Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rusland en die Weste nou nóg meer vyandig

Enige twyfel oor wie vir die neerskiet van vlug MH17 verantwoordelik was, moet ná dese uit die weg geruim wees. Vandeesweek het ’n internasionale kommissie van ondersoek ná jare se intensiewe werk vier individue vir die neerskiet verantwoordelik gestel.

Om die geheue te verfris: Op 17 Julie 2014 het ’n Boeing 777-200 van Malaysian Airlines van die Schiphol-lughawe buite Amsterdam op pad na Kuala Lumpur met 298 mense aan boord opgestyg. ’n Paar uur later – bo die burgeroorloggeteisterde Oos-Oekraïne – het ’n Russies-vervaardigde Boek-lugafweermissiel die Boeing getref. Niemand het oorleef nie.

Die Russiese propaganda het onmiddellik volspoed aan die gang gekom. Dit was ’n Oekraïense missiel, is gesê. Of ’n Oekraïense bomwerper (wat nie eens daardie hoogte kan haal nie). Dit was Oekraïense sabotasie. En nog ’n swetterjoel ander verklarings, almal bedoel om die wêreld te verwar.

Die kommissie van ondersoek het bestaan uit Nederlandse, Belgiese, Australiese, Maleisiese en Oekraïense deskundiges. Russe is nie gevra om op die kommissie te dien nie – individue wat deur die Russiese regering benoem is, is as onbetroubaar gesien.

Hul verslag is gegrond op ’n ondersoek van die wrakstukke, onderskepte selfoongesprekke van voor en net ná die ramp, asook duisende foto’s en video’s op sosiale media.

Dit het die ondersoekers in staat gestel om die roete wat die missielvoertuig uit Rusland na die dorp Znizjnje in die Oos-Oekraïne en weer terug gevolg het, noukeurig uit te pluis.

Wat blykbaar gebeur het, is dat die separatistiese Oos-Oekraïense rebelle onder lugaanvalle van Oekraïense bomwerpers deurgeloop het. Hulle het dus lugafweerwapens van Rusland gevra, en ’n voertuig met Boek-missiele is na die toneel gestuur.

Uiteindelik is dit nóg ’n spyker in die verslegtende betrekkinge tussen Rusland en die Weste.

Uit die onderskepte gesprekke kan gehoor word hoe die rebelle mekaar waarsku dat ’n Oekraïense lugmagvliegtuig op pad is. Vermoedelik was die bedoeling om dié vliegtuig neer te skiet, maar om die een of ander rede het die missiel eerder die Boeing geteiken.

Die kommissie het daarin geslaag om al die Russiese samesweringsteorieë oortuigend te ontkrag. Vier individue – drie Russe en ’n Oekraïener, wat almal bande met die Russiese militêre intelligensiediens het – gaan formeel aangekla word in ’n hofsaak wat op 9 Maart aanstaande jaar begin.

Die kans dat die vier teenwoordig sal wees, is na aan nul, want Rusland het te kenne gegee hy verwerp die kommissie se gevolgtrekkings en dat die vier nie uitgelewer sal word nie.

Die hofsaak sal dus hoofsaaklik ’n simboliese waarde hê. Dis meer om die naasbestaandes se regerverdigheidsgevoel te dien en die ondersoek van die kommissie te bevestig. Uiteindelik is dit nóg ’n spyker in die verslegtende betrekkinge tussen Rusland en die Weste.

Meer oor:  Malaysian Airlines  |  Rusland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.