Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA Lugmag, 100 jaar

Die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) se eeufees sou vandeesweek by die Lugmagbasis Waterkloof gevier word op Afrika se grootste militêre skou, die tweejaarlikse Africa Aerospace and Defence Exhibition (AAD). Dié skou is as gevolg van die Covid-19-pandemie tot 2022 uitgestel. Hopelik sal geleenthede geskep word vir die herdenking van die ryk geskiedenis van die SALM, die wêreld se naasoudste lugmag, skryf André Wessels.

Ystervuis in die lug. Die lugmagbemanning van ’n Oryx-helikopter en soldate toon hul staal.Foto: Herman Verwey

Die wortels van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) strek terug tot 1 Julie 1912 toe die Unie-Verdedigingsmagte (UVM) gestig is.

Toe die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitbreek, is ’n lugkorps as deel van die aktiewe burgermag tot stand gebring en het hulle Henri Farman F27-vliegtuie vir verkenning gebruik tydens die veldtog in Duits-Suidwes-Afrika. Dié korps is daarna ontbind. Talle Suid-Afrikaners het egter tydens die oorlog as lede van die Britse Royal Flying Corps (RFC) diens gedoen.

’n Eie lugmag

Die destydse minister van verdediging en later eerste minister van Suid-Afrika, genl. Jan Smuts, het die waarde van vliegtuie in lugverdediging en as aanvalswapen besef. As lid van die Britse oorlogskabinet in die laaste oorlogsjare het hy die grondslag vir die totstandkoming van die Britse Royal Air Force (RAF) gelê. Hy was vasbeslote dat Suid-Afrika ook sy eie lugmag moes kry, en in praktyk was Smuts die vader van die wêreld se twee oudste lugmagte, die RAF en SALM.

Op 1 Februarie 1920 is kol. Pierre van Ryneveld as die direkteur van lugdienste aangestel. Dit word as die stigtingsdatum van die SALM beskou, hoewel die lugmag eers vanaf 1 Februarie 1923 amptelik as ’n eenheid van die geherstruktureerde UVM gelys is.

Die SALM is vir die eerste keer operasioneel ontplooi tydens die Randse staking van 1922. In Mei en Junie 1922 is die SALM ook tydens die onderdrukking van die Bondelswartsopstand in die destydse Suidwes-Afrika (SWA) suksesvol ontplooi, en weer in 1925 in Rehoboth in SWA.

Genl. Jan Smuts, die vader van die Britse Royal Air Force en die Suid-Afrikaanse Lugmag, die wêreld se twee oudste lugmagte.Foto: Argief

Tweede Wêreldoorlog

Die ná-oorlogse depressie vanaf 1918, asook die groot wêrelddepressie van 1929 tot 1934, het die UVM swaar getref, maar die SALM het ten spyte daarvan uitgebrei. ’n Lugvaartbedryf is ook plaaslik gevestig. Nogtans was die SALM nie goed voorberei op die uitdagings wat die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 sou stel nie. In daardie stadium het die SALM ’n personeelkorps van 1 862 en 104 vliegtuie gehad, maar slegs agt vliegtuie kon in ’n gevegsrol aangewend word.

Onder die bekwame leierskap van Smuts, wat weer eerste minister geword het, is die UVM en daarmee saam die SALM uitgebrei en voorberei om operasioneel teen die Spilmoondhede ontplooi te word. Nuwe basisse en vliegskole is tot stand gebring, en onder die Joint Air Training Scheme

Teen September 1941 het die SALM se personeel tot 31 204 gegroei, en was daar nie minder as 1 709 vliegtuie in die land nie, meestal opleidingsvliegtuie vir die JATS. Aangesien Suid-Afrika ver weg van die belangrikste operasionele sones was, kon opleiding hier sonder vyandelike inmenging plaasvind.

Die SALM het die Kaapse seeroete gepatrolleer. Tydens die UVM se ontplooiing teen die Italiaanse magte in Abessinië en Somalië (1941) het die SALM lugsteun aan die grondmagte verleen. Vervolgens is die SALM na Noord-Afrika ontplooi (1941-1943) waar hulle die ander Geallieerde magte gehelp het om oppermag in die lug te bekom en te behou. Intussen het die SALM ook in 1942 aan die suksesvolle Geallieerde veldtog teen die Vichy-Franse in Madagaskar deelgeneem.

Van 1943 af is SALM-eskaders tydens die Geallieerde aanslag teen Italië ontplooi. Vliegtuie van die SALM is ook suksesvol in ander dele van die Middellandse See-gebied aangewend, hulp is aan partisane in Joego-Slawië verleen, asook aan Poolse versetstryders, en daar is op Duitse duikbote in die Atlantiese Oseaan jag gemaak.

In die oorlog het 44 569 mense in die SALM diens gedoen, en ongeveer 5 000 SALM-vliegtuie het sowat 140 000 operasionele vlugte onderneem. Altesaam 2 319 personeellede het gesterf, 932 is gewond of beseer en ongeveer 280 is krygsgevange geneem.Ná die oorlog

Ystervuis in die lug. Die lugmagbemanning van ’n Oryx-helikopter en soldate toon hul staal.Foto: Herman Verwey

Ná die oorlog is die SALM afgeskaal, maar met verloop van tyd is ook nuwe vliegtuie aangeskaf. In 1948 is ook drie Sikorski S-51 helikopters van Amerika gekoop. Dieselfde jaar het SALM-personeel aan die Berlynse lugbrug deelgeneem.

Nadat die Nasionale Party, ook in 1948, aan die bewind gekom het, het die nuwe bewindhebbers alles moontlik gedoen om die land se weermag se “Britse karakter” te verander, en “regstellende aksie” het beteken dat meer Afrikaanssprekendes in senior weermagposisies aangestel is.

Toe die kommunistiese Noord-Korea die pro-Westerse Suid-Korea op 25 Junie 1950 binneval, het die Suid-Afrikaanse regering besluit om 2 Eskader daarheen te ontplooi, waar hulle eers F-51D Mustangs en later F-86F Sabres gevlieg het as deel van Amerika se 18th Fighter-Bomber Wing. Met verloop van tyd is die SALM ook in Suid-Afrika met Sabres toegerus en met Vampire-spuitvliegtuie en Shackleton- maritieme patrollievliegtuie.

’n Kwantumsprong in sofistikasie het plaasgevind toe besluit is om ’n groot aantal Mirage III-spuitvliegtuie van Frankryk aan te koop. Ander aankope in die 1960’s het ingesluit Canberra-bomwerpers, Buccaneer- maritieme aanvalsvliegtuie, Lockheed Hercules C-130- en later ook Tansall C-160-transportvliegtuie, Albatross- maritieme patrollievliegtuie, en Alouette-, Wasp-, Super Frelon- en Puma-helikopters.

Grensoorlog

Vanaf 1966 tot 1989 het die sogenaamde Grensoorlog (as deel van die veel omvangryker Suider-Afrikaanse Oorlog van 1961 tot 2002) in die noorde van SWA/Namibië en in Angola gewoed. Die meeste van die vliegtuie en helikopters wat vanaf die 1960’s bekom is, is deur die SALM in dié oorlog ontplooi ter ondersteuning van die SA Leër­.

Intussen is Impala Mk I- en Mk II-opleidingsvliegtuie plaaslik onder lisensie vervaardig, soos ook Bosbok- en Kudu- ligte vliegtuie.

In die 1970’s is Mirage F1-gevegsvliegtuie van Frankryk aangekoop – die laaste groot aankope van militêre toerusting voordat die Verenigde Nasies se verpligte wapenboikot op 4 November 1977 in werking getree het.

Intussen, vanaf 1973, is die eerste vroue as uniformpersoneel in die SALM aangestel, aanvanklik as lugwaardinne, maar later ook in ander hoedanighede, totdat vroue uiteindelik ook as vlieëniers opgelei is.

Later jare

Teen die tyd dat die “Grensoorlog” geëindig het, is ’n hele aantal Mirage III’s herbou en het hulle voortaan as Cheetahs bekend gestaan. Puma-helikopters wat gemoderniseer is, was voortaan bekend as Oryx’e. Met verloop van tyd is ’n aantal Dakota-vragvliegtuie ook herbou as Turbodaks.

Maar in die nadraai van die oorlog is die SALM geweldig afgeskaal, eskaders ontbind en die Buccaneers, Canberras, C-160’s, DC-4 Skymasters, Bosbokke, Kudu- en Albatross-vliegtuie en Super Frelon-helikopters aan diens onttrek, en later ook die Mirage F1’s.

Aan die positiewe kant is die ou Harvard-opleidingsvliegtuie met nuwe Pilatus PC-7 Mk II Astras vervang. Plaaslik is die Rooivalk-aanvalshelikopter ontwerp en gebou. Met die wapenpakket wat op 19 November 1998 bekend gestel is, het die SALM met verloop van tyd nuwe Hawk-opleidingsvliegtuie, gevorderde Gripen-spuitvliegtuie, Agusta A-109- ligte helikopters en Lynx-duikbootjaghelikopters ontvang. Ongelukkig is die bestelling vir agt groot Airbus A400M-transportvliegtuie in 2009 gekanselleer.

Steundienste

In die loop van sy eerste 100 jaar se geskiedenis is die SALM naas militêre operasionele doeleindes ook vir ’n groot verskeidenheid ander take aangewend, insluitende kuslyn- en grenspatrollering, soek-en-reddingswerk oor land en see, en ander humanitêre hulpverlening. Hierdie hulpverleningswerk gaan waar nodig voort. Mylpale is die hulp aan die vloedgeteisterde Mosambiek (veral in 2000), asook die dramatiese redding van al die passasiers en bemanningslede van die passasierskip Oceanos (4 Augustus 1991).

Die SALM gaan ook voort om die SA Leër in vredesmagoperasies te ondersteun, soos in die DRK, Soedan en Burundi.2020Die SALM van 2020 is slegs ’n skaduwee van wat dit in die 1960’s tot laat 1980’s was, maar gaan voort om Suid-Afrika en sy menste te dien.

André Wessels
André Wessels

Hopelik sal die SALM so gou as moontlik nuwe ligte, medium- en groot vragvliegtuie, asook maritieme patrollievliegtuie, ontvang.

Intussen kan alle verantwoordelike Suid-Afrikaners met trots kyk na die SALM se soms veelbewoë, maar ook fassinerende geskiedenis.

En hopelik sal ons lugmag se eeufees tog later vanjaar of so gou as moontlik in 2021 en ook by AAD 2022, asook in 2023, op gepaste wyses herdenk word sodat ons nie sal vergeet nie.

Wessels is ’n senior professor in die Universiteit van die Vrystaat se geskiedenisdepartement en ’n besoekende professorale genoot by die Australian Defence Force Academy in Canberra. Hy skryf in sy persoonlike hoedanigheid.

Meer oor:  Eeufees  |  Vliegtuie  |  Oorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.