Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA kinders verdien al die geluk wat lewe kan bied

Sondag kom ’n tienjarige meisie op haar maatjie se lyk af waar dit aan ’n boomtak hang.

Ntwisiso Tshabalala was ’n gr. 4-leerling aan die Tivoneleni Primary School naby Giyani in Limpopo. Die boom waaraan sy gehang het, is agter in die erf van haar ouerhuis.

Daar is nie meer inligting bekend oor Ntwisiso se omstandighede of wat tot haar dood aanleiding gegee het nie. Dis ook nie duidelik waar haar ouers was ten tyde van die voorval nie.

Langs haar graf staan nie net haar naasbestaandes nie, maar ’n ganse samelewing – ’n samelewing wat tot verantwoording geroep behoort te word oor hoe dit met sy kinders gaan.

Oor wat in Ntwisiso se hart gewoel het op daardie tragiese Sondag, kan ’n mens slegs bespiegel.

Die tergende vrae bly: Het iemand raakgesien toe die glans in haar oë verdof het, dalk omdat iets verskrikliks met haar gebeur het? Het iemand gewonder hoekom sy dalk nie op skool presteer nie, moontlik omdat sy dit moeilik gevind het om te leer en daaroor gespot is?

Het ’n gawe tannie besef haar skoolpunte is swak omdat sy dalk altyd honger was? Het ’n juffrou opgelet dat sy dalk gereeld hartseer was en haar daaroor uitgevra? Het ’n ouer kind dalk opgemerk hoe sy pouses eenkant was omdat sy dalk vir boelies probeer wegkruip het? Was daar ’n grootmens wat in haar geglo en haar drome aangemoedig het?

Na raming is een uit elke drie kinders in ons land die slagoffer van seksuele geweld en fisieke mishandeling voordat hulle 18 jaar oud is.

In ons land is 20 miljoen kinders jonger as 18. Dit gaan nie goed met die meeste nie. In ’n land waar armoede en misdaad hoogty vier, is dit dikwels die weerloses wat die ergste ly.

Volgens die Verenigde Nasies woon tot 89% van tieners en jong volwassenes wat aan geestesiektes soos depressie ly in lande waar die meeste mense ’n lae inkomste het. In dié lande is daar gewoonlik nie goeie geestesgesondheidsorg nie. In Suid-Afrika is daar een psigiater vir elke 100 000 mense. Na raming is een uit elke drie kinders in ons land die slagoffer van seksuele geweld en fisieke mishandeling voordat hulle 18 jaar oud is. 29% van kinders leef onder die broodlyn.

Luidens ’n onafhanklike verslag oor transformasie in sport wat Maandag bekend gestel is, het slegs 8% van leerlinge in ons 25 000 openbare skole toegang tot sportdeelname. Letterlik miljoene kinders word dus ontneem van die baie voordele wat dít aan kinders bied, waaronder stresontlading, ’n goeie selfbeeld en die aanleer van belangrike lewensvaardighede, soos dissipline en konflikhantering.

Die gety moet draai vir kinders soos Ntwisiso en duisende ander wat oënskynlik nie raakgesien word nie.

Ons kinders is ons kosbaarste besitting, het Madiba gesê. “Saam, as ’n nasie, het ons die verantwoordelikheid om sonskyn in ons kinders se harte te sit. Hulle verdien al die geluk wat die lewe kan bied.”

Retha Fick is adjunkredakteur van Beeld.

Meer oor:  Kinders  |  Kindermishandeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.