Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA geensins ’n mislukte staat
Roelof Botha
Roelof Botha

Daar bestaan twee belangrike redes waarom dit ondeurdag is om te beweer Suid-Afrika is ’n mislukte staat.

Ten eerste is die bewering vals. Daar bestaan uiteraard meningsverskille oor die omvang van die land se probleme, veral op die gebiede van dienslewering en noodsaaklike infrastruktuur, maar dit is altyd raadsaam om ook na die feite te kyk voordat oordrewe standpunte ingeneem word.

Die hoofopskrif op die voorblad van Business Day vroeër vandeesweek het ’n treffende opsomming van een van die grootste probleme in die land verskaf met ’n aanhaling deur die nuwe hoof van Eskom, naamlik dat dié staatsonderneming wel ’n krisis beleef, maar dat die probleme reggestel kan word.

Dit is onsinnig en feitelik verkeerd om die voorkoms van beurtkrag, wat slegs af en toe plaasvind, en die algemene onbeholpenheid van die openbare sektor, wat grootliks deur oudpres. Jacob­ Zuma se beleid van kaderontplooiing ontstaan het, met die kenmerke van ’n mislukte staat te vergelyk.

Die waarheid is nie moeilik om te vind nie, aangesien daar jaarliks ’n indeks van mislukte state opgestel word (wat onlangs meer diplomaties verander is na ’n indeks van brose state).

Suid-Afrika is baie ver verwyderd van so ’n stel omstandighede.

Daarvolgens is daar tans slegs nege lande wat as mislukte state beskou kan word, naamlik Jemen, Somalië, Suid-Soedan, Sirië, die Demokratiese Republiek van die Kongo, die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Tsjad, Soedan en Afganistan, met Zimbabwe wat hard aan die deur klop om ook by dié bejammerenswaardige lysie ingesluit te word.

Die algemene kenmerke van ’n mislukte staat wentel om ’n algehele gebrek aan reg en orde, die ineenstorting van die ekonomie, menseregteskendings van die ergste graad en die afwesigheid van enige vorm van demokrasie.

Suid-Afrika is baie ver verwyderd van so ’n stel omstandighede. Trouens, ons Grondwet word allerweë as ’n toonbeeld van uitnemendheid op die gebied van staatsleer voorgehou en is volgens die Verenigde Nasies ’n voorbeeld wat deur alle lande nagestreef behoort te word.

Verder is Suid-Afrika een van die 35 grootste ekonomieë ter wêreld en het die land verlede jaar opgeskuif in die rangorde van internasionale mededingendheid. Op die gebied van die deursigtigheid van nasionale begrotings is Suid-Afrika in die nr. 1-plek en daar is 27 belangrike aanwysers waarvoor Suid-Afrika onder die wêreld se boonste 20% op die ranglys tel.

’n Staat wat misluk het, kry dit nie reg om wesenlike bedrae aan direkte buitelandse investering te lok nie.

’n Staat wat misluk het, kry dit nie reg om wesenlike bedrae aan direkte buitelandse investering te lok nie. Suid-Afrika het verlede jaar die derde hoogste vlak van sodanige investering in die geskiedenis gelok en het verreweg die mees gediversifiseerde ekonomie in Afrika.

Weinig, indien enige, toeriste besoek mislukte state. 10 miljoen toeriste het Suid-Afrika verlede jaar besoek, waarvan 2,6 miljoen van oorsee was.

In die tweede plek lei die foutiewe benaming van Suid-Afrika as ’n mislukte staat die aandag af van die paradigmaskuif in die beleidsbenadering wat deur pres. Cyril Ramaphosa begin is. Daarvolgens word toenemende aandag aan samewerking tussen die private en die openbare sektor gegee in die soeke na oplossings vir die land se ernstigste tekortkomings.

In die nastrewing van Ramaphosa se verklaarde hoofdoelwit – hoër groei en werkskepping – word kundigheid op alle­ gebiede nou op uitnodiging van die nuwe uitvoerende leierskorps verwelkom.

Moenie dít wat stukkend is in die land probeer vergruis nie – help eerder om dit reg te maak

Meer oor:  Roelof Botha  |  Suid-Afrika  |  Mislukte Staat  |  Regering  |  Suksesvol  |  Staat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.