Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA kan nie sulke blapse bekostig
Henry Jeffreys

Die eerste dae van inperking teen Covid-19 het nie heeltemal na wense verloop nie.

Talle mense steur hulle nie aan die regulasies om tuis te bly en hul afstand van ander te hou nie. Die owerhede het hulle ook duidelik misgis met mense se noodsaaklike behoeftes om op straat te wees, soos byvoorbeeld om toegang te kry tot hul maatskaplike toelaes.

Mense wat vir hul oorlewing afhanklik is van die toelaes, het Maandag hul huise in hul hordes verlaat om by betaalpunte te kom. Vervoerregulasies moes inderhaas verslap word om mense te akkommodeer. Dit is verstaanbaar dat daar in die planne vir inperking nie aan alles gedink kon word nie, maar maatskaplike toelaes moes sekerlik in berekening gebring word.

Dit is ook duidelik dat nie al die regering se boodskappe na almal deurgesyfer het nie. Maandag was veral problematies. Mense het in baie plekke hulle glad nie aan die regulasies gesteur nie.

Die polisie en owerhede het hul hande vol gehad om te verseker mense handhaaf die vasgestelde afstande tussen mekaar, veral by supermarkte en vervoerpunte. Plek-plek was daar aanduidings dat sommige mense die owerhede met hul gedrag uittart.

Ons leef in tye wat behoorlike perspektief in ons openbare uitsprake, ook van kommentators en waarnemers, vereis.

Daar is duidelik ’n behoefte aan ’n groter teenwoordigheid van die polisie en die weermag en om op te tree teen burgers wat die regulasies oortree, veral diegene wat doelbewus uittartend optree. Hulle behoort met die volle gesag van die reg gekonfronteer word.

Minstens twee kabinetslede, Bheki Cele (polisie) en Fikile Mbalula (vervoer), het hulle in sterk, militaristiese taal uitgelaat oor hoe daar teen oortreders opgetree gaan word. Dit het dadelik onder skoot gekom as ’n gevaar vir die demokrasie. Die kritiek het egter ietwat oordrewe geklink.

Ons leef in tye wat behoorlike perspektief in ons openbare uitsprake, ook van kommentators en waarnemers, vereis. Die optrede van baie mense in die eerste dae van die inperking was nie na wense nie en iemand moes dit duidelik maak dat die regering ernstig is om Covid-19 te stuit. Cele en Mbalula het dit op ’n onbeholpe manier probeer doen.

Iemand in my huishouding reken die regering se reaksie om die virus in toom te hou is uitgeknip vir Cele en Mbalula (’n voormalige polisieminister). Pres. Cyril Ramaphosa moet hul uitsprake dophou en hulle betig sou hy reken dit oortree die grense van demokratiese norme.

Die regering sal beslis sy kommunikasie oor die inperking moet opskerp – die boodskappe kom duidelik nie by almal uit nie. Gate in die kommunikasie-pyplyn moet gestop word en boodskappe moet duideliker op die groter meerderheid van mense gerig word. Dit kan nie net aanvaar word dat almal toegang tot alle mediaplatforms het nie.

Voeg daarby ook die hoë vlakke van ongeletterdheid en die omvang van die uitdaging om almal met boodskappe te bereik. Kommunikasie blyk ’n swak plek in die regering se mondering te wees en dit moet as ’n saak van dringendheid getakel word.

Dit is nog lank voor die inperkingstydperk verby is. Dit is baie moontlik dat teen die trant waarteen ons beweeg, dit verleng sal moet word. Die getal mense met Covid-19 styg daagliks, en juis daarom is dit noodsaaklik dat die regering se planne slaag.

Die tonele wat Maandag by betaalpunte afgespeel het, is teenproduktief. Hoe jy ook al daarna kyk, die regering moet pa staan vir dit wat verkeerd loop. Die land kan nie bekostig dat ooglopende blapse die proses ontspoor nie.

Die gevolge van mislukking sal, in die gevleuelde woorde van John Vorster, ’n voormalige eerste minister van die ou Suid-Afrika, “too ghastly to contemplate” wees.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Polisie  |  Mag  |  Covid  |  Koronavirus  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.