Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Roepman en bewaker van oggendgeheime

Op Touwsrivier hoor ek van Koos Swart, ’n gewese roepman. Ek ry na hom toe, verby die hoërskool wat leeg staan. Die stasiegeboue is afgebrand.

Touwsrivier is ’n steierende dorp sedert die Spoorweë, wat Transnet geword het, in die vroeë 1990’s begin padgee het. Die Douglas-hotel is vir altyd toe.

Dana Snyman

Koos woon in ’n propperse ou rooibaksteen-spoorweghuis. Sinkdak. Silwer hekkie.

“Ek was 16 toe ek op die Spoorweë begin het. In ’74,” bevestig hy. “Tot en met ’93 was ek ’n roepman. Al die jare. Hier.”

Dit was die roepman se werk om die treindrywers en die stokers te gaan wakker maak sodat hulle betyds vir hul skof kan aanmeld. ’n Laatkommery is nie tóé geduld nie.

“In die wind, in die reën, in die sneeu, jy doen jou werk. Jy klop meestal aan die drywer se kamervenster.” Koos slaan soms oor na die teenwoordige tyd wanneer hy oor daardie jare praat. “Jy het jou boekie by jou. Hy moet daai boekie eers teken.”

Hier het toe meer as 1 000 spoorwegmense op die dorp gewoon. Nou woon hier skaars tien Transnet-werkers. Die storie van soveel ander dorpe in die land. Noupoort. De Aar. Springfontein. Coligny.

“Kom ek wys jou.” Koos stap by sy motorhuis in. “Daarsy!” Teen die muur leun ’n dikwielfiets met ’n blinkgesitte saal – die fiets waarmee hy sy werk gedoen het. ’n Roepman het altyd met ’n fiets gery, stil deur die nag, terwyl sy flitslig die donker voor hom wegstoot.

Koos bied aan om my die roete te gaan wys wat hy deur die dorp gery het. Ons ry sommer met sy geel Ford Cortina-bakkie.

Nou woon hier skaars tien Transnet-werkers.

’n Roepman het ’n dorp se geheime beter as enigeen geken. Hy het gesien wie kuier by wie se vrou wanneer wie met die trein watter vertes in is. “Daar was altyd maar sulke dingetjies.” Koos glimlag skuinserig, “maar ek praat nie daaroor nie. Nee, nee, ek sal nooit daaroor praat nie.” Hy beduie na ’n leë huis op die hoek. “Hier het oom Japie Jacobs­ gebly. Soms het hy vir jou koffie gegee wanneer jy hom gaan wakker maak.” Party manne kon moeilik raak wanneer jy teen sy venster klop. “Hy skel jou. Wat soek jy hier? hy vir jou. Hoekom klop jy so hard?”

Ons ry deur die dorp en Koos praat asof hy steeds Touwsri- vier se roepman is. “Daar bly oom Rassie Erasmus. Daar oom Christie Coetzee.” Een ná die ander wys hy die huise uit. “Daar is Jan Coetzee. As sy hond jou wil byt, gooi jy maar ’n klip op sy dak. Daar’s Giepie van Zyl, maar Giepie is al dood. Daar . . .”

Soveel roepmanne is ook al finaal weg. Nêrens is meer werk vir ’n roepman nie. Jy kan nou sommer snags op jou selfoon gebel word. Buitendien, die treine in die land loop lankal nie meer betyds nie. Dis nou dié treine wat nog loop.

Koos begin weer terugry na sy huis toe. “Ek hoop ek kon darem vir jou iets gee wat jy nie gehad het nie,” hy toe ons by sy hek indraai. “Ek hoop jy kan iets daarmee maak.”

Meer oor:  Dana Snyman  |  Meningsberig  |  Deurloop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.