Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rian: Wat’s aan die ander kant?

Hy hoor deesdae van so baie mense wat doodgaan dat hy nie kan help om oor die hiernamaals te wonder nie, skryf Rian Van Heerden.

Rian van Heerden

Ek weet nie hoekom ek die afgelope tyd so baie oor die dood dink nie. Miskien moet ek Facebook die skuld gee wat my die afgelope tyd byna daagliks laat weet wanneer iemand gesterf het.

Soms is dit ’n moeder, ander kere ’n vriend, selfs ’n geliefde troeteldier hier en daar. Ek kom agter dat mense byna onmiddellik hul vriende op Facebook in kennis wil stel van iemand of iets se heengaan.

Hiervoor kan ons hulle natuurlik nie blameer nie aangesien ons in tye van absolute rou soveel emosionele ondersteuning as wat ons kan probeer kry. Al is dit van vreemdelinge . . .

Ek wonder egter al lank wat volgende gebeur. Wat gebeur aan die ander kant?

Terwyl die familie en vriende aan hierdie kant begrafnispolisse deurlees, kiste uitkies, roudienste reël en andersins besig probeer bly om hul smart ’n wyle te besweer – wat gebeur met dit wat jou jou gemaak het? En noem dit nou maar persoonlikheid, gees, siel of spook, waarheen gaan jy?

Verskillende gelowe het natuurlik verskillende teorieë. En dit hang af met wie jy gesels, soms is daar 72 maagde betrokke, ander kere harpe, wolke en skape, en soms gaan jy sommer direk terug na die begin toe – in ’n splinternuwe vorm!

En dit maak nie saak watter geloof ons aanhang nie, ons wonder oor die praktiese implikasies van wat presies die ander kant behels.

Ons almal wonder maar. Diep binnekant. Al erken jy dit nie noodwendig in ordentlike geselskap waar jy dalk geoordeel mag word nie.

En dit maak nie saak watter geloof ons aanhang nie, ons wonder oor die praktiese implikasies van wat presies die ander kant behels.

Is 72 maagde byvoorbeeld werklik ideaal? As hulle niks weet nie, gaan dit dan nie al jou energie vat om hulle te onderrig nie? En wat as hulle onderling stry of teen jou saamspan? Maar ook: Wat as jy ’n vrou is? Waarheen gaan jy as jy nie meer ’n maagd is nie?

En wat is die storie met die harpspelery? Hoekom nie ’n ander instrument nie? En hoe presies hou jy groot wit vlerke skoon as jy nie eers jou wit skoene kan skoon hou nie?

Ek persoonlik hou van die gedagte dat ons weer al ons geliefdes sal sien. Maar daar is mos maar ook diegene wat jou in lewe grensloos geïrriteer het, al was hulle goeie mense.

En ek wonder oor tyd. Die ewigheid is ’n lang tyd. Wat gaan jy doen met al daardie tyd?

Beteken dit die ewigheid is saam met hulle ook?

En ek wonder oor tyd. Die ewigheid is ’n lang tyd. Wat gaan jy doen met al daardie tyd? Ek is klaar verveeld ná die eerste week van vakansie as ek niks het om te doen nie.

Geestelike leiers sal sê ons moenie te veel vrae vra nie, ons sal verstaan wanneer ons daar kom.

Maar dis mos maar menslik om te wonder, of hoe? Dis tog hoekom mense se vertellings oor sogenaamde ander-wêreld-ervarings so fassinerend is. Ons wil weet wat om te verwag. Gaan jy steeds bles wees en dik, of gaan alles – insluitend jy – in die hemel mooi wees?

Gaan skoonheid enigsins belangrik wees en as dit nie is nie, wat gaan jy hê om na te kyk?

Die vraag is egter of jy die kans wil waag om in niks te glo nie net om aan die ander kant uit te vind jy moes dalk.

Die een ding wat ons weet, is dat niemand weet nie. Nie eens die mense wat die sogenaamde “nadoodse” ervarings gehad het nie, want hiervoor is daar talle biologiese verklarings.

Die vraag is egter of jy die kans wil waag om in niks te glo nie net om aan die ander kant uit te vind jy moes dalk.

Studies wys ook dat jy gelukkiger is as jy in iets glo. Dit temper net so ’n bietjie die druk en verantwoordelikheid.

Waarin glo ek, vra jy?

Wel, ek is oortuig daarvan dat die fisieke nie die einde is nie. Selfs die wetenskap stem saam dat energie nie deur ons geskep of vernietig kan word nie. Dit verander net van vorm. Wat hierdie vorm is, sal elkeen van ons uiteindelik uitvind. Of nie bewus wees daarvan nie. Ek glo egter in Iets meer.

Een ding weet ek egter. Ons moet soveel as moontlik strewe na ’n stukkie hemel op hierdie aarde as wat ons kan.

Maar dit is elkeen se besluit hoe hulle, hul lewens wil rig om hierdie proses glad te laat verloop.

Een ding weet ek egter. Ons moet soveel as moontlik strewe na ’n stukkie hemel op hierdie aarde as wat ons kan.

Ons moet strewe na vrede, vreugde en ware geluk. Ons moet ander behandel soos ons behandel wil word en help waar ons kan.

Die hiernamaals sal dan vir homself sorg.

* Van Heerden is ’n TV-persoonlikheid en radio-omroeper.

Meer oor:  Rian Van Heerden  |  Dood  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.