Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rituele skep vertroudheid, geborgenheid
Prof. Hennie van Coller

Sportsterre se gedrag is dikwels ritualisties. So het rubyspelers wat aanlê pale toe, elkeen sy ritueel. Danny Cipriani, Owen Farrell, Beauden Barrett of Damian McKenzie se getrippel, intense gestaar, afgemete treë en grynslag is welbekend aan elke rugbyliefhebber.

Novak Djokovic se eindelose gehop van die bal is ’n ritueel wat hy tekens herhaal en wat al tel-kemale aanleiding gegee het tot strafpunte om-dat hy die tydsbeperking oortree. Rafael Nadal weer, se ritueel bestaan uit hare platvee en dan ’n getrek aan plekke wat mans ongemaklik laat rondskuif en vrouens weer belangstellend laat vooroor leun om beter te sien.

Die openbare lewe is vol rituele: die opening van die parlement, inhuldiging van regters en politici, gradeplegtighede met prosessies. Dit is welbekend dat enige inisiasie, of dit nou as groentjie in ’n sportspan of skool of by ’n geheime organisasie is, ritualisties is. Dit is asof die ritueel die individualiteit ophef en die kollektiwiteit beklemtoon; opgaan in ’n groter verband waardeur ook ’n geborgenheid ontstaan.

Maar dis veral in religieuse praktyke waar rituele dikwels voorkom, of dit nou die sakramente geld of selfs net die uitspreek van die seën. In ons huidige tyd waarin profaniteit hoogty vier, is dit juis rituele wat baie mense vandag op-nuut bekoor. Mense besoek weer kerke met ’n ritualistiese inslag omdat dit vir hulle voel of die byna mistieke belewing van spiritualiteit die afstand na God oorbrug.

Herhaling skep vertroudheid en sekerheid; vir sportsterre die vertroue in dit wat al so dikwels suksesvol gedoen is.

Maar dit is nie net mense wat rituele skep nie; ook in die diereryk is baie gedrag, soos paring, bykans ritualisties en gaan dit soms gepaard met pronk of patroonmatige optrede. En hiermee sien ’n mens reeds van die belangrikste kenmerke van rituele: herhaling en patroon- matigheid.

Herhaling skep vertroudheid en sekerheid; vir sportsterre die vertroue in dit wat al so dikwels suksesvol gedoen is. Soms word beweer dat rituele ons weer in kontak bring met ons onbewuste en die oer- of argetipiese ervarings wat daar verborge lê; dis asof ons die optrede van ons voorouers herhaal en met hulle verbind word.

Mense is dikwels onbewus van hul ritualis-tiese gedrag: die gekug van ’n nuusleser, die vingertjie van ’n weervoorspeller, die pruil- mondjie van Keira Knightley, die nadenkende vryf oor die stoppelbaard . . .

In elkeen van ons se lewe speel rituele ’n rol. Dit is al opgesluit in gedragspatrone van herhalende aard: Dinsdae word vis geëet, Vrydae biltong; Saterdae pizza of pasta en op Sondae word vuur gemaak en gebraai. En manne wat dink hulle is topbraaiers, pak selfs die hout – nes offervure – op ritualistiese wyse!

Naweke is dit tyd vir mý koffie-ritueel. Dan maal ek my koffiebone, meet die gekookte water presies af en giet dit druppelsgewys op die ge-maalde koffie. So voel ek telkens tevrede en geborge in die geselskap van voorsate.

Meer oor:  Hennie Van Coller  |  Sport  |  Godsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.