Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA pluk nou ANC-vrugte
Uitgebrande motorwrakke in die strate van Phoenix in Durban, ’n gebied wat verlede week erg deurgeloop het onder aanvalle. Foto: GALLO IMAGES

Teen die tweede helfte van die 1980’s het die ANC/SAKP-alliansie stert in die lug geloop. Die destydse regering was kniediep in die moeilikheid: Daaglikse stakings en gewelddadige onluste, plaaslike regering in swart woonbuurte het in duie gestort, winkels is geplunder, die heersende reg en orde is nie erken nie.

Die reg is beskou as “die wit man se (on)reg”, sonder legitimiteit. En dus mog die landswette na hartelus oortree word, mog geweld ook teen wit burgerlikes of swart mense wat met die owerheid saamwerk, gebruik word.

By terugblik is dit op sigself duidelik dat Umkhonto we Sizwe (MK) se terreurveldtog grotendeels ’n mislukking was. In interne dokumente het sowel die ANC/SAKP as MK dit destyds openlik toegegee.

Maar MK se gebruik van terroristiese aanvalle het wel die algemene atmosfeer van wetteloosheid en anargie, veral in die townships, aansienlik aangewakker. Oor dié minagting vir die “wit man se (on)reg” het die ANC dubbelsinnige seine uitgestuur.

’n Land in vlamme

In Junie 1985 het die ANC/SAKP ’n belangrike konferensie in Kabwe, Zambië, gehou. Luidens die amptelike notule is besluit dat die vrees vir burgerlike ongevalle nie sy optrede kan dikteer nie: “The time has come when those who stand in solid support of the race tyranny and who are its direct or indirect instruments, must themselves begin feeling the agony of our counter-blows.”

In Julie 1985 het die luisteraars van Radio Freedom, die ANC se propagandastasie, dus die volgende woorde gehoor (een van verskeie boodskappe met dié strekking): “Let us intensify the elimination of all collaborators from our nation. The whole country must go up in flames.”

In ’n toespraak het die ANC se leier, Oliver Tambo, verklaar: “Prospects of a bloodbath and the reduction of South Africa to a wasteland will not stop the struggle.”

’n Goeie voorbeeld was openbare standpunte oor die “halssnoer”, ’n met petrol deurweekte motorband wat om ’n “oortreder” se nek geplaas en aan die brand gesteek is. Die hande is, dikwels met draad, vasgebind.

Die slagoffer het lewend doodgebrand.

Dit was ’n barbaarse straf wat op sigself nie die ANC se (teoretiese) waardes weerspieël het nie. Maar die beweging het die skuld op die apartheidstelsel geplaas en geweier om die praktyk te veroordeel.

Operasie skoonmaak . . . Vrywilligers help met opruiming nadat die Jabulani Mall in Soweto deur plunderaars aangeval is. Foto: GALLO IMAGES

Winnie se vuurhoutjies

In ’n onderhoud met die ANC-maandblad Sechaba het Chris Hani byvoorbeeld in 1986 gesê: “So the necklace was a weapon devised by the oppressed themselves to remove this cancer from our society, the cancer of collaboration of the puppets. It is not a weapon of the ANC. It is a weapon of the masses themselves to cleanse the townships from the very disruptive and even lethal activities of the puppets and collaborators.

“We do understand our people when they use the necklace because it is an attempt to render our townships, to render our areas and country ungovernable . . .

“But we are saying here our people must be careful, in the sense that the enemy would employ provocateurs to use the necklace, even against activists. We have our own methods of dealing with collaborators, the methods of the ANC. But I refuse to condemn our people when they mete out their own traditional forms of justice to those who collaborate. I understand their anger.”

Geen wonder nie dat Winnie Mandela in dieselfde jaar in die openbaar uitgeroep het: “With our boxes of matches and our necklaces we shall liberate the country!”

In 1986 het Sechaba swart mense aangemoedig om “street committees” in die lewe te roep, onder meer om die land onregeerbaar te maak.

Hani het in 1988 in ’n onderhoud gesê wit mense se steun vir apartheid is omdat dit ’n aangename lewe vir hulle waarborg.

Dus: “We must make apartheid expensive and costly in terms of financial resources and in terms of lives. It must be made painful. At the moment it is very sweet for them but it must be made painful and bitter, especially for the whites. It is bitter for the blacks. For the whites it must be made very painful and bitter.”

En indien MK besluit “to go for [min. Adriaan] Vlok, it would be hardlines if Helen Suzman got caught in the crossfire”.

ANC verloor beheer

Eerlikheidshalwe moet hier bygevoeg word dat die halssnoer die ANC, ook in die buiteland, soveel negatiewe publisiteit besorg het dat Tambo in September 1987 gevra het dat dit nie meer gebruik word nie. In die praktyk het dit egter voortgeduur.

’n Bekommerde Tambo het MK gevra om minder willekeurige geweld te gebruik, maar die geweldstatistieke wys dat dit bitter min, indien enige, uitwerking gehad het. In die praktyk was die mense in die townships buite beheer.

In 1987 het niemand minder nie as Joe Slovo eksplisiet erken dat “there is little the ANC can do to control some of its agents in South Africa”.

Die ANC het, al was dit maar by implikasie, aangeneem dat die situasie sou verander wanneer hy die bewind oorneem. Immers, dan is dit nie meer die wit man se “(on)reg” wat geld nie, maar die ANC se egte reg – en omdat dít in almal se belang is, sal mense hulle daaraan hou.

Dáárdie aanname is weliswaar nie baie goed geartikuleer nie. Maar dit, so lyk dit, was ’n oorweging vir later. Die prioriteit vir nóú was om die rassistiese apartheidsbewind te verjaag en met ’n ANC-bewind te vervang.

Interne kultuur

Wat die ANC nie ingesien het nie, is iets wat eers in ons eie tyd, jare ná sy bewindsoorname, in die praktyk geblyk het: Hy het die rotsbedding help skep van ’n kultuur van wetteloosheid en anargie.

Dis dáár dat die wortels van die huidige plundering en geweld gesoek moet word.

Natuurlik is dit nie so eenvoudig nie. Wat tans gebeur, het nie in die sterre geskryf gestaan nie.

As die ANC-leiers ná 1994 verstandig geregeer het, as hulle die staat minder as ’n melkkoei vir selfverryking en meer as ’n ontwikkelingsinstrument vir die opheffing van die agtergeblewenes gesien het . . . As hulle die staat deur bekwame mense laat bestuur het, pleks van om baantjies vir boeties uit te deel, kon die huidige anargie voorkom gewees het.

Maar die ANC se eie interne kultuur was destyds al ook wat dit nou is: ’n toksiese kombinasie van ideologiese blindheid, drastiese onbekwaamheid op alle terreine, en korrupsie van ’n epidemiese omvang. Die massa in die townships, wat dikwels nie weet of hulle vanaand brood op die tafel gaan hê nie, sién dit. En hulle dink: As húlle so skaamteloos kan skep, kan óns ook!

Uiteindelik berus dit op ’n tradisie, ’n fondament wat die ANC self reeds in die strugglejare gevestig het. Dít is die tragiek van wat tans aan die gang is.

Dr. Scholtz is ’n historikus en joernalis wat in Nederland woon. Hy het onlangs ’n manuskrip voltooi met die titel Bevryding en terreur: Die ANC/SAKP in ballingskap 1961-1990.

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Anc  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.