Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA se skooljaar kan steeds gered word, mits . . .
Foto:

Twaalf dae nadat pres. Cyril Ramaphosa op 23 Julie aangekondig het dat skole vir ’n maand sal sluit, is daar uiteindelik sekerheid.

Die president se verduideliking dat skole weens die Covid-19-pandemie moet sluit het my nie oortuig nie. Indien dit waar was moes álle skole, ook private skole, oor dieselfde kam geskeer word. Leerlinge en onderwysers by private skole se immuunstelsel is nie beter as ander nie, en by sommige private skole is wel positiewe gevalle van Covid-19 aangemeld.

Daar is dus ongelukkigheid dat sommige leerlinge kon voortgaan om hulself vir die eindeksamen voor te berei, terwyl die meeste ander tuis moet bly.

Bykomend tot die nou bekende redes waarom leerlinge beter daaraan toe is in die skool, is dat die getal infeksies die afgelope week – waarin skole gesluit was – met 100 000 van 400 000 tot 500 000 toegeneem het. Skole is dus by uitsondering die plek waar die virus opgedoen word.

Die probleem is myns insiens die talle skole wat ná 19 weke van inperking steeds nie veilig is nie.

Die probleem is myns insiens die talle skole wat ná 19 weke van inperking steeds nie veilig is nie. Alhoewel ek empatie het met onderwysminister Angie Motshekga, was dit haar departement se verantwoordelikheid om toe te sien dat skole veilig is. Honderde skole het steeds nie water sodat kinders hul hande kan was nie.

Ek het niks teen private skole nie. Trouens, ek is van mening dat waar skole kan bewys dat hulle veilig kan skoolhou, onderrig moet voortgaan. Die meeste private skole het reeds die kurrikulum vir die jaar afgehandel. Volgens Chris Klopper van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) is hulle skole ook klaar met die kurrikulum.

Dit ontstel my dus as skoolhoofde van armer skole my inlig dat minder as 50% van matrieks teruggekeer het. Navorsing toon dat hoe langer leerlinge uit die skool is, hoe skraler is die kans dat hulle sal terugkeer. Nietemin weet skole nou wat op hulle wag.

Daar moet begin word met voorbereidings aangesien alle leerlinge op 24 Augustus terugkeer. Ek verwelkom die idee dat die onderwysjaar nie soos aanvanklik aangekondig, tot in 2021 sal strek nie.

Beskikbare inligting toon dat die volgende kwartaal tot 26 Oktober sal strek, waarna ’n kort vakansie tot 31 Oktober sal volg. In die laaste kwartaal van 2 November tot 15 Desember sal die matriekeksamen geskryf word. Tyd dat leerlinge in fases terugkeer, het uitgeloop. Ter wille van sosiale afstand kan grade roteer.

Onderwyslui moet saamwerk om te besluit hoe die kurrikulum ingekort moet word. Wanneer skole heropen, moet elke ouer ’n inligtingstuk ontvang waarin die aangepaste kurrikulum en kalender vervat is.

Dis die taak van die departement om te sorg dat skole wat steeds nie aan al die protokolvereistes voldoen nie, reggestel word. As die regering steeds in gebreke bly, kan die doelpale weer verskuif word. Sou dit gebeur, is die kans om die onderwysjaar te red, uiters skraal.

Dan George het gesê kinders bevraagteken selde volwassenes se verkeerde optrede, maar vir die res van hulle lewe ly hulle daaronder.

Die volgende paar weke gaan harde werk en baie opoffering vra van ons land se onderwyslui. Ek twyfel vir geen oomblik dat hulle die pyp sal rook nie. As almal saamwerk, kán die onderwysjaar gered word.

  • Prof. Le Cordeur is verbonde aan die fakulteit opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Michael Le Cordeur  |  Inperking  |  Skooljaar  |  Sluiting  |  Onderrig  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.