Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA se toekoms op die spel

Gelyke Kanse se saak in die konstitusionele hof volgende maand gaan allereers oor die Universiteit Stellenbosch (US) se nuwe taalbeleid, maar dit het veel wyer implikasies vir Suid-Afrika se onderwysstelsel en die ontwikkeling van sy samelewing, skryf Philip Spies.

Foto ter illustrasie: Devidean Moses / Paarl Post

Moedertaal is ’n ontwikkelingsinstrument. Dit is die hartklop van kultuur, en kultuur is al treffend as die ”totale lewensbeleid” van ’n samelewing bestempel.

Hierdie “lewensbeleid” bepaal hoe ’n samelewing (én ’n professie) die lewe benader, met kennis omgaan en ontwikkel.

Die verengelsingsproses van Suid-Afrika se universiteite is nie net ’n bedreiging vir die onderrig en kultuurbelange van alle taalgemeenskappe in Suid-Afrika nie, maar ook vir die land se langtermyn-ontwikkeling.

Moedertale as kennistale

In haar oorsig van die waarde van moedertale in die ontwikkeling van samelewings maak Liliana Mammino, professor in chemie aan die Universiteit van Venda, die insiggewende waarneming dat die groot ontwikkeling in Europese wetenskap eers begin het toe wegbeweeg is van die Middeleeuse wetenskap se lingua franca, Latyn, na nasionale tale wat die toegang tot wetenskap in die samelewing gedemokratiseer het.

Volgens haar het Leonardo da Vinci en Galileo Galilei die proses aan die gang gesit – hierdie twee denkers wat in groot moeilikheid beland het toe hulle magshebbers met hul gevestigde kennisbelange geaffronteer het.

Afrika is vandag die enigste vasteland waar skoolkinders nie onderrig in hul eie taal as ’n gegewe kan aanvaar nie.

Mammino se ervaring in Afrika en ander ontwikkelende lande is dat die voormalige kolonies wat vandag die vinnigste ontwikkel, daarin geslaag het omdat hulle kennis gedemokratiseer het deur hul moedertale ook kennistale te maak.

Volgens haar is een van die belangrikste redes waarom Afrika suid van die Sahara sukkel om op dreef te kom, dat kennis daar nie gedemokratiseer is nie en onderrig hoofsaaklik deur middel van ’n koloniale taal geskied.

Mammino se bevindings word ondersteun in verskeie navorsingsverslae van die Verenigde Nasies se Unesco-organisasie.

Die belang van inheemse tale is ook oor die afgelope twee dekades indringend bespreek deur veral swart intellektuele, wat ontnugter geraak het oor talle Afrika-regerings se verheffing van ’n koloniale taal tot die oorheersende taal.

Afrika is vandag die enigste vasteland waar skoolkinders nie onderrig in hul eie taal as ’n gegewe kan aanvaar nie.

Koloniale tale het die inheemse tale uitgedruk as kennistale en sodoende die breë bevolking benadeel.

In Suid-Afrika het ons ’n goeie voorbeeld van hoe moedertaalonderrig en kennis-inheemding gehelp het om ’n nuwe geslag goed opgeleide wit Afrikaanssprekendes na vore te bring, wat vanaf die 1950’s groot sukses in die sakewêreld en die professies behaal het.

Dit is daarom nie verbasend dat sommige swart intellektuele Afrikaans as die suksesvolste dekolonisasie-inisiatief op die vasteland van Afrika beskou nie.

Des te meer ironies is dat juis diegene wat voorheen bevoordeel was deur Afrikaans-onderrig nou die waarde daarvan so geringskat – en meedoen aan die verengelsing van instellings wat hulle in die inheemse taal bemagtig en opgehef het.

Skoolstelsel disfunksioneel

As moedertaalonderrig op tersiêre vlak sterf, sterf moedertaalonderrig by skole, want dit verg onder meer leerkragte wat die woordeskat van sulke tale in die onderskeie dissiplines aan tersiêre instellings bemeester het.

Dít is een van die oorsake van Suid-Afrika se disfunksionele skoolstelsel, aangesien leerlinge van veral swart skole slegs tot gr. 4 moedertaalonderrig ontvang, waarna hulle na Engels moet oorslaan.

Gesaghebbende navorsing bevind dat sulke leerlinge in hul matriekjaar ’n agterstand van tot vyf jaar by hul moedertaal-eweknieë het.

Afrika is vandag die enigste vasteland waar skoolkinders nie onderrig in hul eie taal as ’n gegewe kan aanvaar nie.

Die verengelsing van die Universiteit van Wes-Kaapland is moontlik een van die redes waarom bruin Afrikaanssprekendes vandag die laagste deelnemingskoers aan tersiêre instellings het, ook die laagste deurvloeikoers op universiteitsvlak van alle gemeenskappe in Suid-Afrika. En hierdie agteruitgang duur steeds voort.

Daar rus daarom ’n verpligting op alle Afrikaanssprekendes om ag te slaan op die ontwikkelingsbelange van bruin Afrikaanssprekendes, en om te help om die agterstand en voortslepende agteruitgang om te draai.

Afrikaans-onderrig in Suid-Afrika is onder die huidige bedeling in die laaste loopgraaf aangesien een universiteit ná die ander verengels, hetsy onder druk of weens blote ruggraatloosheid.

Dit wil voorkom of menseregte in hierdie opsig gerelativeer geraak het; dat ’n politieke verwateringsproses van grondwetlike regte besig is om plaas te vind.

Ontwikkel inheemse tale

Gelyke Kanse se saak op 13 September in die konstitusionele hof gaan allereers oor die Universiteit Stellenbosch (US) se nuwe taalbeleid, wat Engels die oorheersende taal maak en Afrikaans in ’n waarskynlike proses van uitfasering afgradeer.

Maar dit behoort vir almal duidelik te wees dat dit ’n saak is wat veel wyer implikasies vir Suid-Afrika se onderwysstelsel en die ontwikkeling van sy samelewing het.

Afrikaans hoef daarna nie meer die toekomspad alleen te probeer loop soos voorheen nie.

Die hofsaak het ook ’n nuwe dimensie bygekry met die onlangse publikasie van die beoogde nuwe taalbeleid van die departement van hoër onderwys waarin die belang van die inheemse tale sterk beklemtoon word.

Prominente status word daarin aan die ontwikkeling van Afrika-
tale verleen deur die bepaling dat hul aanwending en ontwikkeling daadwerklik gesteun moet word (ook finansieel), en die behoud van alle akademiese tale, Afrikaans inkluis, verseker moet word.

Gelyke Kanse se saak in die konstitusionele hof is daarom nie slegs ’n deurslaggewende regsgeding vir Afrikaans nie.

’n Gunstige uitkoms kan boonop daartoe lei dat die ontwikkeling van inheemse tale in Suid-Afrika as sentrale beleidsbeginsel op lang termyn gevestig sal word.

Afrikaans hoef daarna nie meer die toekomspad alleen te probeer loop soos voorheen nie.

Aangesien Afrikaans tans die verste op tersiêre vlak ontwikkel het, kan dit ’n belangrike rol in die uitbouing van so ’n nuwe taalbeleidsraamwerk speel.

Positiewe kantelpunt?

Ten slotte, Gelyke Kanse het reeds vanaf die begin van sy aksie geglo dat grondwetlike regte hier op die spel is.

Dit was uit die staanspoor duidelik dat Gelyke Kanse se hofaansoek, wat gemik was op die tersydestelling van die US se 2016-taalbeleid, uiteindelik deur die konstitusionele hof bereg sou moes word.

Die feit dat dié hof die saak aanhoor, beteken dat die lang pad deur die appèlhof na die konstitusionele hof aansienlik verkort is, en daarmee ook verminderde kostes meebring.

Gelyke Kanse het dus goeie moed dat die konstitusionele hof oortuig sal kan word dat die aanvaarding van die US se taalbeleid ongrondwetlik én irrasioneel was.

As dit gebeur, sal dit die kantelpunt word vir positiewe prosesse wat moedertaalonderrig en die verdere ontwikkeling van die land gaan bevorder.

Prof. Spies is voorsitter van Gelyke Kanse se loodskomitee.

Help so

Gelyke Kanse sê baie dankie vir die boodskappe van bemoediging en finansiële steun wat van verskeie organisasies en persone oor die lengte en breedte van Suid-Afrika ontvang is, maar doen steeds ’n dringende beroep om ons te help om hierdie goeie saak met welslae deur te voer.

Bydraes, hoe klein ook al (wat van belasting vrygestel is) kan gaan aan:

Naam: Stellenbosch-Antwerpen Trust

Bank: Absa, Stellenbosch

Taknommer: 632005


Meer oor:  Philip Spies  |  Afrikaans  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.