Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA se sportwolf in skaapsklere
Johann Maarman

Leer ons dan nou nooit uit die lesse van die verlede nie? Of is ons pyndrempel so hoog dat ons maar toelaat dat boelies ons van die een hoek na die ander hoek jaag en afknou?

Dit is presies wat Nathi Mthethwa, wat handel dryf as minister van sport, is: ’n boelie wat almal hiet en gebied en wat wil hê dat sportorganisasies na sy pype dans.

Die wyse waarop Mthethwa vir Krieket Suid-Afrika (KSA) gekaap en oorgeneem het, is absoluut verbluffend. Toegegee, daar moes veranderinge by KSA kom, want daar was net te veel geraamtes in hul kas, maar vir Mthe­thwa om homself as die ridder op die wit perd te beskou, is verregaande.

Hy is eerder die wolf in skaapsklere, want hy wil nie krieket red nie, maar oorneem. Reg uit die handboek van die Guptas.

Suid-Afrikaanse sport is in die verlede uit die internasionale sportarena gedryf juis omdat politici ingemeng het in sportsake. Dit het toe nie gewerk nie en sal ook nie nou deug nie.

Hoe demokraties kan dit nou ooit wees as die minister die meeste lede van die komitee self aanwys?

Mthethwa se besluit verlede week om self vyf aanstellings te doen in die tussentydse raad van KSA is allesbehalwe om krieket uit die moeras te lig, maar om Mthethwa se greep en houvas op sport te verstewig. Hoe demokraties kan dit nou ooit wees as die minister die meeste lede van die komitee self aanwys?

In die tussentydse komitee van nege is vyf lede deur Mthethwa aangewys, een deur die spelersvereniging Saca en drie deur KSA se lederaad – die mense wat eintlik in beheer van krieket moet wees.

Met respek aan oudregter Zak Yacoob, wat die tussentydse komitee lei, is hulle niks ander as pionne in Mthe­thwa se magspel nie omdat hulle bloot die mandaryne is van ’n minister wat sy tentakels op die hefbome van sport wil hê.

Krieket is nie die enigste sportsoort wat gebuk gaan onder probleme nie. In die SA Sokkervereniging (Safa) draai die duiwels ook behoorlik rond. Die gedurige binnegevegte is presies so erg – indien nie erger nie – as in krieket.

Het jy al gehoor dat Mthethwa soos ’n ton bakstene op Safa afkom? Nee. Hoekom nie?

Danny Jordaan, grootbaas van Safa, is Mthethwa se senior in ANC-geledere en gaan hom nie veel steur aan iemand wat nou die dag sy tande in die ANC kom slyp het nie. Mthethwa is bang vir Jordaan en weet dat hy nie sokker kan rondstoot nie, want Jordaan sal hom na die naaste warmplek stuur.

Kyk maar net na die debakel wat ook in netbal uitgespeel het. ’n Span word benadeel omdat hy te min wit spelers gehad het!

Kyk maar net na die debakel wat ook in netbal uitgespeel het. ’n Span word benadeel omdat hy te min wit spelers gehad het!

Het ’n mens iets uit die minister van sport se kantoor oor hierdie voorval gehoor? Nie eens ’n piep nie.

Vandag is dit krieket. Môre is dit rugby. Stoot maar gerus die antennas uit, want onthou, nie so lank gelede nie wou Mthethwa hê dat SA Rugby moet optree teen Suid-Afrikaanse spelers wat ge­weier het om die knieval te doen vir die Black Lives Matter-beweging. Was dit nie vir die diplomatieke voetwerk van die rugbybase nie, kon dit ’n lelike nadraai gehad en ’n onsmaaklike affêre afgegee het.

Mthethwa is ’n Zuma-lojalis en het onder sy bewind as minister van polisie gedien. Ons almal weet in watter gemors hy die polisie gelaat het – skandale waarvan die polisie nog nie herstel het nie.

Daarna het hy minister van sport geword en oorgeneem by Fikile Mbalula. Sportminister was nog altyd maar ’n junior ministerspos. Hoe die regering sulke onbekwame en verspotte mense kan aanstel as ministers gaan die verstand te bowe. Sportbase en almal wat sport liefhet, behoort met die een oog oop te slaap. Mthethwa is nie ’n bouer nie. Afbreek is in sy DNS.

  • Maarman is die eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Johann Maarman  |  Kwotas  |  Rassediskriminasie  |  Diskriminasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.