Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA lyk gerat vir ’n korona-krisis

Die nuus dat die gevreesde koronavirus sy opwagting in Suid-Afrika gemaak het, het nie heeltemal as ’n skok gekom nie – dit was altyd net ’n kwessie van tyd. Suid-Afrika is per slot van sake geïntegreerd in die res van die wêreld en ons burgers reis die wêreld vol vir sake, sport en vermaak.

Die nuus is egter met ’n mate van kommer begroet, veral weens skeptisisme oor die land se vermoë om ’n groot mediese krisis na behore te bestuur.

Suid-Afrika het van die meeste mense wat met MIV/vigs lewe, en ons het nie juis die ligte uitgeskiet met die bestuur van die onlangse listeriose-uitbraak nie (honderde mense is besmet en dit het die dood van 180 mense veroorsaak).

Suid-Afrika se aanvanklike hantering van die MIV/vigs-pandemie was niks minder as ’n skande nie, veral weens oudpres. Thabo Mbeki se weiering om die verband tussen die virus en vigs te erken. Dit het beleid in ’n rigting gestuur wat teen die aanvaarde wetenskaplike bewyse ingedruis het.

Na raming is sowat 33 000 mense weens die omstrede hantering van die pandemie dood. Skuld hiervoor word direk voor die deur van Mbeki gelê.

Teen Maandag is daar amptelik sewe gevalle van die koronavirus in Suid-Afrika bevestig. Die verwagting is dat dit sal toeneem, ook omdat sowat 180 burgers tans in die Chinese stad Wuhan, die ontstaanpunt van die virus, na Suid-Afrika gerepatrieer gaan word.

Op die oog af word die situasie met bestendigheid bestuur onder die leiding van die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize. Hy word bygestaan deur die nasionale instituut vir oordraagbare siektes, wat ’n groot rol gespeel het in die bekamping van listeriose.

Mkhize bly gefokus op die uitbou van die nodige infrastruktuur om mense met die virus te behandel.

En anders as een van sy voorgangers, dr. Manto Tshabalala-Msimang, in die geval van die MIV/vigs-pandemie, bevraagteken hy nie die wetenskap nie, en is daar geen teken dat hy die situasie probeer verpolitiseer nie.

Dis wat in Amerika gebeur, wat net verwarring en chaos in dié land se hantering van die virus veroorsaak.

Dit is te verstane dat mense probeer om voorsorgmaatreëls te tref deur voorrade van onder meer gesigmaskers, toiletpapier en handreiniger te koop.

Hoe meer gevalle bevestig word, hoe meer sal dit gebeur dat mense optree om hulself te probeer beskerm.

Mkhize is egter korrek as hy sê mense moet liefs eers die basiese voorsorgmaatreëls tref, soos om so gereeld as moontlik hande te was, nie in die openbaar te nies of hoes nie, en ’n dokter te spreek sodra simptome van die virus vermoed word.

Die media het ook ’n verantwoordelikheid wat betref hoe daar oor die virus gerapporteer word.

Dit is belangrik om nie alles te glo wat op sosiale media gedeel word nie. Elders in die wêreld word sosiale media ingespan om fopnuus oor die virus te versprei. Sosialemediaplatforms, veral Facebook en Twitter, het ’n verpligting om fopnuus oor die virus te identifiseer en te verwyder.

Intussen rig die virus ook groot ekonomiese skade aan, nie net plaaslik nie, maar wêreldwyd. Globale markte het Maandag skerp geval, met nog weinig verligting in sig. Dit is iets wat Suid-Afrika se brose ekonomie kwalik kan bekostig. Daar is egter nie veel wat die regering hieraan kan doen nie. Ons is reeds in ’n tegniese resessie en die situasie kan net vererger.

Vir nou is dit egter belangrik dat die fokus bly op die bekamping van die verspreiding van die virus en te hou by Mkhize se bestendige hand op die stuur van sake. Suid-Afrika kan nie nog ’n mediese skandaal, soos byvoorbeeld die Life Esidimeni-skandaal, bekostig nie.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Covid-19-Virus  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.