sluk nie weer nie. Ons moet seker maak niemand sluk weer daaraan nie.

Ek salueer die agt SAUK-joernaliste. Ons staan saam met julle.

Sensuur se moer.

Meer oor:  Rian Van Heerden  |  Sauk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.