Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA leef in staat van ontkenning
Prof. Amanda Gouws

Die woordeboek definieer ontkenning as die weiering of onwilligheid om iets wat werklik is, te erken of aanvaar. In Suid-Afrika leef ons in ’n staat van ontkenning.

Oudpres. FW de Klerk ontken dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom was. Oudpres. Jacob Zuma ontken dat hy iets verkeerd gedoen het. Die openbare beskermer ontken dat haar optrede in baie gevalle onwettig was. Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), ontken dat sy ’n misdadige direkteur was. Julius Malema en die EFF ontken dat hulle ontwrigtingspolitiek verreikende gevolge het. En die lys gaan aan.

Die politiek van ontkenning moet gesien word in die ruimte wat deur fop-nuus geskep word. As ons leuens as waarheid kan verkondig, kan ons ook die waarheid as onwaarheid weergee.

Die geval De Klerk, wat weer eens die ou apartheidstegniek van “ek het nie geweet nie” gebruik het, laat ’n mens wonder op watter planeet hy lewe.

’n Mens hoef net rondom jou te kyk na die ellende van so baie mense wat sosiaal en ekonomies uitgesluit is om die lang skaduwee van apartheid rondom ons te sien.

Die joernaliste Jacques Pauw en Max du Preez het die afgelope week gesê hulle het De Klerk ingelig oor die afgryslikhede en grootskaalse menseregteskendings van Vlakplaas.

Die joernaliste Jacques Pauw en Max du Preez het die afgelope week gesê hulle het De Klerk ingelig oor die afgryslikhede en grootskaalse menseregteskendings van Vlakplaas. Hy hét geweet.

As politici die belange van die land en sy mense op die hart gedra het, sou hulle die staatsrede met erns bejeën het omdat die land op die rand van ’n ekonomiese afgrond staan.

Maar die EFF laat geen kans verbygaan om hulself te laat geld nie. Dié van ons wat die sirkus wat die staatsrede voorafgegaan het, moes aanskou, weet dat hierdie skouspel die dans van die EFF met die ANC is, wat niks te doen het met die welstand van die land nie.

Dit is onsmaaklik en onbetaamlik. Wat buitelandse beleggers sien, is ’n sogenaamde piesangrepubliek. En ons almal betaal die prys met dalk nóg ’n afgradering van ons ekonomie.

Die ANC het vooraf geweet die EFF gaan die staatsrede ontwrig. Hoekom het die speaker, Thandi Modise, nie die parlementêre reëls bestudeer nie?

Die ANC het vooraf geweet die EFF gaan die staatsrede ontwrig. Hoekom het die speaker, Thandi Modise, nie die parlementêre reëls bestudeer nie? Die nuwe reëls is juis geskryf om die EFF in toom te hou.

Dit is die arrogansie van die ANC wat daartoe gelei het dat almal van ons vir twee uur aan waansin blootgestel is.

Die beskuldigings teen Malema en pres. Cyril Ramaphosa dat hulle vroueslaners is, het die baie ernstige kwessie van geweld teen vroue goedkoop gemaak vir politieke gewin.

Die apologieë wat aangeteken is deur Ramaphosa, Malema en die ANC-LP Boy Mamabolo, laat dit lyk of geslagsgeweld met verskonings besweer kan word. Die groter vraag is wat doen ons met die inligting dat hierdie politici moontlik vroueslaners is? Behoort ons dit daar te laat ter wille van politieke stabiliteit?

Nóg ’n skande is die vroulike LP’s wat hulle verlustig het in Mamabolo se aantyging oor Malema. Het ons een van hulle gesien wat in die parlement ’n saak uitmaak vir die bekamping van geslagsgeweld?

Die ontkenning van die erns van geslagsgeweld is hoekom die ANC nog geen vordering gemaak het daarmee om seksuele geweld hok te slaan nie, ten spyte van die daaglikse pyn van vroue en kinders wat verkrag en/of doodgemaak word.

Die probleem met ontkenning is dat dit ons verlam om iets daadwerkliks aan ons probleme te doen.

Môre lewer die minister van finansies sy begrotingsrede. Volgens alle aanduidings gaan ons dit aan ons sakke voel. Gaan ons dan nog ontken dat ons op die rand van die afgrond staan?

  • Prof. Gouws is verbonde aan die departement politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Amanda Gouws  |  Julius Malema  |  Fw  |  Apartheid  |  Oproer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.