Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rian: Winnie en die ooms en tannies van apartheid

Daar was beslis nie net een weergawe van Winnie Madikizela-Mandela nie, net soos daar nie net een weergawe was van die ooms en tannies wat apartheid in stand gehou het nie, skryf Rian van Heerden.

Rian van Heerden

As jy gedink het dat mense eendimensioneel is, maak jy ’n groot fout.

Daar is twee kante aan elkeen van ons en dit maak nie saak hoe jy daarteen probeer stry nie, die twee kante is aanwesig en ding die heeltyd met mekaar mee.

Wie is dan werklik helde en wie is skurke?

Ons is eintlik ’n bietjie van albei, want jy sien, ons is net mense. Die onlangse debat oor Winnie Madikizela-Mandela het die kollig weer op hierdie dualisme geplaas. Was sy ’n heldin of was sy ’n skurk? Dis antwoord hang gewoonlik af van wie jy vra.

Maar ek kan jou een ding verseker, as jy destyds daardie jong maatskaplike werkster by die Baragwanath-hospitaal gevra het of sy dink dat sy ooit sal sê: “Together, hand in hand with our boxes of matches and our necklaces we shall liberate this country”, sou sy jou bes moontlik nie geglo het nie. Maar intussen het baie water in die see geloop vir die pragtige jong Winnie, of hoe?

Dan was daar natuurlik die voortdurende bekommernis oor haar kinders en eggenote van wie sy geen nuus gekry het nie. Sy was woedend en iewers het sy geknak . . .

Daar was die isolasie in Brandfort in die Vrystaat, maar, nog veel erger, die eensame aanhouding vir 491 dae teen die einde van die 1960’s en die begin van die 1970’s. Dan was daar natuurlik die voortdurende bekommernis oor haar kinders en eggenote van wie sy geen nuus gekry het nie. Sy was woedend en iewers het sy geknak . . .

Regverdig dit die Mandela United Football Club, Stompie en brandende buitebande om nekke? Natuurlik nie. Maar daar was beslis nie net een weergawe van Winnie nie, net soos daar nie net een weergawe was van die ooms en tannies wat apartheid in stand gehou het nie.

Daar is byvoorbeeld heelwat stories van tannie Elize Botha wat self sou sop en pannekoek vat vir die soldate wat buite Libertas wag gehou het.

Die Burgerlike Samewerkingsburo se lede sou braai en jag en see toe gaan oor Desember waar hulle hul kinders sou help om sandkastele te bou (en hulle sou veral geweet het hoe om hierdie tipe konstruksie te maak!)

Later sou ek ook Eugene Terre’Blanche en sy vrou, Martie, ontmoet en saam met hulle ystervarkies en koeksisters geniet.

Ek onthou die ander dag hoe ek as jong regstudent destyds saam met my pa van hierdie kalante op ’n sakevergadering ontmoet het en veral een van die mees omstrede figure baie aangenaam gevind het.

Later sou ek ook Eugene Terre’Blanche en sy vrou, Martie, ontmoet en saam met hulle ystervarkies en koeksisters geniet soos in die voorhuis van ’n doodnormale landelike gesin. Ek sou ondanks al die aanklagte teen hom en die stories van wreedhede teen sy medemens steeds sy grappies geniet.

Ek het veroordeelde dwelmhandelaar Glen Agliotti as uiters sjarmant ervaar en besef dat ek enige tyd na sy huis toe sal gaan vir ’n braai. So ook die oorlede eienaar van Teazers, Lolly Jackson.

Ons oordeel en veroordeel, ons verwag optrede by bekendes wat eintlik nie strook met die ware aard van die mens nie.

Ek het met moordenaars onderhoude gevoer en die ander kant gesien, ek het met ikone gesels en hul voete van klei ervaar.

Dis waarom ’n mens nooit jou helde moet ontmoet nie . . .

Ons oordeel en veroordeel, ons verwag optrede by bekendes wat eintlik nie strook met die ware aard van die mens nie.

Dat niemand egter inherent goed of sleg is nie, is egter ’n voldonge feit. Selfs monsters is mense en selfs mense kan monsters wees.

Ons kan uiters streng wees met onsself wanneer ons iets doen wat ander as onbybels sal beskou. Ons versuim om te besef dat die ander kant onlosmaaklik deel is van ons. Watter kant wen of verloor in ’n spesifieke situasie hang af van verskeie faktore en ongelukkig is dit baie moeilik om te voorspel.

Dat niemand egter inherent goed of sleg is nie, is egter ’n voldonge feit. Selfs monsters is mense en selfs mense kan monsters wees.

So doen die moeite om die hele storie te ken – besluit dan of jy ’n traan wil stort oor Winnie.

* Van Heerden is ’n TV-persoonlikheid en radio-omroeper.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.