Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA kort diverse werkplekke

Bevrydingsnasionalisme ontneem ons van die geleentheid om mekaar in die werkplek oor rasgrense heen beter te leer ken.

Alida Kok

Bevrydingsnasionalisme, wat hoofsaaklik deur die ANC gedryf word, maak die openbare sektor (die deel van die ekonomie wat onder staatsbestuur is) en die private sektor (waar die staat ook inmeng om te bepaal hoe swart ekonomiese bemagtiging toegepas word) toenemend ’n eksklusiewe spasie vir burgers wat aan sekere verhewe rasse-eienskappe voldoen.

Die ANC se Afrika-nasionalisme – waarna ek verwys as “bevrydingsnasionalisme” – bevat nog altyd ’n konseptuele spanning tussen universalisme (wat meen dat Suid-Afrika aan al haar inwoners behoort) en Afrikanisme (wat trots in die prestasies van Afrikane wat deur apartheid vertrap is, wil herstel en wat vyandig is teenoor “nie-Afrikane”).

Die ANC is byvoorbeeld oorspronklik ’n kosmopolitiese organisasie sedert die 1950’s en 1960’s, maar sy nasionalistiese projek het die laaste paar jaar al hoe meer bepaal wie in- en wie uitgesluit word. Swart Suid-Afrikaners, wat 76,4% van die bevolking uitmaak, word in die algemeen by werkplekke ingeskuif en ander Suid-Afrikaners word uitgeskuif.

Ja, bevrydingsnasionalisme het sekere positiewe gevolge. Dit het ’n aandeel in die groei van die swart middelklas, want dit bied ’n spasie vir mense om te presteer (hoewel dit moeilik is om te bepaal wie presies die “middelklas” is, meen die ANC die swart middelklas het die afgelope vyf jaar van 1,7 miljoen tot 6 miljoen mense gegroei). Dit het ook tot gevolg dat ’n derde van die bevolking broodnodige welsyntoelaes kry.

Ek het ’n diverse groep kollegas en ons deel mekaar se geluk en pyn en leer mekaar se families ken.

Tegelyk lei bevrydingsnasionalisme tot ’n oneweredige toekenning van welsyntoelaes (in 2016 het 17 miljoen mense toelaes ontvang, terwyl net 15,5 miljoen mense werk het), die ontstaan van ’n oorgroot staatsdiens (volgens 2014-getalle het ons 2,161 miljoen staatsamptenare), netwerke waarin patronaatskap­politiek floreer en omstandighede waarin versoening nie regtig plaasvind nie, want diversiteit in werkplekke in veral die openbare sektor neem af.

In ’n land waar ons steeds grootliks apart van mekaar leef in die areas wat die apartheidstelsel aan ons toegeken het, het ons juis diverse werkplekke nodig om mekaar regtig as mense oor rasgrense heen te leer ken. Die kanse is skraal dat dit iewers anders gaan gebeur.

Ek het dit by ’n staatsdepartement ervaar en ek ervaar dit tans by die universiteit waar ek werk: Ek het ’n diverse groep kollegas en ons deel mekaar se geluk en pyn en leer mekaar se families ken. Ons leef nader aan mekaar omdat ons mekaar by die werk leer ken.

As wit Afrikaanssprekende het ek nie regtig ’n plek in die openbaar nie, tensy ek dit vir myself oopkloof.

Ek voldoen nie aan die rasse-eienskappe wat vereis word deur die huidige bevrydingsnasionalistiese projek nie en gevolglik wil ’n werkgewer my nie permanent aanstel nie. My tyd as werknemer op my vakgebied is dus gewoonlik beperk. Al vorm ek bande met ’n diverse groep kollegas, het ek as wit Afrikaanssprekende nie regtig ’n plek in die openbaar nie, tensy ek dit vir myself oopkloof. Dis die ervaring van baie wit Afrikaanssprekendes van my generasie. (Let wel: Ek sê nie dit is net wit Afrikaanssprekendes se ervaring nie.)

Dié omstandighede het twee gevolge: Eerstens, al is daar slegs ongeveer 2,71 miljoen wit Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika, gaan dit al hoe opvallender word hoe jong mense in dié groep hulle in die private sektor en burgerlike samelewing bekwaam, want hulle het nie meer ’n plek in die openbare sektor nie. 

Tweedens, as ons mekaar nie oor rasgrense heen by die werk kan leer ken nie, sal ons uit ons pad moet gaan om mekaar ter wille van ons medevermensliking iewers anders te leer ken.

Kok is ’n dosent in politieke wetenskap aan Unisa.

Meer oor:  Alida Kok  |  Menings  |  Werk  |  Werknemers  |  Werkplek  |  Diversiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.