Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA Superrugby sukkel nog met Bemarking 101
Bun Booyens

Hier is ’n lewenswaarheid: Moet nooit die momentum van ’n swak plan in ’n raadsaal onderskat nie. En sommer ’n tweede waarheid ook: Swak planne is verrassend vrugbaar. Hulle kry swak plannetjies by die dosyne.

Verlede jaar het dit waarskynlik na ’n blink plan geklink om elke Suid-Afrikaanse Superrugbyspan met ’n Marvel-superheld te verbind: Spider-Man vir die Leeus, Thor vir die Stormers, Black Panther vir die Sharks en Captain America vir die Bulle.

Ek kan daardie raadsaalgesprek in my kop hoor: Die kinders gaan in hul honderde na die stadions stroom; dié truie gaan nuwe lewe in die moeë reeks blaas; ondersteuners gaan die truie koop; die unie se boeke gaan weer klop. Saterdag op Nuweland is hierdie plan (en al sy kleintjies) se tekortkominge skouspelagtig blootgelê.

Die Superrugby-truie is vanjaar só opgedollie met borge en Marvel-helde se kleure en kentekens dat jy kwalik die twee spanne op die veld van mekaar kon onderskei. Die voorkant van die Stormers-trui was basies dieselfde as die Leeus s’n se agterkant. ’n Paar keer in die wedstryd het ek moed geskep vir die Stormers, net om te besef dis die Leeus wat nou so kookwater speel. Op TV was die wedstryd een groot bonanza van kleur – ’n groepsgeveg tussen ’n swerm Jelly Tots. Só erg was die verwarrring dat die Stormers ná rustyd in ander truie opgedraf het, nou geklee in . . . swart? Black Panther sou nie daarvan hou nie.

Tussendeur begin wonder jy waar pas dit in Superrugby se bemarkingsplan in om jou spanne elke week of twee in ander truie te laat speel?

Maar vandag is die Bulle in blou, volgende week in grys en dan in kamoefleerdrag (en lyk soos Irak se derdes).

Daar is sekerlik ’n goeie rede hoekom ’n sokkerspan soos Manchester United, een van die sterkste sporthandelsmerke ter wêreld, week ná week in dieselfde kenmerkende rooi trui speel?

Maar vandag is die Bulle in blou, volgende week in grys en dan in kamoefleerdrag (en lyk soos Irak se derdes).

In die tweede helfte van Saterdag se wedstryd begin tel ek die advertensies op die Leeus se truie en broeke. Ek dink daar is altesame 16, dalk meer. Op die bors is ’n groot spinnekop, plus ’n paar klein advertensies wat lyk of dit aan sy web kleef, agter ’n klerevervaardiger, op die mou twee sekuriteitsmaatskappye, voor ’n lugredery en elders drie of vier klein logo’s wat ek nie kan ontsyfer nie, een daarvan selfs binne die nommer op die spelers se rug.

Te veel advertensies. Te veel spanne. Te veel wedstryde. Te min mense op die paviljoene.

Kan ons bekostig dat Springbokke soos Pieter-Steph du Toit en Malcolm Marx hulself voos speel in leë stadions? Is dit die moeite werd om van die Blitsbokke se blinkste sterre – Rosko Specman, Kwagga Smith, Ruhan Nel, Seabelo Senatla – af te rokkel by die sewes om in hierdie Toernooi Sonder Einde te kom saamdraf?

En wanneer die Stormers ná die sirene ’n wendrie druk, soos Saterdag gebeur het, hoekom – om hemelsnaam, hoekom – in ’n swart trui en nie ’n goeie ou WP-trui nie?

Meer oor:  Bun Booyens  |  Rugby  |  Bemarking  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.