Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rus daar ’n vloek op ’95 se wenspan?

Rus daar dalk ’n vloek op die Springbokspan wat in 1995 die Wêreldbeker gewen het? wonder Willem Fransman jr. nadat Naka Drotské geskiet is.

Rudolf Straeuli, Hannes Strydom, Kobus Wiese, Chris Rossouw en Japie Mulder se vreugde ken geen perke nie ná die Bokke se oorwinning oor die All Blacks in 1995 se Wêreldbeker-eindstryd. Foto: Argief

“Drotské geskiet: ‘My boetie is my held.’ ”

Só lees die hoofopskrif van Saterdag 1 Desember se Die Burger. Naka Drotské, oud-Springbokhaker van die triomfantelike Wêreldbekerspan van 1995, was die slagoffer van ’n aanval op ’n kleinhoewe waar hy saam met sy oudspanmaat Os du Randt en hul gesinne gekuier het.

Algehele verbystering spoel oor my as ek koorsagtig verder lees. En soos ek lees, laai die woede nog meer op. ’n Mens is wraggies nêrens meer veilig nie.

Naka Drotské, ’n lid van die Springbokke se Wêreldbeker-groep in 1995, is in ’n huisroof geskiet. Foto: Argief

Met die lees van die berig het ek ook opnuut besef dat ’n artikel wat ek ’n paar jaar vroeër geskryf het, nie te vergesog was nie. Want waar daar ’n rokie is, is daar ’n vuurtjie!

Dié artikel het bespiegel dat daar moontlik ’n vloek op die Wêreldbekerspan van 1995 rus.

Ek het dit kort ná Ruben Kruger, “Die Stille Sluiper”, se dood aan breinkanker geskryf. Daarin het ek in geen onduidelike woorde geskryf dat ek meen daar rus moontlik ’n vloek op daardie span van Francois Pienaar.

Soos my oog die dag van Kruger se begrafnisdiens die oudspelers saam met die kameralens gevolg het, het dit vir ’n wyle op ’n droewige Joost van der Westhuizen gerus. Glibberig, soos ’n paling, was hy in sy speeldae.

Sy moedige stryd teen motorneuronsiekte het later weer hul bewondering teruggewen.

Sy ontkenning dat hy dwelms gesnuif en saam met ’n vreemde vrou op ’n bed gelê het, kom weer skielik in my geheue op. Joost se latere biegsessies in November 2009 word nog goed deur sy getroue bewonderaars onthou.

Sy moedige stryd teen motorneuronsiekte het later weer hul bewondering teruggewen.

Op sy begrafnisdiens op Vrydag 10 Februarie 2017 op Loftus Versveld is Joost deur Billy Beaumont, voorsitter van Wêreldrugby, geloof as dié een speler wie se styl die “maatstaf vir die moderne speler” gestel het.

Elke outjie maak ’n foutjie, sou Edwill van Aarde destyds gesê het wanneer hy ’n kriekettelling verkeerd deurgegee het. Joost is beslis vir sy “foutjie” vergewe.

Francois Pienaar (links) by Joost van der Westhuizen se roudiens in 2017. Foto: Argief

Dan was daar ons eie “Brown Bomber”, Chester Williams. Sedert daardie historiese sege het Chester en sy jeugliefde, Theresa, se huwelik op die rotse geloop. Hy is met Maria getroud en die egpaar is met ’n pragtige tweeling geseën.

Japie Mulder, die een senter, en sy gesin is in ’n motorkaping vir etlike ure deur die kapers aangehou en getraumatiseer. Hannes Strydom, die een slot, het in 2014 skedelbreuk opgedoen in ’n mislukte kapingspoging. ’n Klip wat die boewe deur die motorruit gegooi het, het hom teen die linkerkant van sy kop getref en hy is ook met ’n skerp voorwerp in die blad gesteek.

Die “Happy Hooker”, oftewel James “Bullet” Dalton, was berug daarvoor dat hy op die rugbyveld sy vuiste die praatwerk laat doen het. Ongelukkig het hy later gereeld weens die verkeerde redes die hoofopskrifte van koerante gehaal. 

Die haker Chris Rossouw is ook in ’n stadium vir limfoomkanker behandel. Rossouw is juis by die span betrek ná Dalton se skorsing vir vuilspel in Port Elizabeth teen Kanada.

Die gevierde afrigter van die span, Kitch Christie, was ’n slagoffer van bloedkanker.

Kitch Christie, afrigter van 1995 se Wêreldbeker-wenspan, was ’n slagoffer van kanker. Foto: Argief

Krynauw Otto, een van die slotte, se toetsloopbaan het in 2000 in ’n wedstryd teen Australië tot einde gekom toe hy ’n ernstige breinbesering opgedoen het.

Diegene met ’n goeie geheue sal seker ook onthou dat die vurige vleuel James Small stormagtige verhoudings met die modelle Christina Storm en Loui Fish gehad het. En het die vloek wat op 1995 se Wêreldbekerspan rus iets te doen gehad met sy selfmoordpoging in 2001?

Willem Fransman jr.

Du Randt het die onbenydenswaardige eer dat hy voor die Wêreldbeker-toernooi van 2011 as Peter de Villiers se skrumdokter afgedank is nadat hy een aand glo te lekker gekuier het.

Joel Stransky, die man wat daardie epogmakende wenskepdoel in die eindstryd teen Nieu-Seeland deur die pale gejaag het, het in Maart 2017 in die Cape Epic-bergfietswedren baie hard geval.

’n Gebreekte rib het ’n gat in sy een long gesteek en dit het tot inwendige bloeding gelei.

Dit was egter sy bebloede gesig wat aanhangers die grootste laat skrik het.

Al dié wedervarings wat lede van 1995 se Wêreldbeker-wenspan gehad het, laat dit lyk of daar kennelik ’n vloek op hulle rus.

As jy dink dat ek swartgallig is, sal ek antwoord soos oom Boy Louw van ouds: “Looks at the score board!”

Bronne: “Daar’s ’n vloek op 1995 se span”, Son, 28 Februarie 2010; “Totsiens nr. 9”, Die Burger, 7 Februarie 2017.

* Willem Fransman jr. is ’n skrywer en vryskutjoernalis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.