Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ruk onderrig in SA nóú reg

Dawie wens vandag graag elke suksesvolle matrikulant in die klas van 2019 geluk! Ook aan elke onderwyser, ouer en familielid wat hiertoe meegewerk het.

Dit is egter ’n hartseer werklikheid dat baie van hierdie prestasies in baie gevalle nie te danke was aan die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel nie, maar eerder behaal is ten spyte daarvan.

Dawie

En die fanfare waarmee die sogenaamde sukses van die stelsel vandeesweek gevier is – soos na bewering weerspieël word in die slaagsyfer van 81,3% – kom helaas neer op oëverblindery.

Dié syfer sê niks oor die enorme uitvalkoers tussen gr. 1 en matriek wat, as jy dit in ag neem, vir jou ’n ware slaagsyfer van tussen 30% en 40% gee. Om nie eens te praat van die hopeloos lae slaagvereistes nie.

Die Teaching and Learning Inter­national Survey (Talis)-opname, wat verlede jaar bekend gestel is, is soos ’n emmer koue water oor dié oëverblindery. Luidens die verslag bestee onderwysers skokkend min tyd daaraan om onderrig te verskaf, is klasse hopeloos te groot en vlakke van kwalifikasie by onderwyslui te laag.

Suid-Afrikaanse skole het meer gevalle van afknouery, dwelm- en alkoholverwante voorvalle, diefstal en vandalisme as ander lande.

As die regering nie die situasie doelgerig en met sterk, geloofwaardige leiding probeer takel nie, is nóg ’n verlore generasie, vier dekades ná 1976, ’n onteenseglike werklikheid. Die punt is dat ware bevryding nie alleen lê in die afwesigheid van ’n verdrukkende staat nie. Ware bevryding lê ook in goeie onderwys as middel tot volhou­bare werkskepping en ekonomiese groei.

Verlede jaar het die regering sowat R262 miljard vir onderrig begroot – sy enkele grootste uitgawe. Dis proporsioneel ook meer as wat lande soos Amerika, Brittanje en Duitsland op onderrig uitgee. Die werklikheid is egter dat waarde vir geld eenvoudig nie op dié enorme belegging gekry word nie.

Om dít om te keer sal die toerekenbaarheid van skoolhoofde aansienlik verhoog moet word, maar helaas bly die onderwysvakbond Sadou die onderrigstelsel gyselaar hou.

Weet maar wis en seker daar sal geen nuwe daeraad wees as die onderwysstelsel nie nou – ná ’n kwarteeu van ANC-bewind – grondliggend reggeruk word nie.

Dié vakbond dwarsboom deurlopend pogings om hoofde vir die prestasie van hul skole verantwoordelik te hou.

Hy bedryf verwoestende stakings en skop vas teen alle maatreëls om gesonde bestuurspraktyke, groter dissipline, monitering en gehaltebeheer deur inspekteurs gevestig te kry.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het al by herhaling te kenne gegee dat Sadou se mag ingeperk moet word, maar daar kom dadels van, hoofsaaklik omdat sy nie die nodige politieke steun uit Luthuli-huis kry nie.

Het pres. Cyril Ramaphosa die politieke moed om sy minister van onderrig se hand te sterk teen die brekers?

Die groot probleem is dat hy en sy konstitusionaliste in ’n magsoorlog gewikkel is met die populiste in die ANC, van wie Ace Magashule, sekretaris-generaal, nou die voorste veghoender geword het. Die oorlog sal in die aanloop tot vanjaar se ANC-beleidskonferensie met hernude felheid gevoer word.

Ramaphosa moet hierdie faksie, wat helaas in alliansie staan met die magsbemiddelaars in Sadou, verslaan voordat ’n beduidende verbetering in die land se onderrig kan plaasvind.

Gedurende die geveg tussen Jacob Zuma en Thabo Mbeki is dikwels gesê die stryd gaan om die siel van die ANC. Dis nou al veel later in die dag en die stryd is bepaald nie meer oor iets abstraks soos die siel van die ANC nie. Dit gaan oor ons oor­lewing as ’n land.

Weet maar wis en seker daar sal geen nuwe daeraad wees as die onderwysstelsel nie nou – ná ’n kwarteeu van ANC-bewind – grondliggend reggeruk word nie.

Meer oor:  Dawie  |  Meningsberig  |  Matriekuitslae
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.