Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rugby het amper soos staatskaping geword

Weens die bykans ontelbare rande, ponde, euro’s of jen ter sprake het rugby amper soos staatskaping geword. Is dit nie tyd vir ’n alles-in-een-vroueafrigter nie? vra MC Botha.

MC Botha
MC Botha

Jammer manne, maar rugby is nie meer die game wat dit was nie.

Julle wat dit speel, het bedorwe brokkies geraak, en boonop geldgierig. Dok Craven het al gesê die dag as rugby nie meer ’n amateursport is nie, kan jy maar ikabod op haar naam skryf. Min sou hy kon raai hoe skrikwekkend reg hy was.

Weens die bykans ontelbare rande, ponde, euro’s of jen ter sprake het rugby amper soos staatskaping geword – ’n ieder en ’n elk wat maar net op die geringste wyse betrokke by die spel is, drom saam by die krip. En om plek te maak vir nog boeties of nefies skep die besluitnemers bloot nuwe poste.

Voorheen sou ’n Springbokspan net ’n breier nodig gehad het om wedstryde te probeer wen, en wanneer die span toer, ’n spanbestuurder daarby. Later sou ’n hulpafrigter dalk bykom, selfs ’n spandokter wat moes toesien dat ’n ou wat gelak word en net sterre sien, terug na die harde werklikheid gelawe kan word met ’n paar spatsels yswater uit ’n waterfles.

Vandag is daar nie net ’n hoofafrigter én ’n hulpafrigter nie, maar ook ’n agterlynafrigter, ’n skrumafrigter, ’n stelskopafrigter, ’n verdedigingsafrigter en ’n aanvalsafrigter. Asof hulle nie genoeg is om volledig leiding aan die hardebaarde te gee nie, het daar in die onlangse verlede ook ’n voorryafrigter en skakelpaarafrigter bygekom, terwyl daar – indien nodig – geleun kan word op die konsultant: afbreekpunte en raadgewer: kondisionering.

Daarbenewens het die span as geheel nie net assistente wat die arme oorwerkte spanbestuurder moet bystaan nie, maar ook sielkundiges, fisioterapeute en ander kenners van die menslike liggaam, want elke speler se pyn is so uniek en sy liggaam teen so ’n astronomiese bedrag aangekoop dat hy net die regte spesialis verdien. Om nie te praat nie van tatoeëerkunstenaars, mondskermontwerpers en les bes ’n mediasegspersoon wat bygestaan moet word deur ’n assistent net ingeval die baas se versameling sinnelose verskonings opdroog.

Behalwe dat geld die wortel van die rugbykwaad is, is ’n werklik neerdrukkende probleem die feit dat vroue hierdie eksklusiewe bestuursgeledere ontsê word.

Een van die dae sal daar stellig ook ’n spanhaarkapper bykom om doodseker te maak dat elke haartjie van elke speler se buitengewone haarstyl op die regte plek is wanneer hy voor TV-kameras en ’n rasende skare op die veld draf en ’n paar bokspringe maak om die vyand te wys wat in hom steek. Dit sal elke speler ook duisende spaar aan persoonlike haarsalononkoste, waarvoor hul agente die bestuur ewig dankbaar sal wees.

Behalwe dat geld die wortel van die rugbykwaad is, is ’n werklik neerdrukkende probleem die feit dat vroue hierdie eksklusiewe bestuursgeledere ontsê word. Is hier nie ’n saak uit te maak voor die gelykheidshof of die Geslagskommissie nie?

Almal weet ’n vrou kan multi-task soos geen man nie. Net soos sy op een slag kan kosmaak, die kinders met hul huiswerk help en boonop haar man wat hulpeloos toekyk, sê hoe lief sy hom het, sal sy ’n stut kan wys hoe om in ’n losgemaal behoorlik te bind, hoe om sy lyf senter te hou wanneer hy die bal toevallig in die hande kry met ’n oop doellyn voor hom, en laastens hoe om reguit te korrel vir die doelskop.

Dus ’n als-in-een-afrigter, en as daar op haar nommer gedruk word, sal sy glad nie omgee om ook die rol van trooster en mooiprater (sielkundige) of steunpilaar (fisioterapeut en dokter) te speel nie.

Geen wonder nie mans moes noodgedwonge vrouerugby uitvind om mansrugby en die gepaardgaande winste net vir hulself toe te eien.

* MC Botha is ’n skrywer wat in Hermanus woon. Dié rubriek het oorspronklik in die Hermanus Times verskyn. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Mc Botha  |  Rugby  |  Staatskaping  |  Vroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.