Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA en die spieël van Israel-Palestina

Suid-Afrikaners is diep verdeel oor die konflik in Israel-Palestina. Tog wys dit ook dat hulle meer in gemeen het as wat hulle besef, skryf Christi van der Westhuizen.

Christi van der Westhuizen

Bo en behalwe al die plaaslike kwessies waaroor Suid-Afrikaners polities verskil, is die konflik in Israel-Palestina deur die jare opvallend die een internasionale kwessie waaroor Suid-Afrikaners ook diep verdeel is.

Dit dien as ’n spieël vir plaaslike ingewikkeldhede. En ook teenstrydighede, want vreemd genoeg wys dit ook dat ons eintlik meer gemeen het as wat ons dikwels besef . . . maar ongelukkig in die sin dat ons, ongeag ras, ons by verontmenslikende posisies skaar.

Johannesburg se burgemeester, Herman Mashaba, het hierdie week die uitvoerende lid vir gesondheid, Mpho Phalatse, geskors nadat sy verklaar het dat die stad ’n “vriend van Israel” is.

Sy het die uitlating die afgelope naweek op ’n “Vriende van Israel”-geselligheid gemaak.

Mashaba sê sy mag nie haar persoonlike houding teenoor Israel aan die stad toedig nie.

Tussen dié twee voorvalle het duisende Suid-Afrikaners op 15 Mei in Kaapstad en in ander stede opgeruk om teen Israel se geweld teen Palestyne in die Gaza te betoog.

In April vanjaar het die kunstenaar Black Coffee hewige kritiek ontlok toe hy in die Israelse kusstad Tel Aviv opgetree het. Sy verweer was dat hy – verstommend genoeg – onbewus van die oorlogsituasie in Israel-Palestina was.

Maar die Boycott, Divestment and Sanctions-beweging het uitgewys dat hy ook in 2014 daar opgetree het en hulle hom tóé al oor die omstandighede daar ingelig het.

Tussen dié twee voorvalle het duisende Suid-Afrikaners op 15 Mei in Kaapstad en in ander stede opgeruk om teen Israel se geweld teen Palestyne in die Gaza te betoog.

Die Israeli’s het met dodelike geweld gereageer op Palestynse betogings teen Donald Trump se besluit om die VSA se ambassade na Jerusalem te skuif.

Israel gebruik dieselfde taktiek as apartheidsowerhede

Die eerste opvallende resonansie met Suid-Afrika is dat Israel, net soos die apartheidstaat van ouds, allerlei taktieke aanwend om legitimiteit te probeer verkry. Dit sluit in uitreikaksies na plaaslike opposisie-politici (gegewe die ANC se anti-Israel-standpunt) en deur gewilde kunstenaars oor te haal om die kulturele boikot teen Israel te verbreek. Israel doen dit ook met strategiese uitreikaksies na die plaaslike sakesektor, ensovoorts.

Hierdie optrede weerklink histories, want dit is inderdaad tydens die apartheidsera dat Suid-Afrika en Israel in militêre verband begin saamwerk het. Albei lande was destyds onder internasionale druk oor hul binnelandse verdrukking van mense, en was gretig om vennote te vind.

Daardie samewerking het gepaardgegaan met ’n verskuiwing in Afrikaners se standpunt oor Israel, maar ook oor Jode in die algemeen.

In ’n koloniale opset soos dié van Suid-Afrika is die Bybelse verhaal van die Israeliete wat hul “beloofde land” invaar in die verlede as ’n regverdiging van setlaar-besetting van grond aangewend.

’n Mens kry die indruk dat sommige Afrikaners die Israeli’s beny omdat hulle nog steeds regkry wat Afrikaners moes opgee.

Die dekmantel was die uitbreiding van die Christelike geloof in “donker, onbeskaafde, heidense” Afrika. Vandaar Afrikaner-nasionalisme as “Christelike nasionalisme”: Dit is hoe Afrikaners die “uitverkore volk” kon word, met ’n Christelike missie om Suid-Afrika te oorheers.

Hierdie identifisering met die Bybelse Israeliete is die afgelope dekades, ook ná apartheid, na ’n identifisering met hedendaagse Israeli’s uitgebrei.

’n Mens kry die indruk dat sommige Afrikaners die Israeli’s beny omdat hulle nog steeds regkry wat Afrikaners moes opgee.

Hierdie identifisering is uiters ironies, want Afrikaner-nasionalisme was vir ’n groot deel van die 20ste eeu eksplisiet anti-Semities. Die anti-Joodse vooroordeel het uitgekom in byvoorbeeld die spotprente met die karikatuur “Hoggenheimer” in Die Burger van destyds. Dit het oor die dekades heen in retoriek voortgeduur.

Stereotipering en kru anti-Semitisme

Die anti-Semitisme in hierdie sin het te make met die stereotipe wat Joodse mense met geld en kapitalistiese uitbuiting vereenselwig. Dit is ’n stereotipe wat ook in Nazi-Duitsland met gruwelike gevolge uitgebuit is.

Kommerwekkend genoeg verskyn hierdie stereotipe en gepaardgaande anti-Semitisme in gewone gesprekke vandag, met wit én swart mense.

Van die stereotipering kan in die oënskynlik onskuldige gebruik van die term “Jewish” in alledaagse township-omgang gesien word, wat beteken om op ’n deftige manier aan te trek wat geld suggereer. Of dit kom uit in kru anti-Semitiese uitsprake.

Teenoor die bogenoemde is daar ’n ander posisie waarmee ek my versoen, naamlik om duidelik te wees dat ’n mens Israelse kolonialisme in Palestina in die vorm van Sionisme veroordeel, en nié Jode nié, en dat mens dus eweneens anti-Semitisme verwerp.

Black Coffee het kritiek ontlok met sy optrede in Tel Aviv. Foto: Argief

Iemand soos Black Coffee bring ’n verwarrende standpunt na vore wat moontlik as “post-ideologies” mag voorkom. Hy blyk nie anti-Semities te wees nie, en spreek ook nie sy steun in soveel woorde aan die Israelse besetting uit nie. Volgens hom tree hy op waar hy genooi word om gewoon sy “gesin te onderhou”.

Om die waarheid te sê, in ’n twiet het hy bygevoeg dat hy “ ’n koeël” vir sy gesin sal vat. Dit is ’n jammerlike metafoor, gegewe dat Palestynse volwassenes én kinders dikwels “ ’n koeël vat” as deel van die Israelse uitwissingsveldtog teen die Palestyne.

Sy boodskap blyk te wees dat hy ’n pragmatiese broodwinner is. Tog het hy aan ’n kunstenaarsboikot van ’n fees in Swaziland in 2011 deelgeneem weens sy oortuiging dat mens nie kan “gelukkig” wees terwyl Swazi’s “ly” nie.

Dit suggereer dat Black Coffee in ’n hiërargie van lyding inkoop: Swazi’s kan ly, maar Palestyne nie. Hier steek Islamofobie sy lelike kop uit, of minstens die opvatting dat Moslem- en/of Arabiese mense se lyding minder belangrik as Afrikane en/of swart mense s’n is.

Daarteenoor staan die posisie van sommiges in die ANC wat elke nou en dan luidkeels teen Israel te velde trek, maar grootliks gedurende die Zuma-era se geknoeiery, en die gepaardgaande voortsetting van sosiaal-ekonomiese ongelykheid, tjoepstil was. Nou hoe moet ’n mens dit lees?

* Prof. Van der Westhuizen is ’n genoot van die Democracy Works-stigting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.