Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rusland daag Navo nou selfs onder water uit

Die Noorse televisiekanaal NRK het vandeesweek ’n berig gepubliseer wat tussen al die ander belangrike wêreldnuus weggeraak het. Dis nietemin belangrik genoeg om die aandag daarop te vestig.

Rusland, so berig die NRK, het pas met die grootste reeks duikbootoefeninge in die Noord-Atlantiese Oseaan sedert die einde van die Koue Oorlog begin. Blykbaar het 12 duikbote, waaronder vier konvensioneel aangedrewe en agt atoombote, vandeesweek die vlootbasis in Seweromorsk naby Moermansk in die uiterste noorde van Rusland verlaat vir die oefening, wat glo twee maande gaan duur.

Die doel van die oefening, luidens die berig, is om so diep en onopvallend moontlik te vaar en alle Navo-pogings om die bote op te spoor te fnuik. Uiteindelik wil die Russe vasstel of hy in oorlogsomstandighede operasies naby die Amerikaanse en Kanadese kus kan uitvoer sonder om te veel verliese te ly.

Luidens ander berigte het ’n Russiese duikboot reeds in Oktober 2012 naby die Amerikaanse ooskus rondgevaar, maar dit is opgespoor. Daar is uiteraard niks bekend van die kere toe sulke duikbote nié opgemerk is nie.

Onder die kernduikbote is glo enkele van die Sierra-II-klas, waarvan die romp volledig van titaan vervaardig is. Dit beteken dat hy aansienlik dieper as ander duikbote kan duik en dus moeiliker opgespoor kan word.

Luidens Westerse militêre webwerwe kan die Sierra-II tot 550 m diep duik. Ter vergelyking: Die Duitse tipe 209-1400, waarvan die Suid-Afrikaanse vloot drie het, is ontwerp vir ’n maksimum diepte van 300 m – iets wat vir die meeste Westerse duikboottipes geld.

Die duikbote is ook met missiele toegerus. Hulle sal dus nie net kommersiële skeepvaart aan bande kan lê nie, maar in beginsel ook verwoesting op land langs die kus kan saai.

’n Woordvoerder van die Noorse weermag het gesê Navo volg die operasie. Rusland het nie die oefening bevestig of ontken nie.

Wladimir Poetin se doel, meen kenners, is die herstel van die Sowjetunie – of dan die grootste deel daarvan.

Dit wek die indruk dat Rusland hom in die geval van ’n gewapende konflik met Navo gereed maak vir ’n herhaling van Duitsland se pogings in die Eerste en Tweede Wêreldoorlog om Brittanje se maritieme lewenslyne te sny.

As Rusland en Navo aan mekaar spring, sal Europa grotendeels afhanklik wees van versterkings en voorraad uit Noord-Amerika, en dis logies om te aanvaar dat Rusland dit sal probeer voorkom.

Rusland probeer onder leiding van pres. Wladimir Poetin om die yslike terugslag wat hy gely het deur die uiteenval van die Sowjetunie en die verlies aan sy dik verdedigingsgordel in Sentraal-Europa te oorkom.

Sy uiteindelike doel, meen kenners, is die herstel van die Sowjetunie – of altans die grootste deel daarvan. In die proses word Navo steeds meer uitgedaag. Vandeesweek se groot duikbootoefening is deel daarvan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.