Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ruil die vleis en bier vir ’n bietjie liefde

Ek onthou hoe skaam ’n vriend van my was toe sy ouers, van diep in die 60, een Desember-vakansie vir hulle kom kuier het.

Dit was die eerste keer dat ek hulle sou ontmoet, hoewel ons teen daai tyd al jare lank vrinne was.

Ons het hulle by die voordeur ingewag. My vriend het kort-kort omgedraai, so asof hy iewers wou keer dat die melk oorkook. Die ongemaklike rondgetrippel van ’n man wat vermoed dat hy ’n strykyster aan vergeet het.

Sy ma het voor geloop met ’n varsgebakte ­tjoklitkoek in die hande.

Sy pa het agterna gekom met al die pakkerasies en dis tóé dat my vriend se ongemak vir my begin sin maak het. Ek’t geweet hulle is ’n soenerige familie, maar ek het nie kon dink dat sy pa hom óók sou soengroet nie – en dít, nogal, voor my.

My vriend se vrou en kinders is met dieselfde hartlikheid gegroet en ek moes koes om nie self ’n klapsoen van die oom te kry nie. (’Skuus, oom, maar ek soen nie vreemde mans nie . . . ) Dit was ’n aardige, maar bevrydende ervaring – veral vir ’n ou wie se eie familie hoogstens soene op verjaardae uitdeel.

Later jare sou my vriend onthou dat sy pa kleintyd geweier het om hulle saans voor slapenstyd te soen tensy sy ma ook in die vertrek teenwoordig was. Toe hulle ouer was en self kinders gekry het, het sy ma verduidelik dat die oom te bang was dat sy fisieke aanraking as onbehoorlik bestempel sou word. Netnou skinder die mense . . .

Vandag leef ons in ’n samelewing wat, sekerlik met reg, nogal hipersensitief is vir enigiets wat ruik na die seksuele misbruik van kinders. En tog was dit vir my vreemd dat ’n pa – ten spyte van sy kinders se duidelike behoefte aan fisieke aanraking – bereid was om daardie kosbare oomblikke van hulle te weerhou.

Dit het my laat wonder oor wat ons aan seuns doen voordat hulle mans word.

Dit het my laat wonder oor wat ons aan seuns doen voordat hulle mans word.

Ek onthou self hoe ek in my kinderdae uit ­alle hoeke van die samelewing aangesê is om my op ’n spesifieke manier te gedra. Moenie huil nie. Moet nooit toelaat dat ’n vrou op jou kop sit nie. Wees ’n man, man. Ruk jou reg. Is jy ’n man of ’n muis?

Toevallig sien ek vandeesweek ’n internetvideo waar ’n Amerikaanse sosioloog sê die drie vernietigendste woorde wat ’n seun kan hoor, is: “Wees ’n man.”

Ons het die konsep van manlikheid so erg op sy kop gekeer dat seuns nie meer daarin veilig voel nie en nou heeltyd daarop uit is om hul manlikheid te probeer bewys.

Die gevolg is dat ons skole, kerke, gemeenskappe en werkplekke gevul is met manne wat maskers dra. Mans wat sensitiwiteit as ’n soort nuwe uitvindsel bestempel.

Dalk het dit tyd geword dat ons die definisie van manlikheid herskryf tot een wat nie net braaivleis en bier insluit nie, maar ook liefde, sensitiwiteit en aanraking.

Meer oor:  Ivor Price  |  Vleis  |  Menings  |  Bier  |  Liefde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.