Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA krisis dwing gelowiges tot God – én aksie
Isak Burger

Die Kerk van Jesus Christus – oor al sy mensgemaakte grense heen – het nog altyd en oral sy ware kleure en karakter in moeilike en onstuimige tye en omstandighede getoon.

Hoewel algemene voorspoed en rustigheid verkieslik en gemaklik is, is dit nie altyd en in alle opsigte tot voordeel van die kerk nie. Dit was dikwels in tye van ekonomiese en politieke druk en onsekerheid dat die kerk se invloed en rol die grootste was.

Dis nie dat mense ophou om gelowig te wees wanneer alles gemaklik en gunstig is nie, dis net dat die kerk dan gewoonlik in ’n gemaksone beland wat kan meebring dat sy groei, en die roeping en passie van gelowiges, kwyn en hulle neig om die beginsels van die Koninkryk van God te verruil vir wêreldgelykvormigheid. Dit verminder die impak van die kerk se getuienis na buite. Lig is immers opvallender hoe donkerder dit word.

Met Paastyd op hande is Suid-Afrika polities, ekonomies en maatskaplik op ’n baie slegte plek. Baie mense loop weens swak dienslewering en korrupsie met frustrasie, moedeloosheid en magtelose woede.

Die anargie en krisisse op soveel vlakke en plekke in ons land is veral aan die regerende party te wyte.

Dit gaan hand aan hand met barbaarse, misdadige en vernietigende optrede wat kwalik anders as boos beskryf kan word. Watter besetenheid dryf mense om op hul vernietigingspad selfs kerkgeboue te verwoes en Bybels stukkend te skeur?

Die anargie en krisisse op soveel vlakke en plekke in ons land is veral aan die regerende party te wyte.

Suid-Afrika hét die mensepotensiaal en minerale rykdom om ’n vooruitstrewende en suksesvolle land te wees – as ons net die leierskap en regering gehad het wat in diens van sy mense gestaan het en nie in die hande van ’n selfverrykende netwerk van grootliks korrupte, onbekwame en integriteitlose leiers beland het nie.

Die regerende party is deurtrek van terminale morele kanker en dit is te betwyfel of hy daarvan sal kan herstel. Mag- en geldsug het ’n afstootlike gesig aangeneem. Dis dié toedrag van sake wat in die aanloop tot die algemene verkiesing menige gelowige aktiveer. Talle Christene oor die Suid-Afrikaanse spektrum heen vestig in desperaatheid al hoe meer hul hoop op God en bid en glo dat die Here sal ingryp. Dit het in 1994 gebeur. Dit is nou nodiger as ooit.

Daar is verskillende gebedsnetwerke in die land wat hande gevat het. Natuurlik moet ons bid én werk (en stem). Kerkgrense vervaag soos wat Christene en Christen-inisiatiewe verenig – meestal ónder die radar. Christian Consensus is een van die prominentstes.

Soos so dikwels in die geskiedenis is dit nie ’n denominasie of ’n kerkleier wat die leiding neem nie. Die inisiatiewe kom van gewone gelowiges. Die krisis het groot genoeg geraak om talle van ons tot God – en tot aksie – te dwing.

Meer oor:  Isak Burger  |  Gelowiges  |  Kerke  |  Krisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.