Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA ’n land van moedswillige politici en burgers

Suid-Afrikaanse politici gedra hulle soos kinders eerder as om soos grootmense verantwoordelikheid vir hul dade te neem, skryf Dawid Kuyler.

Restaurantwerkers in Kaapstad nadat die polisie betogers met ’n waterkanon uiteengejaag het. Foto: Reuters

Ek het ’n baie oulike vierjarige kleinseun en hy het ’n sussie wat net meer as ’n jaar oud is.

Hul ouma het sedert die begin van die Covid-19-pandemie vir meer as drie maande na hulle gekyk. Behalwe al die oulike goed wat kleinkinders doen, het Kleinseun ook weer bevestig dat kinders van sy ouderdom moedswillig is. As sussie met iets speel, dan moet hy dit afvat. As sussie slaap, dan moet hy voor haar kamerdeur of kamervenster gaan geraas maak.

Almal wat kinders het, sal weet hulle kan goed moedswillig wees. Hulle weet al wat reg is, maar doen dit nie. Ons verdra dit omdat ons weet kinders is maar so. Ons probeer baie hard om hulle te dissiplineer en te kry om minder moedswillig te wees.

Hierdie moedswilligheid verdwyn darem as hulle groter word, hoewel sommige rugbyspelers dit blykbaar nie ontgroei nie. Kyk maar wat gebeur as ’n strafskop toegeken word: Sommige spelers sal terugval, maar die bal saam met hulle neem en die ander span die geleentheid ontneem om vinnig ’n tikskoppie te vat. Gelukkig straf die skeidsregter sulke spanne vir moedswilligheid.

As daar een groep volwassenes is wat nie maklik moedswilligheid afleer nie, is dit politici.

Die ANC kan maklik sy naam verander na die Moedswillige Party.

Die DA sit met Helen Zille wat lyk asof sy moedswillig goed twiet en vele probleme in die party veroorsaak.

Die ANC kan maklik sy naam verander na die Moedswillige Party. Hulle ontplooi hul kaders na talle instellings en as die kaders droogmaak en belastingbetalers miljoene rand kos, dan word die kaders net weer moedswillig herontplooi om op ’n ander plek te gaan droogmaak.

Die agteruitgang van die SAUK, SAL, Prasa, Eskom en vele ander semistaatsinstellings is ’n bewys van absolute politieke moedswilligheid.

Sedert die begin van die inperking sien ons hoe die nasionale Covid-19-bevelsraad absoluut moedswillig is met regulasies. Telkens moet instansies hof toe gaan om die staat te probeer dwing om af te sien van onredelikheid en moedswilligheid. Baie van die moedswilligheid word verdedig as noodsaaklik. Dink maar aan die departement van maatskaplike ontwikkeling wat die verspreiding van kospakkies wou sentraliseer. Met gesprekke tussen belanghebbendes en kenners, sou die bevelsraad baie aan hofkoste kon spaar.

Taxi-eienaars het uit moedswilligheid die staat deur betogings gedreig omdat hulle nie tevrede was met die hulppakette nie en aangedring het op ’n besetting van 100% van taxi’s. Wat sal gebeur as alle ander besighede dieselfde houding inneem en dit ook doen?

Grootmense kan nie moedswillig wees

Pres. Cyril Ramaphosa aan die woord by die gedenkdiens vir Andrew Mlangeni. Ramaphosa is baie ontsteld oor hoe Covid-19-fondse deur korruptes misbruik word. Foto: AP

Vreedsame betogers is verlede week by die parlement deur die polisie met waterkanonne en skokgranate uiteengejaag. Absolute moedswilligheid van die polisie terwyl onwettige grondbesetters vrye teuels gegee word.

Rokers in Suid Afrika sal jou vertel die verbod op sigarette is moedswilligheid van die bevelsraad terwyl die smokkelhandel gedy en die staat reusebedrae aan belasting verloor.

Ons kan die verbod op drank in ’n mate verstaan, maar as die bevelsraad die drankbedryf glad nie vooraf gekonsulteer het nie, dan kan dit ook as moedswillig vertolk word.

Lede van die adviesraad wat die bevelsraad van advies bedien, het oor ’n radiostasie vertel hoedat die bevelsraad eenvoudig nie na wetenskaplikes luister nie.

Die hele VBS-sage getuig van moedswilligheid van die ANC en EFF.

Onafhanklike navorsers moet hulle op die hof beroep om inligting te bekom oor die modelle wat die staat gebruik in die pandemie. In my oë is dit pure moedswilligheid. Ondeursigtigheid is ’n teken van moedswilligheid. Die feit dat die staat telkens hof toe gesleep moet word dui op moedswilligheid.

Pres. Cyril Ramaposoa was met sy laaste toespraak baie ontsteld oor hoe Covid-19-hulpfondse deur korrupte politici, amptenare en ANC-lede misbruik is. Hierdie mense het die situasie uitgebuit en moedswillig fondse vir eie gebruik aangewend. Nou word daar opnuut ’n kommissie aangestel en almal weet niks gaan gebeur nie.

Die hele VBS-sage getuig van moedswilligheid van die ANC en EFF. In die verslag van adv. Terry Motau is aangedui wie almal betrokke was. Politieke partye skuil agter die gedagte dat jy eers strafregtelik vervolg moet word voordat hulle sal optree. Munisipaliteite het wederregtelik geld by VBS belê en elke munisipaliteit kan dit mos self ondersoek en stappe doen, tog wag almal vir die nasionale vervolgingsgesag.

Dawid Kuyler

Die regerende party kan mos nie net hul strukture toelaat om tandeloos te wees in sulke gevalle nie? Om eenvoudig niks te doen nie is mos ’n bewys van moedswilligheid.

Uit die ouditeur-generaal se verslae is dit duidelik dat munisipaliteite in chaos gedompel is en jaar ná jaar geld vermors terwyl weinig of minderwaardige dienste aan die burgers van die land gelewer word. Van die 257 munisipaliteite wie se state geouditeer is, het net 20 skoon ouditverslae gekry terwyl geldmors jaar ná jaar toeneem.

Dieselfde geld van die ander staatsdepartemente ook.

Al wat die burgers van Suid-Afrika kry, is beloftes dat korrupsie ondersoek sal word. Baie van die ondersoeke sterf egter ’n stadige dood.

Die burgers van Suid Afrika soek nie net ondersoeke nie, maar wil graag oortreders in oranje oorpakke sien.

Die ouditeur-generaal het nou deur wetgewing die mag gekry om vervolgings in te stel teen amptenare wat oortree en die nasionale vervolgingsgesag het ’n nuwe hoof. Dis egter soos om ’n skeidsregter te hê, maar die spelers vat sy fluitjie af voordat hy ’n strafskop kan toeken.

’n Mens voel jy wil vir politici sê: “Word groot! Kinders is moedswillig. Grootmense neem verantwoordelikheid vir hul dade.”

Gewone mense versprei moedswillig fopnuus en haatspraak.

Is dit net die politici wat moedswillig is?

Nee, ek dink nie so nie. Dit geld ook gewone mense. Hulle versprei moedswillig fopnuus en haatspraak.

Lyk vir my ons is ’n klomp moedswilliges. Ek hoop ons almal, burgers en politici, kry die moed om die regte ding te doen en minder moedswillig en meer verantwoordelik te wees.

* Dr. Kuyler is ’n leraar van die Verenigde Gereformeerde Kerk en ’n voormalige skriba van die algemene sinode van die VGKSA. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Prasa  |  Eff  |  Eskom  |  Helen Zille  |  Cyril Ramaphosa  |  Suid-Afrika  |  Covid-19-Pandemie  |  Korrupsie  |  Haatspraak  |  Fopnuus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.