Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA gesprekke ontaard te gou

Voordat alles in ’n geharwar ontaard het, was een van die bewonderenswaardige aspekte van Sondag se Global Citizens-konsert hoe dit Suid-Afrikaners van alle kleure en groottes byeengebring het.

Dit is bygewoon deur ryk mense wat die duur kaartjies kon bekostig, maar ook deur arm mense wat gratis kaar­tjies bekom het deur bewysbare goeie dade in gemeenskappe te doen.

Rapule Tabane

Ons het lanklaas so ’n rasdiverse gehoor van 100 000 mense gesien. Anders as op sportbyeenkomste was die geslagte ook gebalanseerd omdat talle vroue Beyoncé wou sien optree.

Ongelukkig weet ons ook hoe dit geëindig het, met talle mense wat beroof of lastig geval is.

Ek is herinner aan hoe Suid-Afrikaners van verskillende rasse en kleure moeilik by mekaar aansluiting vind toe ek geluister het na Johann Rupert se gesprek op Power FM oor sy opgang in die sakewêreld en lesse wat hy aan spesifiek swart entrepreneurs kon oordra.

Rupert het sy bes gedoen om sy wys-heid oor te dra, maar die gesprek het op ’n vals noot geëindig toe hy gevoel het hy word nie gewaardeer nie en hy van rassisme en neerbuigendheid jeens swart mense beskuldig is.

Ek dink glad nie Rupert was rassisties nie – hy was net homself. Hy is ’n ou mens wat deur sy opvoeding en waardes gevorm is en dit is hoe hy die wêreld sien. Hy het uit die hart gepraat, maar dis duidelik dat hy nie besef hoe die wêreld verander het en hoe swart mense die wêreld deesdae beskou nie.

Sy grappe oor Sjangaans en Vendas was so 1980’s. Dit was ’n tyd toe die apartheidsregering die verskille tussen swart mense ooreenkomstig hul stamme benadruk het, dus is verorden dat Zoeloes saam in ’n Zoeloe-koninkryk moes woon, Tswanas in ’n Tswana-

republiek, en so meer.

Hierdie belangrike onderwerp het so maklik in beledigings en stereotipering ontaard. Ons moet aan hierdie goed werk, nie waar nie?

Dis nie hoe swart Suid-Afrikaners hulself deesdae identifiseer nie. Hulle is Suid-Afrikaners. Swart Suid-Afrikaners, as dit daarop neerkom.

Rupert het ook openhartig gepraat oor hoe die Afrikanergenerasie voor hom hulself opgehef het. “In ’n sin was die Afrikaner onderdruk. Daar was die armblankevraagstuk, maar hulle was gedrewe. Hulle het gestudeer en gespaar. Hulle het nie BMW’s gaan koop of heeltyd by Taboo of The Sands uitgehang nie.”

Hoe goed hy dit ook al bedoel het, het dit glad nie goed oorgekom nie. Hy is daarvan beskuldig dat hy daarop sinspeel dat swart mense nie wil werk nie en net in hul spogmotors wil rondry of in duur nagklubs drink. Hy het probeer verduidelik dat hy na swart én wit jong mense verwys, maar dit was te laat. Toe het hy opgehou om aangenaam te wees en gesê as sy hulp nie nodig is nie, is hy heeltemal gelukkig om tyd saam met sy vriende en familie deur te bring.

Nog ’n gesprek wat heeltemal gedisintegreer het, was die een oor kwalifikasies vir LP’s na aanleiding van die onthulling dat John Steenhuisen, DA-hoofsweep, net matriek het. Opposisiepartye het die spot met die DA gedryf, maar Steenhuisen het gou teruggekap deur onder meer te sê die toppunt van die EFF se skynheiligheid is dat lede “soos myn- en huiswerkers aantrek, maar nie dink regte myn- en huiswerkers is goed genoeg om LP’s te wees nie”.

Ek het gedink dis ’n fantastiese antwoord. Maar nadat die EFF ’n foto van sy topses in universiteitstogas getwiet het, het Helen Zille kwaad geantwoord: “ Hulle het seker almal ’n graad in ‘griewestudies’ ontvang, waarin soveel universiteite vandag ongelukkig spesialiseer.”

Soos iemand gereageer het: “Onderwys is alles totdat ’n swart mens dit behaal, dan is dit skielik griewestudies.”

Hierdie belangrike onderwerp het so maklik in beledigings en stereotipering ontaard. Ons moet aan hierdie goed werk, nie waar nie?

* Tabane is City Press se politieke redakteur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.