Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
R.W. Johnson: Wet van die oerwoud

Tito Mboweni se uitsprake dat die land vir die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) se Covid-19-hulp moet aansoek doen, het ’n voorspelbaar woedende reaksie van die linksgesindes ontlok wie se houding oor die Bretton Woods-instellings eerder soortgelyk is aan dié van vigs-ontkenners oor MIV.

Pres. Cyril Ramaphosa het besluit om Trevor Manuel en verskeie ander groot Afrika-name te stuur om die G20 te vra om hul onlangse belofte om Afrika deur die Covid-19-krisis te help, gestand te doen. Foto: Getty Images

Net die blote noem van een van dié instellings lei tot heftige afkeurings, wilde beskuldigings en ’n hele klomp min of meer gek teenvoorstelle.

Die SAKP se nr. 2, Solly Ma­paila, meen byvoorbeeld dat Suid-Afrika nie met die Wêreldbank of die IMF moet praat nie omdat die voorwaardes van hul lenings “altyd geheim is”. Dit is totaal onwaar. Jy hoef net hul webblaaie te besoek om dit te sien. ’n IMF-reddingsboei werk deur ’n brief van voornemens waarin die hervormingsprogram uiteengesit word wat ’n voorwaarde vir die lening is. Dit word gewoonlik verder uitgebrei in ’n memorandum van ekonomiese finansiële beleid.

Mapaila dring daarop aan dat Suid-Afrika nie hulp van die IMF nodig het nie en net op sy eie binnelandse hulpbronne kan staatmaak, byvoorbeeld private pensioenfondse. Sou hy hulle stroop? Nee, “dit is nie stroping nie. Dit is om hulle te gebruik om ’n ekonomiese krisis te beveg”. Dit is doodeenvoudig ’n onwettige voorstel. Nóg Mapaila nóg enigiemand anders het die reg om hul hande op private pensioene te lê. Hy voer egter aan dat die werkers wat hul pensioene verloor, in elk geval sou swaarkry as gevolg van die krisis. So, dis daarom in die haak om hulle te beroof.

Pali Lehohla, die voormalige statistikus-generaal, redeneer op dieselfde manier. Daar moet weerstand gebied word teen die IMF en die Wêreldbank, want “ons het nog baie hulpbronne in die land, soos die Openbare Beleggingskorporasie, ons het maatskappye wat op triljoene sit, ook ongeveer R7 triljoen (sic)”.

98 lande sal beskou word as beter kandidate vir verligting van skuld as SA.

Weer eens kan die Openbare Beleggingskorporasie blykbaar na willekeur beroof word, net soos enige geld wat private ondernemings op hul balansstate het. So, daar is net een wet: die wet van die oerwoud. En onthou ook dat die regering vir jare reeds geld in die buiteland leen om staatsdienssalarisse te betaal. As dit skielik net op huishoudelike hulpbronne moes staatmaak, sou daar drastiese besnoeiing aan die loonrekening moes kom.

’n Ander koorsagtige stem is die van Patrick Bond, wat wil hê dat die SA Reserwebank ’n “force majeur” (hy bedoel seker “force majeure”) verklaar en onmiddellik alle internasionale betalings van rente, dividende of winste staak. Hy dring ook daarop aan dat alle terugbetalings van openbare skuld onmiddellik gestaak word.

Hier is weer eens geen ruimte vir enige regsoorwegings of kontrakte nie, en ook nie vir die onmiddellike regsmiddele beskikbaar deur middel van internasionale ooreenkomste nie. Daar word ook eenvoudig glad nie oorweging geskenk aan die feit dat, sou Suid-Afrika so iets doen, die land heeltemal uit die wêreld se kredietmarkte uitgesluit sou word. Niemand sal enige maatskappy- of staatseffek kon verkoop nie en sou moontlik glad nie sy in- of uitvoer kon finansier nie. Die land sou ’n beleggingsmuishond word.

Weer is dit ’n aanbeveling om terug te keer na die wet van die oerwoud. Ons moet net alle ooreenkomste opskeur, alle reëls verontagsaam en doen wat ons wil. Daar word nie gekyk na die onvermydelike vergrype wat sodanige beleid sou uitlok nie. As ons byvoorbeeld alle betalings aan Amerikaanse beleggers bevries, is daar geen twyfel dat ons die voordele onder die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika-ooreenkoms (Agoa) sal verloor nie en dat ons motorbedryf in duie sal stort.

Suid-Afrika is ’n klein speler en dit sou die toppunt van dwaasheid wees om gevegte met die swaargewigte aan te knoop.

Die grootste kandidaat vir wanbetaling is die $3,75 miljard-lening wat die land in 2010 by die Wêreldbank aangegaan het om die Medupi-projek te finansier. Bond verwys na hierdie lening as “duidelik korrup”, hoewel sy redenasie onduidelik is. Die SAKP en ander linkse skrywers verwys daarna dat die Wêreldbank duidelik bewus moes gewees het van die korrupsie met die Medupi-projek, maar tog die lening uitbetaal het.

Dit is ’n vreemde bewering. Die regering het die Wêreldbank om ’n lening gevra en dit teen ’n gunstige rentekoers gekry. Die bank was onwillig om meer steenkoolkragstasies te ondersteun, maar het ’n uitsondering gemaak om Suid-Afrika te behaag.

Die bank was ongetwyfeld bewus van korrupsie met die projek, maar dit is ongelukkig al te gereeld die geval in die Derde Wêreld en reg en orde is die verantwoordelikheid van die gasheerregering, nie die bank nie. As die bank in sulke omstandighede lenings weerhou, sal dit waarskynlik nooit lenings aan ontwikkelende lande maak nie.

Hierdie lening word uitgesonder vir onmiddellike wanbetaling bloot omdat die linkses die Wêreldbank haat. So kinderagtig soos dit. Bond, so te terloops, het ook sy mes in vir die Brics-bank, ’n “pro-korrupsie, sub-imperiale klub van neoliberale bankiers”.

R.W. Johnson
R.W. Johnson

Al hierdie voorstelle is bloot die weg tot ondergang. Nie net sou hulle vinnig ’n massale depressie en ekonomiese ineenstorting tot gevolg hê nie, maar hulle sal Suid-Afrika se reputasie vir dekades vernietig en dit van alle bronne van ekonomiese hulp afsny.

Nog ’n merkwaardige voorstel kom van Duma Gqubule van die Sentrum vir Ekonomiese Ontwikkeling en Transformasie.

Hy wil die getal begunstigdes van welsyntoelaes van 17 miljoen tot 50 miljoen verhoog deur nog 33 miljoen mense ’n toelaag van R1 277 per maand te gee. Dit sal R506 miljard per jaar kos. En hy wil kindertoelaes met nog R400 miljard per jaar verhoog. Al hierdie ekstra geld vir verbruik, niks om te belê nie. Maar intellektuele eerlikheid vereis dat diegene wat so ’n Keynesiaanse verkwisting ondersteun wat deur ekstra lenings gefinansier sal moet word, ook moet erken dat die onvermydelike gevolg daarvan ’n IMF-reddingsboei sal wees. Is hulle, ook die heer Gqubule, gelukkig om daarvoor in te stem?

Intussen het pres. Cyril Ramaphosa besluit om Trevor Manuel en verskeie ander groot Afrika-name te stuur om die G20 te vra om hul onlangse belofte om Afrika deur die Covid-19-krisis te help, gestand te doen. In die praktyk kom dit daarop neer dat die EU, die VSA, die Verenigde Koninkryk en China om hulp gevra word.

Tot dusver het die EU R64,35 miljard vir die hele Afrika beloof. Brittanje sal daarop wys dat hulle reeds in verhouding meer hulp verleen as enigiemand anders. Die gevoel dat “liefdadigheid by die huis begin”, is algemeen. China bied skuldverligting slegs op sy eie lenings aan.

Die ontwikkelde wêreld sal dus na verwagting die weg aandui na die IMF en die Wêreldbank. Die magiese woorde in almal se ore is natuurlik “skuldverligting”. Die G20 het reeds gesê dat hy dit voorstaan.

Die IMF het inderdaad pas aangekondig dat, danksy nuwe beloftes van Brittanje ($185 miljoen), Japan ($100 miljoen) en onbekende bydraes deur ander, hulle onmiddellike skuldverligting vir die volgende ses maande sal bied vir 25 lidlande (19 van hulle uit Afrika), met ’n moontlike verlenging van tot twee jaar.

Sommige mense meen dat Suid-Afrika se skuld verlig moet word of selfs uitgewis moet word. Maar die IMF het gesê dat sy skuldverligtingsprogram aan arm lande gebied sal word “wat die hulpbronne kan gebruik vir beter vooruitsigte vir hul armes”.

Die IMF het openlik geprotesteer toe die land gekies het om sy reeds goedbetaalde staatsamptenare te vergoed eerder as om die werkloses by te staan.

Tweedens verdeel die Wêreldbank die wêreld in 54 lande met hoë inkomste, 57 lande met hoë-middelinkomste, 46 lande met laer-middelinkomste en 28 lande met lae inkomste. Skuldverligting is tot dusver slegs vir hierdie laaste groep oorweeg.

Suid-Afrika lê byna halfpad in die middel van die lys van hoë-middelinkomste-lande. Anders gestel: Daar is 98 lande met ’n laer inkomste per capita as Suid-Afrika. Almal van hulle sal beskou word as beter kandidate vir skuldverligting.

Immers, waarom sou ’n G20-lid met die grootste mineraalbronne ter wêreld enigsins hulp vra? Waarom inderdaad? Maar dit is ’n baie langer verhaal.

* R.W. Johnson is ’n joernalis en politieke kommentator.

Meer oor:  Pali Lehohla  |  Trevor Manuel  |  R.W. Johnson  |  Solly Mapaila  |  Imf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.