Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
R.W. Johnson: Seun wat die noodlot nie kon ontduik nie
’n Graffiti-kunstenaar maak ’n tekening van George Floyd in Manchester, Engeland. Foto: Getty Images

Soms is nie eers ons fantasieë ons eie nie.

Neem byvoorbeeld Travis Bickle, die antiheld in Martin Scorsese se fliek Taxi Driver (1976). Travis is ’n eensame, depressiewe Viëtnam-veteraan wat in sleazy New York ronddryf waar hy rondhang in teaters wat pornografiese flieks wys en laatnag taxi-passasiers rondry. Sy vriendin, Betsy, werk as vrywilliger vir die presidentsveldtog van senator Charles Palantine en wanneer Betsy hom die deur wys (nadat hy haar na ’n pornofliek neem) besluit Travis om Palantine om die lewe te bring. Hy bewapen homself en leef sy sterkman-fantasieë voor die spieël by die huis uit. Ironies genoeg draai dinge heeltemal anders uit: Daar is ’n skietery, maar Travis tree as ’n held uit die verhaal. Die storie kon enige kant toe draai.

Die draaiboekskrywer, Paul Schrader, het sy inspirasie geput uit die dagboeke van Arthur Bremer, die man wat George Wallace geskiet het toe hy in 1972 ’n presidentskandidaat was. Tot ’n sekere mate het Bremer se fantasie Bickle s’n geword. Maar dit het nie Bickle s’n gebly nie. John Hinckley jr. het Taxi Driver gesien en sy eie lewe daarop gebou. Hy het dieselfde mohawk-kapsel begin dra as wat Bickle (Robert De Niro) in die fliek gehad het en ’n fiksasie ontwikkel met Jodie Foster, die kinderster van Taxi Driver. In 1981 probeer Hinckley om Ronald Reagan te vermoor.

Bickle, Bremer en Hinckley is almal voorbeelde van randfigure wat hul lewe in slordige onopvallendheid uitleef, behalwe vir daardie een oomblik van roem. Ek het die afgelope tyd baie aan hulle gedink weens die gebeure rondom George Floyd se dood.

Soos die meeste van ons was Floyd ’n mengsel van goed en sleg?.?.?.

George Floyd is in Noord-Carolina gebore, maar sy ma het na Houston, Texas, getrek toe hy nog ’n kind was. As ’n lang jong man (1,93 m) het George uitgeblink in basketbal en Amerikaanse voetbal, en soos menige jong swart Amerikaner gehoop om eendag as Big Floyd saam met sy groep, Screwed Up Click, ’n hiphop-sensasie te wees.

Nadat hy vroeg skool verlaat het, het sy vroeë drome van ’n regsloopbaan – hy wou ’n hooggeregshofregter wees – verdamp en hy het hom aangepas by ’n lewe in die Houstonse onderwêreld waar hy dwelms gesmous, gesteel en los werkies gedoen het. Volgens hofverslae is hy minstens vyf keer tronk toe gestuur tydens ’n misdaadloopbaan wat oor ’n dekade strek.

Sy ernstigste misdaad was toe hy en ’n vriend, vermom as werkers van die plaaslike waterraad, toegang tot ’n vrou se huis verkry het, waarna nog vyf bendelede by hulle aangesluit het. Floyd, die leier van die groep, het ’n wapen teen die vrou se maag gedruk en die huis deursoek vir dwelms en kontant (maar moes uiteindelik met juweliersware tevrede wees). Die vrou het geskree en is deur ’n ander bendelid met ’n pistool oor die kop geslaan. Vir sy aandeel het Floyd vyf jaar gevangenisstraf uitgedien.

Daarna is hy weer tronk toe vir betreding en nog vele kere meer vir diefstal, so dit lyk nie of hy enige lesse geleer het nie.

Nietemin, soos hy ouer geword het, wou Floyd ’n nuwe blaadjie omslaan en hy het aktief betrokke geraak by ’n plaaslike kerk in Houston, Resurrection Houston, en probeer om sy plaaslike gemeenskap te help. In dié nuwe rol raak hy gou bekend as ’n sagmoedige reus wat jong swart seuns na die kerk help lok met ’n mengsel van basketbal en godsdiens en deur sy bewondering van die basketbalspeler LeBron James met hulle te deel. Hy het by sy vriendin, Roxie Washington, ingetrek en saam het hulle ’n dogtertjie, Gianna, gehad vir wie Floyd ’n modelvader was.

R.W. Johnson

Maar dit was moeilik om werk in Houston te kry vir ’n man met ’n lang misdaadgeskiedenis soos syne en hy is na Minneapolis waar hy werk gekry het as ’n vragmotorbestuurder by die Heilsleër.

Die werk het nie lank gehou nie en gou het hy begin diens doen as uitsmyter buite restaurante. Sy groot postuur het probleme vinnig in die kiem gesmoor en restaurantgaste onthou hom as ’n vrolike, verwelkomende teenwoordigheid. Tydens sy tweede tydperk as veiligheidswag – hierdie keer by die El Nueva Rodeo-kroeg – het Floyd te doene gekry met ’n ander uitsmyter, Derek Chauvin. Chauvin was ’n moeilike kalant met ’n baie kort lont wat geneig was om te oorreageer en te gou na sy pepersproei te gryp.

Dit lyk asof Floyd Minneapolis toe is om ’n nuwe blaadjie om te slaan. In hoe ’n mate hy dit reggekry het, is nie duidelik nie. Die waarheid is dat hy sy gesin in Houston verlaat het en begin uitgaan het met ’n wit blonde meisie, Courteney Ross. Wat wel duidelik blyk, is dat hy geweldsmisdaad die rug toegekeer het. In 2017 het hy ’n Instagram-video gemaak waarin hy sê “ek het my tekortkominge en my gebreke, en ek is nie beter as enig­iemand anders nie” – maar hom sterk uitgespreek het teen die gebruik van vuurwapens.

Dit is nie heeltemal duidelik waarmee George Floyd besig was op die dag dat hy vermoor is nie. Hy het pas iets met ’n vervalste $20-noot in ’n winkel gekoop en die eienaar het die polisie gebel. Die polisieman wat op die toneel aangekom het, was niemand anders as Derek Chauvin nie wat, anders as Floyd, geen misdaadgeskiedenis gehad het nie en gevolglik ’n pos in die polisie in Minneapolis kon kry.

Chauvin was nie in die minste getraak oor die feit dat hy reeds vir George Floyd geken het nie en het, soos ons almal nou weet, voortgegaan om hom koelbloedig te vermoor.

In daardie stadium het Chauvin reeds 17 aanklagte van wangedrag onder sy naam gehad. George Floyd, ’n deels hervormde 46-jarige, sou heel moontlik ’n veel beter polisieman as Chauvin gewees het. Maar ons weet nie: Floyd is nie net dood nie, maar hy het sowel metamfetamien as opiate gebruik ten tyde van sy dood.

In April het hy Covid-19 onder lede gehad en daarvan herstel, maar sy werk verloor as gevolg van die ekonomiese afswaai. Gevolglik het hy weer teruggeval op alternatiewe maniere van ’n bestaan maak – dié keer deur iets met ’n vervalste banknoot te koop.

Tot in daardie stadium was die beroemdste ding wat Floyd gedoen het om ’n hiphop-kunstenaar te probeer wees. Wat hom betref, het hy ’n obskure dood gesterf. Hy sou beslis verbaas gewees het om te weet dat hy wêreldberoemd geword het – net soos Arthur Bremer en John Hinck­ley jr. Hy sou ongetwyfeld baie verbaas gewees het om homself gekanoniseer te sien in uitbeeldings van hom as ’n engel met reusevlerke.

Dit is moeilik om George Floyd nie te sien as ’n karakter uit ’n kortverhaal van Damon Runyon in die prohibisiejare in New York nie. Die meeste van Runyon se karakters hou hulself besig met misdaad van die een of ander aard, maar Runyon beskryf dit droogweg as “just minding their own business and doing the best they can”.

Per slot van sake, wat is daar, behalwe sport, musiek en “om die beste te doen wat jy kan” vir ’n jong swart seun uit Houston wat skool te vroeg verlaat?

Hy kom uit ’n enkelouergesin – hy roep na sy ma terwyl hy sterf – en onvermydelik word sy eie dogter ook in ’n enkelouergesin groot.

Maar soos die meeste Afro-Amerikaanse jong mense word Floyd blootgestel aan charismatiese predikers, kore en musiek wat ’n terugkeer na die Weg van die Here altyd ’n moontlikheid maak. ’n Ander swart Amerikaner wat onlangs oorlede is, Richard Penniman – Little Richard – was presies dieselfde. Soos die meeste van ons was Floyd ’n mengsel van goed en sleg, maar hy het teen gewapende geweld gedraai en het nie verdien om op 46 te sterf nie. Om ’n vervalste $20-noot as betaling aan te bied is nie reg nie, maar dit was net ’n manier om aan die lewe te bly nadat hy sy werk weens die inperking verloor het. Dis nie ’n misdaad wat die doodstraf verdien nie.

Natuurlik is George Floyd nou so te sê verlore in die massiewe simboliek wat sy dood omgeef. Maar dit beteken nie ons moet vergeet van die jong seun wat graag ’n regter wou word nie, die seun wat die wind van voor gehad het. Jy kan seker wees dat dit is hoe sy ma aan hom dink.

Meer oor:  George Floyd  |  R.W. Johnson  |  Perspektief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.