Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA Kersvaders skrik g’n vir ’n hittegolf?

Dit is laatmiddag in Melville, Johannesburg, en dit is wárm. Die hittegolf is soos ’n stoompot wat prut, die waaiers werk oortyd in warmgebakte huise en almal wag gretig dat die stoom afblaas. Aan die einde van die jaar het niemand meer krag om te hik of te kik nie. In die laaste pylvak van 2018 rol die meeste mense se wiele al af. Die opdraandes kan maar wag vir die nuwe jaar. Die vakansieluim hang reeds klam in die lug . . .

Ek stop een middag gou by die winkel waar ek gewoonlik draai vir brood en melk. ’n Mens ken naderhand die gesigte. En ek kry die nuwe rooi Kersvadergesig jammer. Van die hele wêreldwye bebaarde

Esté Gross

werkmag wat in Desember hul verskyning maak, dink ek die span hier aan die suidpunt van Afrika werk die hardste. Die Kersvader staan ondanks die versengende hitte pligsgetrou in sy rooi, wollerige Europese gewaad en hou sy sintetiese wit baard netjies op sy plek.

Ek ken nou al die straatmusikant met sy kitaar wat voor die winkel sit. Hy het altyd die-

selfde klere aan: ’n wit hemp, ’n jean en sy leerstewels. Vandag sing hy al voetstampend Creedence Clear­water Revival se “Bad Moon

Rising”. En dit net nadat ek nou weer op die radio gehoor het Eskom wil hê ons moet beurtkrag speel met ons Kersliggies. Hy sing die woorde onseremonieel en gaan haal die note daar ver agter uit sy keel met ’n rebelse onverskilligheid teenoor almal wat verby sy leë hoed loop.

Soos elke Kersfees waarsku ekonome verbruikers in Desember om tog spaarsamig met die 13de tjek om te gaan, maar dit is net so bekend soos die Kersliedjies wat jy elke jaar hoor. Jy hoor naderhand nie meer die lirieke nie. Mense is nou baie meer besorg oor die kreunende Kerstafel, want ná ’n jaar se riempies in die pot is die versoeking groot om vet gee.

Alhoewel dit ’n uitdagende jaar was, het Kersvader ’n vroegtydige geskenk in die kous kom stop met die brandstofprys wat daal so net voor die vakansie. Die damme is oor die algemeen voller as aan die begin van die jaar. En Dag Zero het genadiglik nooit in die Kaap aangebreek nie.

Ek dink die span hier aan die suidpunt van Afrika werk die hardste.

Wanneer die wêreld warm word, kan Suid-Afrikaners saamstaan. Dink net aan al die water en voer wat in die droogte aangery is en die oorweldigende reaksie van vrywilligers wat mense bygestaan en voorraad aan brandbestryders verskaf het toe die verwoestende brande in die Suid-Kaap gewoed het.

Skielik kry ek die Kersvader voor die winkel nie meer so jammer nie. Die protea is aangepas om ’n brand te oorleef. Ons Kersvaders doen juis hier diens omdat hulle die beste stamina van almal het.

Die wolke pak dikwels saam en lyk donker en onheilspellend, maar die druppels wat gewoonlik net daarna val, is rond, vet en vol belofte. Soos die middag by die winkel toe die wind die lug skielik salf met die reuk van reën. Ons het rede om dié jaar fees te vier, want Suid-Afrikaners kan ondanks die ongemak Kersvaderpakke vir mekaar aantrek. Ons kan Kersvader speel in ’n hittegolf.

  • Gross is ’n vryskut-omroeper, nuusleser en joernalis.
Meer oor:  Kersvaders  |  Hittegolf  |  Kersfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.