Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
R.W. Johnson: Net ’n snotklap kan help

Suid-Afrika het pas Mandeladag gevier. Soos gewoonlik was dit ’n geleentheid vir kwasireligieuse uitbeeldings van die ou man met engelvlerke, ’n stralekransie en ’n groot klomp vrome wollerigheid oor hoe ons almal harder moet probeer om sy voorbeeld na te volg en deur hom geïnspireer te word.

Dit verskil baie van wat op 12 September gebeur – die dag waarop die moord op Steve Biko herdenk word. Dan kry ons ’n dieet van “wat Steve Biko sou gesê het as hy vandag nog geleef het”.

Die geskiedenis leer ons twee dinge van Biko: dat hy Robert Sobukwe se vermaning dat hy te veel drink vrolik afgemaak het en dat hy ’n uiters suksesvolle rokjagter was wat kinders by verskeie vroue verwek het.

As Biko vandag nog gelewe het – en dit is ’n hartseersaak dat hy nie met ons is nie – sou hy waarskynlik steeds besig wees om die hardehout weg te slaan omring deur sy uitgebreide familie.

Dit is nietemin ’n interessante oefening om jou te probeer verbeel wat vorige daders van gebeure vandag sou maak. En mens moet natuurlik nooit te vroom wees nie, want nie een van hulle was heiliges nie. Aan die ander kant moet ons die bekende opmerking onthou dat “almal wat diere én kinders haat nie sleg kan wees nie”. Selfs sommige skurke het ’n goeie kant.

So, kom ons begin deur ons voor te stel wat Mandela sou sê.

“Wat? Het ek regtig vir 27 jaar in die tronk gesit sodat hierdie uilskuikens die land kon verkwansel? Miskien moes ek maar liewer by boks gebly het.

“En ek het vroeër sleg gevoel dat soveel van my kamerade saam met my in die tronk was? As ek kyk na wat baie van hulle sedertdien gedoen het, besef ek dat die tronk eintlik die regte plek vir hulle was. Om te dink dat ek Jacob Zuma ’n miljoen rand gegee het toe hy by my kom kla het dat hy bankrot is . . . Miskien het hy ’n Mandela-kamer in Nkandla om dit te gedenk?

‘Hierdie land is bleddie moeilik om te regeer.’

“Ek kan nie glo dat daar ’n tyd was dat ek tussen Cyril Ramaphosa en Thabo Mbeki moes kies wie my sou opvolg nie. Albei is hopeloos!

“En hierdie verheerliking van Winnie is heeltemal absurd. Dit het my lank geneem om deur haar te sien, maar ek het dit uiteindelik gedoen. Wat ’n aaklige vrou. En wat die idiote betref wat Zindzi ambassadeur gemaak het, wat op dees aarde het hulle gedink?”

Hendrik Verwoerd, aan die ander kant, sou heeltemal geregverdig voel.

“Ek het geweet dat ek reg was om ras my belangrikste riglyn te maak. Want kyk, hulle doen dit steeds. Hulle kan net nie daarsonder klaarkom nie. Hulle het al ons apartheidsklassifikasies behou. Al die nonsens wat die Progs en die ANC altyd oor ‘nierassigheid’ kwytgeraak het!

“Nou ja, moenie sê dat ek hulle nie gewaarsku het nie. Swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie het al die beginsels van apartheid behou.

“En ek was ook reg oor die tuislande – kyk hoe die hele land nou net een groot Bantoestan is.

“Ek moet egter erken dat integrasie beter in sport gewerk het as wat ek gedink het. Maar dit lyk of ander rasse beter is om ‘wit’ sporte soos krieket en rugby aan te leer as wat ons wit seuns ’n ‘swart’ sport soos sokker leer. Die punt met sokker is dat dit steeds hoofsaaklik Engels is. Swart Engelsmanne is dus goed in sokker, maar regte Suid-Afrikaners nié. En dit het nie ongemerk verbygegaan dat Ali Bacher en Joel Stransky Jode is nie.”

H.F. Verwoerd

Mbeki leef nog en was slim genoeg om te sê hy dink dat Zuma van Suid-Afrika net nog ’n “neokoloniale mislukking” sou maak, maar is versigtig om nie vandag sy menings te lug nie. Maar ’n mens kan jou voorstel wat hy deesdae dink.

“Dit is belaglik wat hulle oor die koronavirus sê. Hulle moes na my geluister het oor MIV/vigs. In my dae het ek Nkosazana én Manto gehad om die regte rigting in te slaan met Virodene en die Afrika-aartappel. Hulle sou hierdie virus gou-gou kafdraf. Die domste ding wat Zuma gedoen het, was om al die antiretrovirale middels (ARM’s) uit te deel. Hy het net in die hande van big pharma en die CIA gespeel. Nie dat Ramaphosa enigsins beter is nie. Dieselfde belaglike nonsens met die ARM’s.

“Die feit dat hy ’n Venda is, beteken dat hy nie teen die Xhosas of Zoeloes kan opstaan nie, so hulle lei hom aan die neus rond. Stel jou voor, ek was immers die nommer twee van twee reuse – Oliver Tambo en Mandela – terwyl Ramaphosa tevrede was om nommer twee vir Zuma te speel. ’n Dwerg soos Zuma!

“Dinge het darem nou regtig agteruitgegaan. In die ou tyd sou ek net ’n woordjie met Essop gespreek en Ramaphosa vir middagete geëet het. Behalwe dat ek nie seker is dat daar genoeg van hom vir middagete is nie. Meer soos ’n ontbyt.”

“Ek stem saam met Thabo,” sou PW Botha antwoord.

“Om die Groot Krokodil in hierdie land te wees is nie vir sissies nie. Dit is ’n man se werk. Onthou dat ek met John Vorster moes klaarspeel voordat ek kon oorvat. En Vorster was geen pushover nie. Hy het immers die binnekant van ’n interneringskamp in die oorlog gesien en was so taai soos kan kom.

“En ek moes ouens soos Treurnicht takel en vir die mense sê dis ‘hervorm of sterf’. Dit vat ’n man met murg in sy pype om dit te doen.

“En ek het vroeër daardie slimjan-joernaliste gewaarsku: ‘Moenie my te ver dryf nie, anders gaan julle die tier in die Afrikaner wakker maak.’ Toe kry jy ’n kêreltjie soos Max du Preez wat antwoord: ‘Weet jy nie dat daar geen tiere in Afrika is nie, meneer Die President?’ Ek het hom amper ’n snotklap gegee.

P.W. Botha

“Natuurlik weet ek dit. ‘En as daar was, sou jy nie een van hulle wees nie,’ het ek vir Du Preeztjie gesê.

“Dit was dieselfde nadat ek afgetree het. Tutu en die hele WVK-sirkus wou hê dat ek moes kom getuig. Hulle wou my dagvaar. Ek het net daar in Wildernis gesit en vir hulle gesê om in hul hel te vlieg. Dis hulle wat stert tussen die bene daar weg is, nie ek nie. Feit is dat hierdie land bleddie moeilik is om te regeer. Jy moet jou man kan staan; jy kan nie rondtrippel nie.”

Terwyl hy na dit alles luister, sal Cyril sê: “Natuurlik is dit nie waar dat ek bang is om te lei of dat ek rondgestoot word nie. Dit is egter belangrik om met konsensus te regeer. Daar is Mahumapelo en Ace en my skoonsuster Bridgette, om nie eens te praat van al die ouens in die kabinet nie. En hul vroue en hul direkteurs-generaal, natuurlik. Alle belanghebbendes.

“Nou die dag sê een van my kabinetslede dat hy altyd ’n dolk byderhand hou sodat hy hom teen Dracula kan verdedig. Ek dink dit was ’n grap, maar dis altyd beter om almal ernstig op te neem.

“Oor die stories dat ek bang is, nou ja. Toegegee, Bheki Cele is ’n baie groot ou en hy dra ’n gangster-hoed. En hy is ’n Zoeloe. Hulle vat nie nonsens nie, so ’n mens moet versigtig wees. En wanneer Nkosazana jou eers in die visier kry met daardie gesigsuitdrukking wat sê ‘Oor my dooie liggaam’, is dit baie moeilik om haar teë te gaan. Jy voel inderdaad of jy glad niks het om te sê nie. Natuurlik is sy ook ’n Zoeloe. Hulle vat nie nonsens nie.

“En dan is daar al die kamerade in die nasionale uitvoerende komitee. Jy moet hulle ook aan jou kant hou en dit kan ’n bietjie moeilik wees. Hulle is almal sout van die aarde, al kan sommige van hulle soms ’n bietjie hardkoppig wees – maar ek het my voorgeneem om nooit iets te doen voordat daar nie volkome eenstemmigheid is nie. Dit is tog wat ’n sosiale kontrak beteken.”

Hier in Kaapstad is daar ook natuurlik die standbeelde van Rhodes, Louis Botha en Smuts en ’n mens kan nie help om te wonder wat daardie reuse oor die hede te sê het nie. Maar die standbeeld van Rhodes is reeds halfpad vernietig en daar is eise om ook met Botha weg te doen.

As ons om ons kyk na ons water- en elektrisiteitstekorte en die 13 miljoen werkloses, besef jy die een ding waaroor hulle almal sal saamstem is – gegewe die omvang van ons probleme – dat dit absoluut gek is om oor, van alle dinge, standbeelde te wil baklei.

* R.W. Johnson is ’n politieke wetenskaplike, skrywer en joernalis. Sy jongste boek, Foreign Native: An African Journey, het pas verskyn.

Meer oor:  R.W. Johnson
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.