Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA te behep met buitengewone

Marc Rutte, die Nederlandse premier, het ’n gesegde wat min of meer lui: “Doen die gewone, dit is buitengewoon genoeg.”

Ons hier in Suid-Afrika vind hierdie benadering blykbaar te prosaïes. Daarom hou ons onsself liewers met die glansryke besig. Soos om die Wêreldbeker-sokkertoernooi aan te bied. Ons droom ook nog oor die Olimpiese Spele.

Johannes Froneman.

Ons ly erg aan daardie kwaal van besig wees met die buitengewone. So asof die doodgewone nie goed genoeg is nie. Nou weer wil iemand die Suid-Afrikaanse Grand Prix laat herleef. Die honderdmiljoene wat dié weeklange wêreldfokus ons gaan kos, word goedgepraat aan die hand van die “ekonomiese inspuiting” wat dit sou meebring. Ons word maklik met mooi beloftes om die bos gelei.

Die onnodig luukse stadions vir die sokkertoernooi het belastingbetalers miljarde gekos en die deur oopgemaak vir grootskeepse bedrog deur groot konstruksiemaatskappye en goed geplaaste politici. Nie een van die betrokkenes het na my wete daarvoor in die tronk beland nie. Intussen betaal ons steeds af aan die prag en praal wat vir 2010 gebou moes word. Die stadions kos belastingbetalers miljoene net om in stand te hou. Nou word rugby gedruk om daarheen te skuif om die sokkerstadions volhoubaar te kry

Van die “kleingeld” wat op die hele 2010-projek uitgegee is, sluit in die R26 miljoen wat bestee is aan die verlenging van die aanloopbaan van die lughawe by Potchefstroom. Dit was deel van die prys vir die voorreg om die Spaanse span hier te huisves. (Hulle wou nie bus ry nie.) Op die ou end is die aanloopbaan glo vier keer gebruik.

Die Noordwes-Universiteit het ook blyplek spesiaal vir die Spanjaarde gebou, maar hulle het duur daarvoor betaal en die gerief word op ’n sakegrondslag bestuur en skep daagliks waarde.

Wat ’n mens daaraan herinner dat nie alle geld in die water gegooi is nie. Glad nie. Dit is net dat ons so min van die nalatenskap van die 2010-toernooi sien.

Volgens ’n RGN-ondersoek in 2011 is niemand aangewys om die Sokkerbeker-nalatenskap verder te voer nie.

Intussen het ek die sokker in Rusland terdeë geniet. Ons kan die ongewone wel soms geniet – selfs op ’n afstand. En teen ’n fraksie van die prys.

In 2014 het ’n navorser tot die gevolgtrekking gekom dat minder as een persent van die wins vir nalatenskapprojekte gebruik is. Wie weet?

Wanneer ek sokkermense vra waar is die nuwe sokkervelde wat landwyd gebou sou word, skud hulle net die kop.

Ek hoop daar is tog hier en daar ’n regtig nuttige nalatenskap – nuttiger as ou, bruin 2010-padwysers, soos in Potchefstroom. By navraag het ’n vorige speaker van die Tlokwe-stadsraad (nou J.B. Marks-stadsraad) sonder skroom vertel dat die borde moet bly, want dit is “legacy” – al wys een van hulle in heel die verkeerde rigting.

Een van ons mooiste staatsgeboue is die parlementsgebou in Kaapstad. As daar een gebou is wat gebruik word (weliswaar vir soms twyfelagtige besluitneming), is dit dié gebou. Tog word daar van tyd tot tyd gebrom dat die heen-en-weer-ryery te duur is en dat die parlement na Pretoria moet skuif. Die implikasie is natuurlik ’n nuwe gebou, wat seker miljarde sal kos.

Soos al die superprojekte trek dit die aandag af van die gewone, die noodsaaklike. Soos huise vir dié wat in sinkkrotte woon. Geld kan ook liewer aan die instandhouding van paaie, geboue en ander infrastruktuur bestee word.

Dit is broodnodig, al is dit heel gewoon. Te gewoon vir politici wat ydelheidsprojekte bo grondvlakontwikkeling verkies.

Intussen het ek die sokker in Rusland terdeë geniet. Ons kan die ongewone wel soms geniet – selfs op ’n afstand. En teen ’n fraksie van die prys.

  • Prof. Froneman is aan die Noordwes-Universiteit verbonde.
Meer oor:  Johannes Froneman  |  Rubrieke  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.