Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
R.W. Johnson: Lennon is groot, maar sokker ook

Die viering van die 80ste verjaardag van John Lennon wat saamgeval het met die hervatting van die Engelse sokkerseisoen, het die gewone kwota van lawwe seisoenale joernalistiek opgelewer: Die kombinasie van Liverpool, sokker en The Beatles was heeltemal te veel vir baie skrywers.

Plaaslik het Mark Heywood ’n artikel vir Daily Maverick geskryf waarin hy ons probeer oortuig dat Liverpool ’n sosialistiese sokkerklub is en ons baie probeer opvoed oor die gevorderde politieke denke van Lennon (na wie hy voortdurend as “John” verwys)

Die waarheid is interessant – maar anders. Professionele sokker is in die graafskap Lancashire gebore en dekades later oorheers die Lancashire-klubs steeds die Engelse sokkertoneel.

Elders ter wêreld oorheers klubs van die rykste stede – dink aan Parys, Madrid, Turyn, Milaan, Barcelona – dus sou ’n mens verwag dat die Londense klubs ook Engelse sokker sou oorheers. Tog gebeur dit nie.

In plaas daarvan loop Liverpool, Everton, Man City en Man United voor – met ’n lang Lancashire-stert (met klubs soos Burnley, Blackburn, Preston, Bolton, Blackpool ensovoorts).

Ek het aan die Merseyside grootgeword in ’n gebied wat oorheers word deur twee passies: rockmusiek en sokker. Hoewel ek in ’n rugbyskool was, het ons elke dag by die skool sokker gespeel. Liverpool het in die 1950’s nog ’n uitgebreide Transatlantiese handel gehad en dit het beteken dat die nuutste Amerikaanse musiek in Liverpool beskikbaar was lank voordat dit in Londen te kry was. Soms het jy swart Amerikaanse seemanne in die strate gesien wat gelyk het of hulle almal R&B-kundiges is.

Liverpool was altyd diep bewus van sy verbintenis met Amerika. As kind onthou ek hoe my pa my die kettings in die mure van geboue by die dokke in Liverpool gewys het waar die slawe vasgebind is, want die skandelike feit is dat Liverpool se maritieme glorie van die slawehandel afhanklik was. Die groot Ierse migrasie na die VSA het ook vir baie Ierse families van Liverpool gesinsbande met Amerika geskep.

The Beatles in 1963. Foto: Getty Images

Een resultaat was dat swart Amerikaanse groepe soos Frankie Lymon and The Teenagers vir die volwasse gehore in die Liverpool Empire sou speel. Inderdaad het baie Amerikaanse rocksterre wie se roem aan die vervaag was gou geleer dat hulle steeds aanhangers aan die Merseyside het lank nadat hulle hul glans in Memphis verloor het. Later jare, toe sy loopbaan op ’n lang afwaartse spiraal was, het Roy Orbison ook keer op keer teruggekeer na die Merseyside en Noord-Wallis, waar hy altyd baie gewild was.

Om te sê dat sokker ’n godsdiens was, sou die punt mis. Daar was ’n groot Ierse migrasie na Liverpool, sowel Protestants as Katoliek, en sektariese gevoelens was sterk. Everton was bekend as die Katolieke klub, Liverpool Protestant. My vader, hoewel hy ’n ateïs was, se pa was ’n Protestantse Oranjeman en ek vermoed dit was die rede waarom hy by Liverpool geteken het. Hy was ’n fenomenale voorspeler en het pas 120 doele in een seisoen vir sy plaaslike klub aangeteken. (“Let wel,” het hy gesê, “11 daarvan was strafskoppe. En jy behoort nooit ’n strafskop te mis nie.” Iets wat hy beslis nooit gedoen het nie.)

Hierdie sektariese spanning het maar onlangs eers begin vervaag en Steven Gerrard, die Liverpool-ster wat nou die afrigter van Rangers is, het gevind dat hierdie spanning steeds in Glasgow springlewendig is. Hy kan dit nie keer dat Rangers-ondersteuners anti-Katolieke liedjies teen hul Keltiese vyande sing nie.

Liverpool was nog altyd ’n massiewe werkersklas-stad.

So, natuurlik het Everton en Liverpool altyd baie werkersklas-ondersteuners gehad, maar natuurlik sou nie een van hulle hulself ooit polities posisioneer nie. Wat wel waar is, is dat Bill Shankly, afrigter en vader van die moderne Liverpool-klub, ’n Skotse sosialis was en dit by sy spanne ingedril het dat hulle alles aan die ondersteuners verskuldig is. Die ondersteuners het dit waardeer en dit het die klub gehelp om ’n soort uitdrukking van die Scouser-werkersklas-ervaring te word. Tot vandag toe verwys Liverpool-ondersteuners daarna as “the Spirit of Shankly”.

Jurgen Klopp was vinnig om homself tot Scouser te verklaar.

En natuurlik was Jurgen Klopp vinnig om homself tot Scouser te verklaar.

Die meeste Liverpolitane, aangesien hulle lede van die werkersklas is, het nie ooghare vir die Londense Tory-establishment nie Dit was selfs waar vir Protestante, maar dit was aksiomaties waar vir Katolieke (op skool is ek gewaarsku dat Protestante nie lank gelede nie nog mense soos ek op die brandstapel verbrand het). Die Katolieke was hoofsaaklik Iers en het die Tories gehaat as onderdrukkers van Ierland. Dit het gelei tot ’n gereelde gees van opstand wat gewelddadige stakings aangevuur het, asook steun vir die Ierse Republikeinse Leër en algemene antisosiale gedrag.

Dit het merkwaardige gevolge gehad.

In die 1970’s was dit steeds waar dat Britse vroue meer konserwatief as mans gestem het. Behalwe aan die Merseyside.

As jy na die peilingsdata gaan kyk sal jy vind dat die mees getroue Arbeiderkiesers praktiserende Katolieke was. En aangesien vroue meer godsdienstig toegewyd was as mans, was amper 100% van Katolieke vroue Arbeiders. My ma was ’n goeie voorbeeld.

Teen die laat 1950’s het selfs hierdie Katolieke wêreld die druk van sekularisering begin ervaar. Klaarblyklik het min van die seuns in my Katolieke skool in God geglo en die Christelike Broeders wat verpligte kerkdienste so wreed aan ons opgedwing het, het later almal die orde verlaat en werk as kroegmanne of uitsmyters gekry.

Dit het tot vreemde gevolge in die Iers-Katolieke subkultuur van Merseyside gelei. Enersyds het die buurt sy gees van opstand behou (die passie vir rock is ’n voorbeeld hiervan, aangesien sulke musiek destyds nog nie respektabel was nie) en in alle opsigte was dit astrant, oneerbiedig en aan’t moeilikheid soek. Maar die Katolieke bestaansrede het nie meer saak gemaak nie. Om die waarheid te sê, oneerbiedigheid jeens die kerk was deel van die hoofmotief.

Ek het baie sulke jong mans geken.

Mense wat instinktief anti-establishment was, maar selde openlik polities.

Hulle sal miskien vir die Arbeiders stem, maar hulle het die Tories gehaat.

Hulle was Ierland net vaagweg simpatiek – dit het vir hul ouers meer saak gemaak. Maar hulle was reg vir moeilikheid van enige aard. En hulle was net passievol oor sokker en rock. Dit was die wêreld wat tot The Beatles aanleiding gegee het.

Lennon en McCartney is albei Ierse name en jy kan die Katolieke eggo’s in hul liedjies hoor – “Mother Mary comes to me”, “Father McKenzie . . . darning his socks” ensomeer. McCartney se bynaam, “Macca”, is pure Scouser. Maar wat Lennon werklik verteenwoordig het, was hoe verdraaid en gedisoriënteerd hierdie subkultuur geword het, ’n feit wat natuurlik sterk beklemtoon word deur die tragiese gemors van Lennon se huislike omstandighede.

McCartney het altyd gesê hy is seker dat dit die kwellinge van Lennon se kinderjare was wat hom so buitengewoon kreatief gemaak het, maar hy wat Paul is, is bly dat hy dit alles gemis het. Dit het dus geen sin om Lennon te verheerlik nie. Hy was ’n uiters deurmekaar mens.

Hy was in ’n toestand van permanente opstand; sonder dat hy geweet het waarteen hy aan die betoog is. In sommige opsigte was hy nie ’n gawe man nie. Gegewe sy kinderjare is dit in elk geval te veel om te verwag.

Liverpool gedenk hom deur die lughawe na hom te noem met die leuse “Above us only sky”. Ongetwyfeld sou hy daarteen ook geprotesteer het, net soos hy die Katolieke Kerk verpes het deur sy uitspraak dat The Beatles “groter as Jesus Christus is”.

Dit was ’n Beatles-tydgenoot, Gerry Marsden (van Gerry and the Pacemakers-faam), wat uiteindelik al hierdie drade bymekaargebring het deur vir Shankly ’n plaat te neem wat hy pas opgeneem het, “You’ll Never Walk Alone”, ’n ou liedjie van Rodgers en Hammerstein. Shankly het dadelik besef dit kan Liverpool se anthem word. “Jy het my ’n liedjie gegee, Gerry, en ek gee jou ’n sokkerspan.”

Sedertdien sing alle Liverpool-skares die lied en sal dit seker altyd doen.

Teen die tyd dat 96 Liverpool-ondersteuners in die Hillsborough-ramp in 1989 dood is, was Marsden ’n Liverpool FC-simbool. Hy het ’n spesiale fondsinsamelingskonsert vir die gesinne van die gestorwenes gereël waar hy natuurlik “You’ll Never Walk Alone” gesing het.

Maar die klimaks was ’n weergawe van ’n vroeëre treffer, “Ferry Cross the Mersey”, gesing saam met ’n ander Liverpool-aanhanger, McCartney.

* R.W. Johnson is ’n skrywer en politieke kommentator.

Meer oor:  R.W. Johnson  |  Perspektief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.