Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
R.W. Johnson: Ineenstorting wag, ANC

Ulysses S. Grant, die Amerikaanse generaal wat die Noorde tot ’n oorwinning in die Amerikaanse Burgeroorlog gelei het, het op ’n wêreldtoer gegaan nadat hy twee termyne as president gedien het. In Berlyn het hy die Duitse “Ysterkanselier”, Bismarck, ontmoet, wat by Grant wou weet waarom die Burgeroorlog so verskriklik was wat menselewens betref – die ergste wat die wêreld tot op daardie stadium gesien het. “Dit moes verskriklik wees,” het Grant geantwoord. “Slawerny moes beëindig word. Ons het teen ’n vyand geveg met wie vrede nie moontlik was nie. Ons moes hom vernietig. Geen vredesverdrag was moontlik nie – slegs vernietiging.”

In 1945 is hierdie voorbeeld ook aangehaal deur genl. Dwight D. Eisenhower, die Geallieerde opperbevelvoerder. Dit was noodsaaklik dat daar by niemand enige twyfel moet wees dat Nazi-Duitsland absoluut verslaan is nie. Die wapenstilstand wat die Eerste Wêreldoorlog beëindig het, het Hitler in staat gestel om die mite te versprei dat Duitsland slegs verslaan is nadat die Jode hom “in die rug gesteek het”. Hierdie keer kon daar geen plek wees vir sulke giftige onsin nie, en ook nie vir enige nostalgie vir die Hitler-bewind nie.

Grant sowel as Eisenhower het die krag van hul vyande se mites verstaan. In die Suide was daar die romantiek van “Southern belles” wat in Romaanse herehuise op uitgestrekte plantasies gewoon het waar hulle die hof gemaak is deur jong, aantreklike offisiere van die Gekonfedereerde leër. Hierdie mite was natuurlik net moontlik danksy die legioene slawe wat die plantasies bewerk het en die jonge dames en hul kêrels bedien het.

In Hitler se mite moes die Ooste hervestig word met legioene blonde SS-offisiere sodra hy van die Slawiese volke en die Jode ontslae geraak het. Uiteindelik moes die mites geheel en al vernietig word voordat daar nuut begin kon word.

Ramaphosa se nuutste mantra is nóg ’n lugkasteel.

Onafhanklike Afrika het ook talle gevalle gesien waar gek idees ernstige gevolge gehad het.

Sékou Touré se droom van ’n outonome geldeenheid het daartoe gelei dat Guinee die frank-sone verlaat het. Dit het ’n waardelose geldeenheid, hiperinflasie en die gedwonge emigrasie van meer as ’n miljoen Guinese tot gevolg gehad. Robert Mugabe en Emmerson Mnangagwa was (en is) ewe onbesonne en dit het tot dieselfde resultate gelei. Julius Nyerere se Ujamaa-beleid het gelei tot gedwonge verskuiwings soortgelyk aan dié wat ons onder apartheid gesien is – en dit het ’n ekonomiese en humanitêre ramp tot gevolg gehad.

In Nigerië het die noukeurige streeksmagsewewig wat die nuwe regeerders by die Britte geërf het gou uitmekaar geval nadat die noorde die mag gegryp het wat gelei het tot ’n oostelike afstigting. Die drome van Moslem-oorheersing in die noorde en ’n onafhanklike Biafra het tot ’n oorlog gelei waarin miljoene gesterf het.

In Ethiopië het Mengistu Haile Mariam se Stalinistiese sosialisme gelei tot ’n volksmoord waarin meer as twee miljoen mense gesterf het. In Rwanda was sommige Hutu’s se ­sameswerings­teorieë die rede vir die Tutsi-volksmoord waarin minstens 800 000 gesterf het. Dit is miskien geen toeval dat Rwanda en Ethiopië nou twee van Afrika se suksesvolste regerings het nie. Ná alles wat hulle deurgemaak het, hou hulle hulself deesdae meestal besig met dinge wat werk.

Die Slag van Gettysburg in die Amerikaanse Burgeroorlog. Illustrasie: Getty Images

Die bogaande is alles net ter verduideliking waarom dit so kommerwekkend is dat ons leiers rondspeel met fantasmagoriese idees terwyl die land in die gesig gestaar word deur ’n eksistensiële krisis wat so erg is dat finansiële ontleders nou openlik praat van ’n moontlike mislukte Suid-Afrikaanse staat.

Van die gekste voorstelle kom van pres. Cyril Ramaphosa: ’n Nuwe “slimstad” naby Lenasia, sneltreine wat ons stede verbind (op dieselfde tyd as wat Prasa besig is om in duie te stort weens diefstal en vandalisme van treinwaens, -kabels en selfs -stasies) en Nasionale Gesondheidsversekering – ’n uiters duur nuwe gesondheidstelsel wat buite die staat se finansiële of bedryfsvermoë is.

Dan het ons ook selfmoordvoorstelle, soos onteiening sonder vergoeding, planne vir ’n staatsbank, ’n staatsredery, ’n farmaseutiese staatsonderneming, ’n soewereine welvaartfonds, ’n program vir die “groen” opknapping van duisende staatsgeboue, ’n basiese inkomstetoelaag van R197 miljard per jaar, ’n spesiale toelae vir vroue wat R140 miljard per jaar gaan kos, ’n spesiale bank vir taxi-eienaars en gereelde subsidies vir die taxibedryf (albei die produk van Fikile Mbalula se koorsdrome), beheer oor die uitvloei van kapitaal, voorgeskrewe bates, moderne monetêre teorie (dit wil sê die druk van geld wanneer jy dit nodig het) en laastens – maar nie die minste nie – ’n stimulusprogram van R2 duisend miljard wat Cosatu op die tafel geplaas het.

Om dié voorstelle te evalueer is nutteloos. Nie een is so verderflik soos slawerny of Nazisme nie, maar byna almal benodig groot hoeveelhede nuwe geld, en diegene wat dit voorstel, het geen idee waar daardie geld vandaan gaan kom nie.

Aangesien die staat reeds in so ’n penarie is, is dit duidelik dat die geld net uit een bron kan kom: lenings.

So, dink bietjie hoe dit sou werk: Die president en van sy ministers sal op hul gebruiklike beleggingstoer na Londen gaan om buitelandse beleggers in kennis te stel dat hulle nog meer kolossale hoeveelhede geld teen 8%- en 9%-rente wil leen. Die eerste vraag is: “En waarvoor wil julle die geld hê?” Die antwoord: “Wel, ons het gedink dit sal lekker wees om dit weg te gee – aan vroue, taxibase of net mense in die algemeen.” Waarop die enigste moontlike antwoord dié van John McEnroe aan die skeidsregter is: “You cannot be serious.”

Beleggers wil seker wees dat hulle hul geld sal terugkry. Dis waarom hulle wil hoor dat die geld vir produktiewe doeleindes gebruik sal word – dinge wat sal help om hul lenings terug te betaal. Hulle weet dit sal nie gebeur as hulle net geld weggee nie – en ook dat Suid-Afrika vol bankrot staatsondernemings is, so waarom sou hulle meer onmededingende staatsondernemings in die bankwese, skeepvaart en farmaseutiese sektor wil skep?

En terloops, as jy buitelandse beleggers heeltemal wil afskrik, sê net die woorde “moderne monetêre teorie”, kapitaalbeheer, voorgeskrewe bates of onteiening sonder vergoeding. Dit is alles voor die hand liggend. Behalwe natuurlik vir die ANC-leiers – mense wat duidelik iets baie sterk rook.

Hierdie oorvloed van waansinnige idees in die lig van die eksistensiële krisis waarin die staat hom bevind, is ’n teken van die regering se intellektuele bankrotskap. Die ANC het 26 jaar aan bewind gehad, die geld is op en al wat oor is, is ’n paar idees. Byna nie een van hulle werk nie. Wat dit regtig vir hulle behoort te sê, is dat die einde in sig is. Die staat is kniediep in die gemors en het nie meer die middele om sy rol uit te voer nie, wat nog te sê van al die nuwe planne wat hy graag wil aanpak. Die waarskuwings van ’n volledige ineenstorting van die staat moet uiters ernstig opgeneem word.

As die ANC besin, sou hy besef dat die enigste manier om te oorleef, is vir die staat om sy rol tot die minimum te beperk – ’n klein staatsdiens, die polisie en die weermag, sodat die staat net reg en orde kan hou en sy grense bewaak. Al die ander – gesondheid, onderwys, die spoorweë, hawens, lughawens en staatsondernemings – moet geheel en al of gedeeltelik geprivatiseer word. As die staat aanhou probeer om dinge te doen wat hy nie kan doen nie, sal dit in duie stort. Dit gebeur inderdaad reeds: die SAL, SA Express en Denel stort in duie, net soos die spoorweë, baie munisipaliteite, die hospitale in die Oos-Kaap, die water- en elektrisiteitstoevoer – en so kan jy aangaan. Hierdie proses sal versnel namate die volle nagevolge van die ekonomiese verlangsaming eers begin werk. Die ergste ding wat die regering nou kan doen, is om na Enoch Godongwana se ekonomiese transformasiekomitee te luister en die rol van die staat te probeer uitbrei.

Die feit dat Godongwana se komitee, wat beter behoort te weet, presies die verkeerde advies gee, illustreer wat met intellektuele bankrotskap bedoel word. Soos ons gesien het, verdwyn slegte idees in Afrika dikwels net danksy ’n bloedbad. Daar is geen rede waarom ons die vreeslike lyding van ’n ineenstorting van ’n regering moet beleef nie, maar as ons dit wil vermy, moet die ANC besef dat so ’n ineenstorting nie net moontlik is nie, maar dat ons reguit daarheen op pad is. En dat Ramaphosa se nuutste mantra – “die bou van die staat se vermoë” – net nog ’n lugkasteel is.

* R.W. Johnson is ’n onafhanklike politieke kommentator.

Meer oor:  R.W. Johnson  |  Vsa  |  Perspektief  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.