Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
R.W. Johnson: Ruk SA met meriete reg

Wat kan ons by rugby en krieket leer as ons Suid-Afrika wil red?

In die fokusgroepe wat ek verlede jaar in die aanloop tot die verkiesing vir die nuuskanaal eNCA gelei het, het verskeie swart deelnemers spontaan die mening uitgespreek dat hulle graag wil hê dat wit mense weer die land bestuur – “ten minste vir ’n rukkie, net om Suid-Afrika weer te laat werk”.

Dit was nie ’n nostalgiese verlange om weer deur ’n ander etniese groep regeer te word nie, maar eerder ’n erkenning dat Suid-Afrika vroeër in ’n suiwer tegniese sin baie meer bekwaam bestuur is – en ook hoeveel verskil dit in mense se lewens maak om in ’n goedbestuurde land te bly.

Gebeure in Suid-Afrikaanse sport die afgelope paar maande illustreer dié feit baie goed.

Die Springbok-rugbyspan is nou al twee keer deur regstellende-aksie-aanstellings afgerig – tussen 2008 en 2011 deur Peter de Villiers en weer in 2016 tot 2018 onder Allister Coetzee. Ná De Villiers se aanstelling het die Saru-hoof gesê met sy aanstelling is “die kwessie van transformasie in ag geneem”.

Maar soos Tendai Mtawarira uitgewys het, was De Villiers gelukkig om ’n span te erf wat pas die Wêreldbeker gewen het, en hy kon op senior spelers staatmaak om die leiding te neem.

Nietemin het dit geëindig met die Springbokke wat in die kwarteindronde van die Wêreldbekertoernooi in 2011 uitgeskakel is.

Verlede jaar het De Villiers aangekondig dat hy nie meer die Springbokke ondersteun nie – dit ná die Eben Etzebeth-episode in Langebaan – wat gelei het tot woedende eise dat hy dan moet ophou om in ’n Springbokbaadjie te paradeer.

Coetzee het minder verontwaardiging by toeskouers ontlok as De Villiers, maar toe hy die Westelike Provinsie en die Stormers afgerig het, het hulle nooit iets gewen nie, en sy geskiedenis by die Bokke het getoon hoe relevant dié maatstaf is.

Toe hy uiteindelik sy pos verloor het, was die Bokke in die vyfde of sesde plek in die wêreld.

Die staatsdiens sukkel want hy word soos sokker bestuur.

Rassie Erasmus, wat by hom oorgeneem het, was sedert 2004 ’n besonder suksesvolle afrigter en voorheen tegniese adviseur vir die Bokke gedurende die Wêreldbekertoernooie in 2007 en 2011.

As meriete alleen die maatstaf was, sou hy teen 2019 waarskynlik sy tiende jaar as Springbokafrigter gevier het.

Erasmus het slegs 18 maande nodig gehad om die Springbokke tot wêreldkampioene te brei.

Suid-Afrika het nou reeds drie Wêreldbekertoernooie gewen en met die talent beskikbaar en met bekwame bestuur behoort die Springbokke in elke toernooi ten minste die halfeindronde of eindronde te haal.

In sokker geld dieselfde beginsel. Afrika-sokkerspelers is al baie jare onder die beste ter wêreld – dink aan Didier Drogba, Yaya Touré, George Weah, Mohamed Salah, Sadio Mané en Pierre-Emerick Aubameyang. Hul lande kom nooit naby daaraan om die Wêreldbeker te wen nie, maar hierdie spelers het almal na spanne elders gemigreer met ’n uitstekende topbestuur waar hulle alles voor die voet gewen het.

En tog bly die manier waarop Afrikaspanne bestuur word skokkend.

Pas het ons dieselfde ding in krieket gesien.

Ná die gruwelbewind van Thabang Moroe waartydens hy Suid-Afrikaanse krieket tot in die grond bestuur het, is daar ervare mense aangestel in die persone van Jacques Faul, Graeme Smith, Mark Boucher, Jacques Kallis, Linda Zondi, Justin Ontong en Ashwell Prince. Binne ’n week het die Proteas ’n duidelike verbetering getoon teen ’n baie sterk Engelse span. Hierdie transformasie het pas begin en sal nie ten volle vrug dra voordat die hele raad van Krieket SA afgedank is nie.

’n Mens hoef jouself net te herinner aan hoe gruwelik dié raad die Protea-afrigter Ottis Gibson behandel het en hoe Moroe die finale sê in spankeuses vir homself toegeëien het – sonder om Gibson, die sameroeper van die keurders of die kaptein te raadpleeg.

Baie Suid-Afrikaanse instellings, soos die spoorweë, die staatsdiens, die waterrade en talle staatsbeheerde ondernemings (SBO’s), het misluk. En dit sonder dat iemand enige poging aanwend om bekwame bestuurders aan te stel of selfs daaraan dink. (Eskom is geen uitsondering nie. Daar is dalk wel nou ’n wit uitvoerende hoof, maar die hele korps van werklik bekwame ingenieurs en administrateurs wat dit in die verlede so suksesvol gemaak het, is steeds nie terug nie.)

So, wat maak rugby en krieket anders? Omdat dit die enigste twee sportsoorte is waarin Suid-Afrika werklik internasionale status geniet. As hulle wen, voel ’n nasie sommer beter oor hulself.

Tweedens ding hulle wedstryd ná wedstryd op die internasionale verhoog mee. ’n Omgewing waar – anders as vir staatsondernemings – mislukkings nie weggesteek kan word nie. (Dis geen toeval nie dat die enigste uitsondering op dié reël, die Suid-Afrikaanse Lugdiens, wat wel internasionaal meeding, ook onder die eerste staatsbeheerde instelling is wat misluk het.)

Dit moet beklemtoon word dat die ras van afrigters en bestuurders irrelevant is: Al wat tel is bevoegdheid en ervaring. Linda Zondi, Ottis Gibson, Justin Ontong en Ashwell Prince is nie wit nie. Maar hulle is ervare en is bekwaam.

Let ook daarop dat krieket en rugby, in teenstelling met die staatsdiens of staatsondernemings, ’n kommersiële sukses moet wees. Daar is geen staatsubsidies of reddingsboeie nie. Hulle moet stadions vul en hulle moet borge hê.

Dit was inderdaad Standard Bank se onttrekking as borg wat Moroe se doppie geklink het.

In dié opsig is borge eerder soos die plaaslike en internasionale beleggers wat so desperaat die hof gemaak word deur die regering. As hulle nie na die partytjie toe kom nie, is daar nie ’n partytjie nie.

Maar as die weg na sukses so duidelik is, waarom sukkel die staatsdiens en staatsondernemings dan so baie?

Die antwoord is dat hulle eerder die voorbeeld van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) as rugby en krieket volg: korrup, onbekwaam en bestuur deur skurke wat net hul eie belang dien.

Die resultaat is dat Suid-Afrikaanse sokker, ondanks ’n reuse- plaaslike talentpoel, ’n ramp is. Ons word gereeld geklop deur Afrika-teenstanders veel kleiner en armer as ons.

En terwyl skelms die sport se geldkoffers leeg steel, sal niks verander nie en sal geen bevoegde bestuurder enigiets aan die situasie kan doen nie. Want om die plek reg te ruk, sal so ’n bestuurder volle beheer moet oorneem – en dit is nie in die stelers se belang nie.

Beteken dit dan dat staatsinstellings en die regering vir ewig, soos Safa, gaan voortploeter – korrup, onbevoeg en besig om alles onder hul beheer te vernietig?

Nee, nie noodwendig nie. Safa is baie afhanklik vir sy inkomste van borge en uitsaairegte. Namate hierdie inkomste daal, word ook dié sportliggaam deur ’n groeiende krisis in die gesig gestaar. Die skurke en spesiale belangegroepe sal bly vasklou totdat die hele kaartehuis instort.

Intussen verloor sokkerliefhebbers belangstelling in die plaaslike spel en betaal eerder om buitelandse spanne op TV te kyk.

Iets soortgelyks het reeds by baie munisipaliteite gebeur en gebeur nou ook by staatsbeheerde ondernemings.

ANC-politici dink hulle kan nasionale gesondheidsorg belowe, of daar geld daarvoor is of nie; of ’n gek mynbouhandves op die bedryf afdwing en dat alles maar net op sy godgegewe manier normaal sal voortgaan.

Maar hulle mislei net hulself.

Niemand in die land glo saam met hulle dat jy aan die ekonomiese werklikhede kan ontkom nie.

Sal meer bekwame bestuurslede oorneem, soos in rugby en krieket?

Dit is onwaarskynlik.

Baie klein en mediumgrootte dorpe gaan bloot onder. Hul inwoners word selfonderhoudend of dikwels trek hulle bloot weg. Die enigste hoop om te vernuwe verdwyn dus. Selfs Bloemfontein, die ou regterlike hoofstad, is nou onder bestuur, net soos Pietermaritzburg, die hoofstad van KwaZulu-Natal.

Net so sal ons nooit weer die SAL in sy ou vorm sien nie.

Wat rugby en krieket illustreer, is dat dit noodsaaklik is om in te gryp voor ’n volledige ineenstorting en die geleentheid vir vernuwing verdwyn.

Die tweede les is dat Suid-Afrika die talent en potensiaal het. As eerlike, bekwame en ervare bestuur aangestel word, kan dinge met buitengewone spoed reggeruk word.

Om sukses te behaal, moet bestuurslede op meriete en op grond van bewese prestasie gekies word.

Maar die nuwe bestuurders moet ook volle beheer en ondersteuning hê. Daar is geen ander manier nie.

* Dr. R.W. Johnson is ’n joernalis, historikus en voormalige lektor aan die Universiteit van Oxford.

Meer oor:  R.W. Johnson  |  Sport  |  Perspektief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.