Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA narratiewe bepaal optrede

Die verhale waarmee ons grootword, maak ons wie ons is.

Willie Spies. Foto: Lisa Hnatowicz

Christene, Jode en Moslems word groot met die verhaal van die skepping van hemel en aarde – van orde wat uit chaos tot stand gekom het deur die woord wat deur God gespreek is, naamlik “laat daar lig wees”.

In daardie verhaal is die lig spoedig bedreig deur die duisternis toe die eerste mense geswig het voor die versoeking om die skeppingsorde wat God tot stand gebring het, uit te daag met die versugting om soos God te wees.

Daarna raak die mensdom boos en daag toenemend die skeppingsorde uit, waarop God die mensdom in die vloed van alle vloede vernietig en slegs Noag, sy familie en die diere saam met hulle in die ark bewaar.

Eeue later kies God vir Abraham uit Ur van die Galdeërs om die voorvader te wees van alle gelowiges wat sou kom.

Abraham is die vader van Ismael, wat gebore is uit sy verhouding met sy slavin Hagar, en wat die oer-voorvader van al die Arabiese volke sou wees.

Maar Abraham is ook die vader van Isak, wie se seun Jakob die voorvader van die Israeliete sou raak.

Van daar af verdeel die meesterverhaal in twee. Jode en Christene glo dat God sy pad met die gelowiges van daar af gestap het met Isak en sy seun Jakob, terwyl Moslems glo dat Ismael daardie voorreg te beurt geval het.

Die Messiaanse verwagting wat onderliggend is aan die Joodse en Christelike meesterverhaal is ook die oorsprong vir die verdere skeiding van weë.

In die regeringstyd van die Romeinse keiser Augustus is ’n Joodse seuntjie in ’n stal in Bethlehem gebore. Hy het die naam Jesus, wat destyds redelik algemeen onder Jode was, gekry.

Hierdie verhale bepaal identiteit en optrede. Ons moet daarvan bewus wees.

Hy sou grootword en preek en wonderwerke doen, maar omdat Hy die gevestigde orde van sy tyd uitgedaag het, was Hy ’n bedreiging vir sowel die Joodse as Romeinse elite.

Die Joodse en Romeinse elite sou hom, net soos ander opstandiges van sy tyd, by wyse van kruisiging teregstel, maar anders as met ander opstandiges van daardie tyd het sy volgelinge nie uitmekaargespat nie.

Hulle het meer geword in so ’n mate dat die hele Romeinse Ryk mettertyd sou ver-Christelik.

Vir Christene was Jesus die Christus of Messias waarvoor hulle gewag het – maar nie vir die Jode nie.

Nogtans sou daar mettertyd drie meesterverhale wees. Die een van Christene, die ander van Jode en die ander van Moslems. Elkeen van daardie verhale is vir die lede van die geloofsgemeenskap wat dit deel so waar dat hulle bereid is om daarvoor te sterf en oorlog te voer.

Daar is ook ander meesterverhale wat vandag se politieke diskoers in Suid-Afrika bepaal.

Volgens die struggle-narratief het inheemse volke van Afrika tot ongeveer 400 jaar gelede in vrede geleef en vryelik handel gedryf met onder andere Arabiese en Chinese handelaars. Daar het betreklike welstand geheers en die grond het aan almal behoort wat daarop gewoon het.

Daardie vrede is versteur deur kolonialisme en in Suid-Afrika het ’n kolonialis van ’n besondere aard, die Boere, die land gekoloniseer – met die verdere uitdaging dat hulle nie soos ander koloniale magte die land verlaat het ná demokratisering op 27 April 1994 nie.

In hierdie narratief is Dingaan ’n held en ’n vryheidsvegter, en die Voortrekkers was indringers wat weerstaan en uitgeroei moes word. Hierdie narratief is vroeër vandeesweek weer deur pres. Cyril Ramaphosa herhaal as sy voorkeur.

Hierdie verhale bepaal identiteit en optrede. Ons moet daarvan bewus wees.

  • Spies is ’n prokureur by Hurter Spies Ing. en voorsitter van Pretoria FM.
Meer oor:  Willie Spies  |  Meningsberig  |  Standpunt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.