Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rooi vlag gee steeds aanstoot
Johannes Froneman.

Daar word soms ligweg oor die “rooi gevaar” van destyds gepraat. Net nog ’n misplaaste vrees waaraan (rassistiese) wit mense gely het? Allermins.

In die 1960’s was Suid-Afrika midde-in ’n groter ideologiese stryd wat metterwyl ook gemanifesteer het in die grensoorlog en binnelandse onrus. Die stryd teen apartheid het vermeng geraak met ’n internasionale koue oorlog, met die VSA en die USSR as hoofrolspelers.

Vir ’n jonger geslag is selfs die afkorting “USSR” Grieks en word ons eie geskiedenis van daardie dekades verkeerdelik gereduseer tot ’n stryd tussen onregverdige wit oorheersing en legitieme swart eise om volle demokratiese regte.

Wat ’n gebalanseerde oordeel oor daardie tyd verder bemoeilik, is die regering van destyds se reaksie op die komplekse mengsel van interne en eksterne faktore, soos wit vrese, swart eise en kommunistiese imperialisme.

Daar is naamlik geoordeel dat daar ’n “totale aanslag” teen die land gevoer word en dat op ’n omvangryke wyse daarop gereageer moes word. Die “totale aanslag” het op ’n ongenuanseerde “totale reaksie” uitgeloop.

So het dit gekom dat enige kritiek op die politieke bestel van destyds alte gou gesien is as ’n aanslag op die staat, dus deel van die totale aanslag. Met PW Botha, lank minister van verdediging en van 1978 eerste minister (en later staatspresident), het die militêre en politieke reaksie op die gewaande totale aanslag hand aan hand geloop. In die proses het die maghebbers die kat aan die stert beetgekry en kommuniste agter elke bos gesoek.

Uiteindelik was daar inderdaad ’n stryd tussen twee standpunte: wit selfbehoud en swart bevryding.

Uiteindelik was daar inderdaad ’n stryd tussen twee standpunte: wit selfbehoud en swart bevryding. Die kompleksiteit van die USSR, dus die kommunistiese Unie van Sosialistiese Sowjet-republieke en sy handlangers uit Kuba, se aggressiewe betrokkenheid in Afrika en die aanstook van revolusies verdwyn egter in die mis van die tyd. Daarom verstaan mense wat nie daardie tyd beleef het nie, nie die belang van die val van die Berlynse muur nie.

Dit was die voorspel tot die ineenstorting van een van die mees brutale regimes wat die planeet ooit beleef het. En dit het bygedra tot FW de Klerk se besluit om op 2 Februarie 1991 die gordyn te laat sak oor die era van blanke oorheersing. Die regte gogga (Sowjet-kommunisme) wat baba bang gemaak het, was op sterwe toe dood.

Hierdie ideologie (kommunisme) het tot die dood van miljoene mense gelei – in die USSR (wat Oos-Europa ingesluit het), Suidoos-Asië en natuurlik China.

Die einste USSR het natuurlik steun aan die ANC gegee – steun wat dié beweging met graagte aanvaar het. Hulle beleid het destyds sterk Marxistiese invloed getoon, soos trouens vandag nog. Die staat moet mos alles beheer (en die party en staat is eintlik maar een). Tot vandag toe is die Russiese Federasie (as oorblyfsel van die USSR) ’n getroue bondgenoot van die magshonger ANC.

Hierdie ideologie (kommunisme) het tot die dood van miljoene mense gelei – in die USSR (wat Oos-Europa ingesluit het), Suidoos-Asië en natuurlik China.

Die ignorering van hierdie feit is een van die skokkendste voorbeelde van hoe die oorwinnaars die geskiedenis na sy smaak skryf, aanpas en verdoesel. Want oor hierdie deel van twintigste-eeuse geskiedenis sal kinders nie in Suid-Afrikaanse skole leer nie en sal geen TV-program vertoon word nie. Daarom sal kinders ook nie verstaan waarom daar so ’n vrees by hul ouers en grootouers bestaan het oor die “kommunistiese aanslag” nie.

Punt is dat dit geen opgemaakte storie was nie. Daarom neem ek aanstoot aan die nonchalante vertoon van die rooi vlag met hamer en sekel daarop. Dit is ’n simbool van onderdrukking, ’n feit wat nie deur die ANC en sy handlanger, die SAKP, erken word nie.

Prof. Froneman is verbonde aan die Noordwes-Universiteit, maar lug hier sy eie mening.

Meer oor:  Johannes Froneman  |  Politiek  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.