In reaksie op my rubriek oor insekname uit die WAT laat Jeanette Ferreira-Van Jaarsveld van haar hoor. Ons moet ’n slag kyk, sê sy, “hoeke mooie name die veldgrasse van Suid-Afrika het”.
Ek doen dit graag.
Maar, sjoe, waar begin ’n mens?
Van al die plantfamilies is die grasfamilie een van die grootstes, en vir ons die nuttigste.

Jana Luther
In die wêreld is daar meer as 10 000 spesies; in Suid-Afrika ongeveer 1 000 soorte. Baie het meer as een naam. Vlaktes en vlaktes gras.
Uit die WAT pluk ek ’n bossie.
Flarde van ou gedigte en verhale kom by my op. Die singende gras. Waaigras, huppelend soos kuddes. Winkende grassaadhande. Pluime, lank en wit, sag soos pluis, soos vere. Groen, groenwit, rooierig, pers. Die dowwe snarespel teen jou voete wanneer jy deur droë gras stap.
Ruigtegras. Beddinggras. Borselgras. Donsgras. Besembiesies. Bewertjies. Bromgras.
Bekertjiesgras se blommetjies is gladde, blink klokkies. Klokkiesgras. Blinkgras, ook fluweelgras, se blaartjies is syerig, glansend.
Jobskraaltjies, jobstrane, behoort tot die mieliefamilie. Hul “krale” word as versiering, as tandekrykrale vir kinders gebruik.
Broosgras. Bloudak. Bokbaard. Eendjiesgras. Hartjiesgras. Klossiegras.
As ’n mens in die gras is, is jy in die moeilikheid. Wie die onderspit delf, byt in die gras. Vyande word eufemisties van die gras af gemaak.
Van jaagbesemruigte maak die Koue Bokkevelders jaagbesems, of waaibesems; waaiervormige besems vir die skoongooi, uitkaf of uitwan van graan. Die skerp saagtandblare van vlei- en watergrasse word in die volksmond kokkewietgras – na die waterkokkewiet, ’n geheimsinnige diertjie wat met ’n halmpie hiervan as messie, glo die tone sou sny van kinders wat kaalvoet deur die water plas.
’n Gomagtige afskeiding, hakies en stekels laat kleefgras en klitsgras aan wol, hare, klere, kouse, enigiets waarmee dit in aanraking kom, vassit. Vandaar die gesegde “soos klitsgras klou”. Van ’n ding of mens wat hom so aan jou heg, raak jy moeilik ontslae.
Gras skiet op in baie uitdrukkings: Die verste gras is gewoonlik die groenste; hoe verder iets is, hoe aanlokliker lyk dit. Moenie gras onder jou voete laat groei nie; moenie uitstel nie.
As ’n mens in die gras is, is jy in die moeilikheid. Wie die onderspit delf, byt in die gras. Vyande word eufemisties van die gras af gemaak.
Af en toe steek iemand die gras aan die brand. Soms om vooruit te kom; soms om kwaad te doen. Hoe hanteer ’n mens dit dan? As ongelukkigheid brand. Praat jy? Of laat jy gras daaroor groei? Om nié gras te laat groei nie, sou ’n mens dink, is beter. Maar “daar sal nie weer gras oor groei nie” kan ook as waarskuwing dien; dat ’n slegte indruk blywend is, soos ’n heksekring.
Volgens ’n volksgeloof was ’n graslose kol in ’n bos die werk van hekse wat snags daar kom dans. Vandag wyt ons sulke verskynsels aan swamme. Maar die gras sterf steeds. Nes ons.
Soos Opperman se kwartels, laat onmin ons dae in stiltes wegraak.
- Luther is redakteur van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal.