Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA se uitdagings in 2019
Foto: REUTERS
Roelof Botha
Roelof Botha

Suid-Afrika het voldoende hulpbronne en infrastruktuur om ’n welvarende ekonomie te verseker, maar kort ’n beleidsraamwerk wat die inherent groot produktiwiteit van die private sektor kan aanspoor, skryf Roelof Botha.

Gesprekke oor die uitdagings wat Suid-Afrika in 2019 in die gesig staar, kan uitloop op talryke en uiteenlopende standpunte en menings.

’n Behoorlike bestekopname van die beleidsprioriteite wat dringend aandag verg, sal selfs ’n mate van moedeloosheid kan veroorsaak, aangesien die gehalte en omvang van sommige openbare dienste in talle munisipaliteite ineengestort het. Dit is ook die hoofoorsaak vir die gereelde voorkoms van betogings en onrus in baie armer woon-gebiede wat dikwels tot gewelddadig-heid lei, veral wanneer politieke opportuniste sulke situasies uitbuit.

Besonderhede van die haglike omstandighede waarin paaie, riolering, watervoorsiening en afvalverwydering in veral plattelandse gebiede in Noord-wes en Limpopo verkeer, word gereeld in mediaberigte en verslae van die ouditeur-generaal vervat.

Staatskaping

Terselfdertyd is Suid-Afrikaners ook deeglik bewus van die reuse-skade wat instansies soos Eskom, Transnet, Petro SA en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) aan die stabiliteit van die land se staatsfinansies aangerig het in Jacob Zuma se termyn as president. Sy beleid van kaderontplooiing was ’n dekmantel vir die aanstelling van mede-staatska­pers wat hulself ten koste van die land probeer verryk het.

Die skade het tentakels wat wyd en ver strek en nie oornag deur ’n nuwe staatshoof herstel kan word nie. Daar sal lank en indringend beraadslaag moet word ten einde oplossings vir die moeras van onbevoegdheid in die staatsdiens, negatiewe kapitaalvorming en swak ekonomiese groei te vind.

Gelukkig hoef die regering nie tyd te mors om te probeer uitvind wat die dringendste behoeftes van die gemiddelde Suid-Afrikaner is nie. Daaroor het ’n onlangse gesaghebbende peiling deur Afrobarometer onder 50 000 mense in 36 Afrika-lande (insluitend Suid-Afrika) klinkklare duidelikheid verskaf.

Hiervolgens is die vyf belangrikste beleidsprioriteite vir regerings in Afrika werkskepping; behoorlike gesondheidsorg; goeie skole; begaanbare paaie; en voldoende water. Behuising en behoorlike sanitasie is ook hoog op die lys van items waarna daar ’n haas onuitputbare en dringende vraag in Afrika-lande bestaan.

Verwyder struikelblokke

Wat die regering te doen staan, is eenvoudig om met die insette van die private sektor op die gebied van tegniese vaardighede (byvoorbeeld projekbestuur, ingenieurswese, administrasie en boekhouding) die struikelblokke in die pad van sterker ekonomiese groei en werkskepping te identifiseer en stelselmatig te verwyder, selfs al behels dit wysigings aan wetgewing.

Die wisselwerking tussen beleidsmaatreëls om werk te skep en die aanpak van die dringendste behoeftes van veral die lae-inkomstegroepe sal ’n wen-wen-uitkoms verseker.

Behuising dien as ’n goeie voorbeeld: Vordering met laekostebehuisingsprojekte lei tot ’n groter vraag in ’n aanbodketting wat hoofsaaklik plaaslik vervaardigde produkte behels en uiteraard plaaslike arbeid gebruik.

Elke huis wat voltooi word, verbreed die belastingbasis direk deur middel van die inkomste en besteding wat uit groter indiensneming vloei, asook indirek deur middel van die groter toegevoegde waarde in die bedryfstakke wat voordeel uit ’n groter omset trek.

Verder kan bankrot munisipaliteite tydelik onder die bestuur van taak-spanne geplaas word wie se bestuurs­lede uit die private sektor gewerf moet word en wat onder die oorhoofse beheer van ’n nuwe direktoraat van die nasio­nale tesourie kan val.

Namate die funksionaliteit van dié plaaslike owerhede verbeter, sal daar uiteraard op verskeie terreine sigbare verbeterings aangebring kan word – insluitend watervoorsiening, padherstelwerk, riolering en infrastruktuur by skole en klinieke. Nóg werkskepping sal hieruit voortvloei.

Bly by markbeginsels

Tans is een van die grootste enkele struikelblokke op die pad van ekonomiese herstel die onsekerheid oor grondhervorming.

Tensy die regering eersdaags waarborge verskaf dat toekomstige grondhervorming pragmaties en in ooreenstemming met die beginsels van private eiendomsreg sal geskied, gaan groot en klein ondernemings huiwerig bly om in nuwe produksievermoë te belê.

Zimbabwe se ekonomie het nie ineengestort omdat die land nie voldoende hulpbronne of infrastruktuur gehad het nie. Die land het ’n mislukte staat geword omdat Robert Mugabe se regering die verkeerde beleid toegepas het – een wat op ’n Stalinistiese siening van die staat se rol geskoei was.

Suid-Afrika beskik oor genoeg vaardighede, hulpbronne, infrastruktuur en produksievermoë in elke denkbare bedryfstak om ’n welvarende en groeiende ekonomie te verseker. Wat kortkom, is ’n beleidsraamwerk wat die inherente groot produktiwiteit van die private sektor kan aanspoor. Hopelik sal pres. Cyril Ramaphosa ná die verkiesing hiervan werk maak.

Tot dan sal die land geduld aan die dag moet lê en nie die onsinnigheid van radikale minderheidsgroepe te ernstig opneem nie.

Dr. Botha is die ekonomiese raadgewer van die Optimum-groep.

Stephan Joubert
Stephan Joubert

Die enigstes wat in die vreemde landskap van 2019 gaan floreer, is diegene wat weier om deur hul omgewing se stereotipe idees en vrese gevange gehou te word, skryf Stephan Joubert.

 ‘I’ve a feeling we’re not in Kansas anymore,” sê Dorothy in die klassieke rolprent The Wizard of Oz nadat ’n tornado haar weggewaai het na ’n misterieuse, vreemde wêreld toe.

Wel, ’n nuwe wêreld wag op ons in 2019. Dit gaan onder meer gekenmerk word deur: Vloeibaarheid. Meer as ooit gaan 2019 ’n vloeibare landskap hê. Die Europese denker Zygmunt Baumann praat juis van “liquid modernity”. Strukture smelt nou vinniger weg as wat dit vat om dit op te rig. Lojaliteit aan gevestigde politieke, ekonomiese, religieuse en ander instellings is minder as ooit. Beproefde roetes se rakleeftyd is veel gouer getel.

’n Immer verdwynende en veranderende wêreld is met ons.) Annus virtualis. Die era van virtualiteit gaan ons in 2019 vol in die gesig tref. Sowat 29 miljoen Suid-Afrikaners was reeds teen die begin van 2018 gereelde internetgebruikers. ’n Verstommende 70% bring hul weeklikse aktiwiteite op verskillende sosialemediaplatforms deur. Almal is nou gekonnekteerd. Ons bly lankal nie meer in ’n “global village” nie, ons bly in ’n “glocal (global en local) mall”.

Kunsmatige intelligensie se impak gaan ook meer voelbaar wees op militêre, mediese, ekonomiese en ander terreine. Terselfdertyd gaan die impak van digitale tegnologieë groot uitdagings inhou vir mense se selfverstaan betreffende ’n biologiese self én ’n digitale self. Om nie te praat van die beskerming van informasie of individue se reg op privaatheid nie. Sosialemediaverslawing. Dit gaan 2019 se “gevreesde siekte” word.

Studie op studie toon aan dat oormatige blootstelling aan sosialemediaplatforms interpersoonlike vaardighede en verhoudings ernstig ontwrig. Asosiale gedrag en narsisme neem kommerwekkend toe in ouderdomlose digitale generasies vir wie die grense tussen digitaliteit en werklikheid baie vloeibaar is.)

Regte en protes. Die klem op menseregte, diereregte en natuurregte gaan in 2019 tot nuwe vlakke gevoer word. Sulke roetes dien onder meer as uitlaatkleppe vir mense se gevoelens van magteloosheid omdat hulle geen sê meer het oor wat gebeur in die groter politieke, godsdienstige en ekonomiese arenas nie.

Aan die ekstreme kant van die draad gaan die toenemende afwesigheid van morele leierskap, asook wantroue in magstelsels en ’n groter klem op individue se reg op protes, chaos en anargie ongemaklik na aan ons bring. Al kan niemand ons voorberei op ’n vloeibare 2019 nie, is dit ’n goeie bestemming vir diegene wat nie bedreig voel deur verandering of onsekerheid nie.

Sulke nie-lineêre mense weet 2019 is ’n vreemde landskap, maar dis juis hierin dat sterk verhoudings en nuwe alliansies gedy.

Nie-lineêre mense maak nie soos my hond wat blaf vir alles wat hy nie verstaan nie. Hulle hou koers vanuit ’n sterk innerlike identiteit en waardestelsel. Hulle tob nie gedurig saam met die res oor alles wat fout is met die politiek, die onderwys of die kerk nie. Hulle begryp intuïtief wat die neuro-kenner Rick Hanson skryf: “Our brain is like velcro for negative experiences but tef­lon for positive ones.”

Die Amerikaanse sosioloog George Yancey vind dat ’n groeiende “anti-christian bias” oral kop uitsteek.

Daarom hanteer hulle die lewe andersom vanuit vars denke. Hulle fokus doelbewus op kreatiewe interaksies en opbouende gebeure. Hulle weier om deur hul omgewing se stereotipe idees en vrese gevange gehou te word. Hulle leef hulle aanhoudend in ’n alternatiewe werklikheid in, een waar liefde, re­spek en empatie wen.

Meer tekens van Christenfobie. Die Amerikaanse sosioloog George Yancey vind dat ’n groeiende “anti-christian bias” oral kop uitsteek. David Kinnaman, hoof van die Barna Group, verwoord dit soos volg: “Most people I meet assume Christians are conservative, entrenched in their thinking, anti-gay, anti-choice, angry, violent, illogical, empire builders, they want to convert everyone, and that they cannot live peacefully with anyone that doesn’t believe what they believe.”

Met name moet Afrikaanssprekendes en gelowiges sulke stereotipes met integriteit doodleef. Dit begin met die besef dat hulle nie in beheer van sake aan die magsfronte van die dag is nie. Hul mentors is juis die eerste gelowiges wat geen politieke, ekonomiese of religieuse mag het nie.

Oral was die eerste Christene vreemdelinge en bywoners – grondloos, gebouloos, werkloos, veiligheidloos. Nogtans was hulle invloedryk. Hoekom? Wel, hulle het ’n goeie teologie gehad wat hulle deur lyding en swaarkry kon dra. Ook het dit hulle gehelp om ander mense dienend raak te leef. Die vroeë kerk het verstaan Jesus se roete is eerstens dié van ’n kruis, dan ’n kroon. Daarom was hul alternatiewe leefstyl so aantreklik.

2019 kom! Elkeen het ’n paar belangrike keuses om te maak om goed vorentoe te kan leef. Ons is medeskeppers van ’n goeie vandag en ’n hoopvolle môre. Die Amerikaanse argitek en toekomskundige Buckminster Fuller se woorde is ’n goeie kompas: “You never change things by fighting the existing reality. To change something, build a new model that makes the existing model obsolete.”

Joubert is die hoof van E-kerk en gereelde by­draer van Beeld se godsdiensrubriek Goeie Nuus.

Meer oor:  Ekonomie  |  Menings  |  Christenskap  |  Politiek  |  Nuwe Jaar  |  Toekoms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.