Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA boer agteruit met vroueregte

Sondag het ons Wêreldvrouedag – met die tema #Each­forEqual of “An equal world is an enabled world” – gevier.

Amanda Gouws
Amanda Gouws.

Hierdie dag word reeds sedert die vroeë 1900’s gevier, maar het eers ’n internasionale praktyk geword toe die Verenigde Nasies (VN) dit begin vier het in die Internasionale Jaar van die Vrou in 1975. In 1977 het die VN 8 Maart as ’n internasionale dag vir vroueregte en wêreldvrede verklaar.

In 1975 het die VN begin met wat bekend geword het as die Dekade vir Vroue deur elke tien jaar ’n internasionale kongres te hou om die vordering van geslagsgelykheid te moniteer.

Die eerste kongres was in Mexiko, in 1985 was dit in Nairobi, Kenia, en in 1995 in Beijing, China.

Dié kongres is opgevolg met terugrapportering aan die VN se Kommissie oor die Status van Vroue (KSV) in New York elke vyf jaar. Die KSV verseker dat globale standaarde vir geslagsgelykheid gestel en kon­krete beleide vir implementering geskep word.

Die Nairobi-kongres was baie belangrik omdat dit in Afrika plaasgevind het, en dís waar die Nairobi Forward-Look­ing Strategies opgestel is met dié vier sleutelareas: die gelykheid van vroue in sosiale, politieke en besluitnemingsdeelname, en die skep van meganismes in die staat om geslagsgelykheid te bevorder. Dit het bygedra tot die daarstel van ons eie meganismes ná 1994.

In 1995 het by die 17 000 afgevaardigdes en 30 000 aktiviste van 189 lande die Beijing-kongres bygewoon, waar die Beijing-platform vir Aksie onderhandel is rondom 12 kritiese areas: armoede, onderrig en opleiding, gesondheid, geweld, gewapende konflik, ekonomie, mag en besluit­neming, institusionele meganismes, menseregte, die media, die omgewing, en die dogter.

Vir elk van dié areas is sekere doelwitte gestel, sowel as repertoires van aksie vir regerings en burgerlike samelewings op nasionale, streek- en internasionale vlak. Vanjaar vier ons Beijing +25 (25 jaar ná die kongres).

Vir hierdie terugrapportering het die Suid-Afrikaanse regering ’n omvattende verslag van 205 bladsye opgestel. Gewoonlik is daar ook ’n skaduverslag wat deur die burgerlike samelewing geskryf word om as ’n korreksie te dien vir re­gerings wat hul suksesse aandik.

Wat betref geslagsgeweld, rapporteer die regering dat die hoë voorkoms van verkragting en moord op vroue ’n uit­daging is.

Wat betref geslagsgeweld, rapporteer die regering dat die hoë voorkoms van verkragting en moord op vroue ’n uit­daging is. Van die oorsake vir die geweld wat uitgesonder word, is manlike oorheersing, samelewingsnorme, kulturele oortuigings en waardes wat lei tot gender-stereotipering wat bydra tot hindernisse vir beleidsimplementering.

Prioriteite vir die volgende vyf jaar sluit in ekonomiese transformasie, verbeterde onderwys, sosiale kohesie, veiliger gemeenskappe, ’n ontwikkeling­staat, en gender-sensitiewe beleid.

Wat opval van die verslag is dat dit baie vaag is en elke moontlike doelwit ondersteun eerder as om byvoorbeeld aan te dui hoe verskeie ministers vir vrouesake die afgelope 11 jaar nie daarin kon slaag om ’n nasionale raad van geslagsgelykheid op die been te bring nie, die gebrekkige polisiëring van geweld, en die gebrek aan bronne.

Wat duidelik is wanneer ons hierdie verslag meet teen die Beijing +20-verslag, wat baie meer konkrete beleide en aanwysers gehad het om geslagsgeweld hok te slaan, het Suid-Afrika agteruit beweeg. Indien daar ’n skaduverslag was, sou dit hierdie tekortkominge uitgewys het.

Die Suid-Afrikaanse regeringsafvaardiging het onttrek aan die terugrapportering in New York weens die korona­virus. Daar sal talle afgevaardigdes wees wat baie ontsteld is oor hulle nie in New York op ’n inkopietog sal kan gaan nie!

  • Prof. Gouws is verbonde aan die departement politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Amanda Gouws  |  Verkragting  |  Vrouedag  |  Vroueregte  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.