Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA se ‘groot man’ was anders

Nelson Mandela is deesdae nie baie gewild by swart en wit ekstremiste nie omdat hy ’n “grooot man” van ’n ander aard was, skryf Christi van der Westhuizen.

Suid-Afrikaners het vanjaar Nelson Mandela se 100ste verjaardag gevier. Dit is vanjaar ook vyf jaar sedert sy dood. Foto: Argief

Toepaslik vir besinning aan die einde van die jaar, duik verskeie datums van belang hierdie maand op.

Sewentig jaar sedert die aanvaarding van die Universele Verklaring van Menseregte; 20 jaar sedert die afhandeling van die finale verslag van die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK); vyf jaar sedert Nelson Mandela se dood.

’n Soort politieke sinisme gooi in hierdie tye ’n skaduwee oor al drie hierdie gebeurtenisse. Tog moet dit gesê word dat pres. Cyril Ramaphosa oor optimisties was toe hy vroeër vandeesmaand by die viering van die menseregte-verklaring Suid-Afrika se grondwetlike orde as “lewendig, dinamies en gesond” beskryf het.

Ons ontluikende demokrasie steier die afgelope dekade van een grondwetlike krisis na ’n ander. Binne die groter konteks is dit meestal te wyte aan die ANC se onvermoë om die konflikte te bestuur wat diep sosiaal-ekonomiese ongelykheid veroorsaak. Of, as skynbaar ondenkbare alternatief, om die nodige beleidsaanpassings te maak.

Populismes met fascistiese bo- of ondertone peul oral uit.

Elders is demokrasie in groter gevaar as op enige ander tydstip sedert die Tweede Wêreldoorlog. Die globale orde wat nasies op die puinhoop van die oorlog met die Universele Verklaring van Menseregte probeer skep het, is op ’n naaldpunt.

Populismes met fascistiese bo- of ondertone peul oral uit. Suid-Afrika het die EFF, die BLF en die Alt-Right-geïnspireerde wit regses. Demokrasie word bevraagteken deur mense wat hoop op ’n “groot man” om hulle van hul ellendes red.

Met absolute mag wat wink, staan die reaksionêre opportuniste uiteraard nader. Heelparty het hulle reeds in die hoogste gestoeltes neergeplak – van Brasilië tot Japan, van Turkye tot die VSA.

Waaroor gaan demokrasie?

Pres. Cyril Ramaphosa aan die woord toe die 70ste bestaansjaar van die Universele Verklaring van Menseregte in Suid-Afrika gedenk is. Foto: Argief

Demokrasie gaan by uitstek oor die mededinging van idees, die beskerming van mense teen magsvergrype, die insluiting van soveel moontlik mense by besluitneming en veral insluiting deur gemeenskaplike vermensliking. Hierdie doelwitte word dikwels nie bereik nie, maar dit bly die beste moontlike stelsel om hulle te probeer verwesenlik.

Die keuses wat demokrasie voor jou stel, beteken jy moet verantwoordelikheid neem. Jy moet nadink oor jou idees, jou besluite. Jy moet gereeld besin oor jou lewe. Dink oor jou verhoudinge met ander, en of jy eties verantwoordbaar optree.

Jy span met ander saam om dinge beter te maak nie op grond van hoe julle lyk nie, maar op grond van jul gedeelde beginsels. Anderstes – mense wat anders dink, leef of lyk – is nie vyande om uit te wis nie. Julle is teenstanders in ’n wederkerige proses om mekaar tot nuwe insigte oor te haal.

Menslike ellende is meestal maatskaplik-ekonomies van aard weens die uiterse konsentrasie van rykdom in ’n klompie hande – die “een-persent-sindroom” van dié oomblik waarin geen hoeveelheid geld en bates ooit “genoeg” is nie.

Die sug na die 'groot man' is die infantiele sug na pappie wat alles kwansuis regmaak.

Depolitisering, veroorsaak deur die dominante ideologie van neoliberalisme, beteken sukkelendes het nie die vermoë om die politieke oorsake van hul verknorsing akkuraat te eien nie. In onsekere tye blameer jy maklik diegene wat anders as jy lyk of leef.

Die sug na die “groot man” is die infantiele sug na pappie wat alles kwansuis regmaak. Jy hoef nie te dink nie. Konsentreer op jou onmiddellike doen en late; iemand anders doen die vuil werk. “Groot man”-politici teer op die onsekerheid wat materiële onstabiliteit teweegbring, en bied as oplossing homogene, onderdrukkende vorme van identiteit.

Eksklusiwiteit word aangeblaas waarin diegene wat anders is, nie dieselfde reg op ’n menslike bestaan gegun word nie. Gays en lesbiërs word sosiaal verban, vroue word op hul “plek” gesit, mense wat nie soos ons lyk of bid nie, is outomaties uit.

Wat veral voorgehou word, is die belofte van ’n onmoontlike suiwerheid, van die terugkeer na ’n gewaande utopiese verlede toe dit net “ons” in ons eendersheid was wat in perfekte harmonie saamgeleef het. “Make America great again.” So asof die menseslagting waaruit die VSA bloedig verrys het, enigsins as “groots” beskryf kan word.

Introspeksie maak Mandela anders

Ongelukkig gaan baie Suid-Afrikaners aan soortgelyke denke gebuk. Wit mense wat apartheid as morele baken voorhou – daar was “wet en orde”. Swart mense wat hunker na ’n prekoloniale utopie toe alles “perfek” was sonder wit mense. Daar mag ’n verdeeldheid oor die WVK wees – sommige wit mense wat dink dit het te ver gegaan; sommige swart mense wat dink dit het nie ver genoeg gegaan nie – maar giftige utopiese wensdenkery deel swart en wit.

Suid-Afrika het wel ’n “groot man”, maar van ’n heel ander aard. Dit verklaar waarskynlik hoekom swart en wit ekstremiste hom deesdae as van minder belang afmaak, of as iemand wat “uitverkoop” het.

Christi van der Westhuizen

Wat oudpres. Nelson Mandela nie laat kwalifiseer vir die “groot man”-fantasie nie, is reeds sy introspeksie. Daarvoor staan tiranne gewis nie bekend nie.

Chimamanda Ngozi Adichie, een van die voorste skrywers op die Afrika-vasteland, het vroeër vandeesmaand by die vyfjarige gedenking van sy dood genoem dat hy na homself as ’n “sondaar wat aanhou probeer” verwys het.

Adichie het opgemerk hoe oorvereenvoudigend dit is om Mandela as “uitverkoop” te bestempel. Sy optrede moet binne die morsige konteks van die konkrete omstandighede in daardie oomblik gelees word. Myns insiens sal die eerste stap wees om nie sy optrede te individualiseer nie. Die “uitverkoop”-diskoers suggereer dat hy eiehandig die transisie na demokrasie gelewer het (of nie).

Mandela het nooit volmaaktheid vir homself opgeëis nie. Die hunkering na die volmaakte leier skakel in by die fanatiese dagdrome oor die terugkeer na die suiwer “ons”.

Adichie meen Suid-Afrikaners sal hul eie agentskap – hul vermoë om verandering teweeg te bring – herontdek as hulle die las van die volmaakte leier (groot pappie) van Mandela wegneem en hom as mens sien.

Wat Mandela wel vermag het binne beperkende omstandighede, foute en al en in samewerking met ander, word dan sigbaar.

Die werklike Mandela het gemeenskaplike vermensliking vooropgestel, wat veral in die politiek van hierdie tydsgewrig ’n radikale daad is. Daar skyn oënskynlik voorafwetendheid uit sy insigte waarop ons moet ag slaan: “Dit is nie ons verskillendheid wat ons verdeel nie, (of) ons etnisiteit, godsdiens of kultuur nie . . . Sedert ons vryheid bewerkstellig het, kan daar slegs een verdeling tussen ons wees: tussen diegene wat demokrasie koester, en diegene wat nie.”

* Prof. Van der Westhuizen is ’n genoot van die Democracy Works-stigting

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.