Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA toon wel al die kenmerke van ’n mislukte staat

Dit is duidelik dat Suid-Afrika op ’n mislukte staat afstuur as ’n mens kyk na die vereistes wat nodig is vir ’n “sterk” staat, skryf Jan Bosman.

Betogings oor dienslewering, soos dié een verlede week in Diepsloot, is deesdae bykans alledaags in Suid-Afrika. Foto: Felix Dlangamandla

Dr. Roelof Botha sê in sy rubriek van 24 Januarie, “SA geensins ’n mislukte staat”, daar is valse aannames in die evaluering van of ’n staat dan nou misluk of nie.

Hy evalueer die algemene kenmerke oor die volgende: “ ’n Algehele gebrek aan reg en orde, die ineenstorting van die ekonomie, menseregteskendings in die ergste graad en die afwesigheid van enige vorm van demokrasie.”

Dit moet egter in gedagte gehou word dat dit een stel kenmerke is en ’n mens kan sinvolle debat voer oor Suid-Afrika se posisie op die skaal van mislukte state.

Daar is egter ook ander kenmerke van ’n mislukte staat.

In sy werk The Blood of Experience (1995) identifiseer Ali Mazrui, ’n kundige oor Afrika en Islam, ses noodsaaklike funksies wat as barometer vir die “sterkte” van ’n staat beskou kan word:

* Soewereine gebiedsbeheer

Sien dit dan teen die agtergrond van “oop grense” en die instroming van onwettige immigrante. Sommige konserwatiewe beramings wil dit hê dat daar reeds meer as drie miljoen onwettige immigrante in die land is. So onlangs soos Augustus 2019 is die polisie deur buitelanders uit Johannesburg verjaag.

* Goeie bestuur van hulpbronne

Lees dit in die lig van die Zondo-kommissie se ondersoek na staatskaping en hoe noodsaaklike hulpbronne in die verkeerde korrupte hande beland het. Enkele weke gelede is die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) in sakeredding geplaas ná miljarde rand se reddingsboeie wat oor jare betaal is. Ons wag op die Eskom-reddingsplan. Hierby kan ons ook Denel, die SAUK, die Landbank en vele ander staatsondernemings voeg.

* Doeltreffende belastinginvordering

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens is die enigste staatsinstelling wat tot onlangs redelik goed gefunksioneer het, maar was ook ’n slagoffer van staatskaping. Volgens sommige ontleders betaal slegs 13% van die Suid-Afrikaanse bevolking van 56 miljoen inkomstebelasting, met die res wat slegs tot BTW bydra. Aan die uitgawekant gaan die grootste gedeelte van die begroting aan die salarisrekening van die staat (36%) en maatskaplike toelae (17%).

* Die vestiging en instandhouding van infrastruktuur

Hieronder word verstaan die bou van paaie, kommunikasie, infrastruktuur, elektrisiteitsnetwerke, spoorweë en dies meer. Eskom het die land in die besigste tyd van die jaar in nog ’n energiekrisis gedompel en paniek veroorsaak deur fase 6-beurtkrag in te stel sonder behoorlike kommunikasie terwyl die regering koersloos ronddobber. Eskom self kommunikeer met munisipaliteite dat fase 5 tot fase 8-beurtkrag deel van ’n rampplan is.

*Die vermoë om basiese dienste te lewer

Terwyl groter en duurder planne ontwerp word en swak toegepas word, stort munisipale dienste in duie, staatshospitale het ’n swak reputasie en onderwysstandaarde verswak jaarliks met meer mense wat werkloos raak as gevolg van swak onderrig en opleiding. Groter ambisieuse planne word beraam rondom die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) terwyl basiese mediese dienste nie behoorlik verskaf word nie.

* Die handhawing van wet en orde

Die polisie se handhawing van wet en orde word stelselmatig oorgeneem deur private veiligheidsdienste te midde van misdaadstatistieke wat dui op 21 002 mense wat in 2018 vermoor is, plaasaanvalle wat ’n vorm van terreur raak en ander gewone misdaad wat toeneem. Kosbare munisipale infrastruktuur en elektriese kabels word daagliks gestroop vir skrootmetaal en dit is niks anders as ekonomiese sabotasie nie.

Cyril swig voor party se ideologie

Pres. Cyril Ramaphosa se planne om van Suid-Afrika ’n beter plek te maak, het voor die ideologie van die ANC geswig. Foto: Argief

Uit die ses noodsaaklike funksies wat ’n staat moet verrig, kan daar dus ’n saak uitgemaak word dat indien ons nog nie ’n mislukte staat is, ons goed op pad is om wel een te word.

Hieroor skryf prof. André Duvenhage van die Noordwes-Universiteit onlangs: Hoewel Suid-Afrika nie in alle opsigte as ’n ‘swak staat’ beskryf kan word nie, is daar tog kommerwekkende tendense ten opsigte van staatsverswakking. Hiervan getuig tendense soos eskalerende korrupsie en nepotisme; die gebrekkige instandhouding van infrastruktuur; diensleweringsuitdagings; ontoereikende grensbeheer; en baie ander regeerkundige en politieke bestuurskwessies.”

Dit is in teorie wel soos Botha sê dat die Grondwet “allerweë as ’n toonbeeld van uitnemendheid op die gebied van staatsleer voorgehou en volgens die Verenigde Nasies ’n voorbeeld is wat deur alle lande nagestreef behoort te word”.

Dit is egter in die praktyk waar die dilemma lê. Die meeste van ons het gehoop dat die Grondwet wat uit die grondwetlike proses voortgespruit het Suid-Afrika se potensiaal sou ontsluit. Maar soos ’n bekende Suid-Afrikaanse politikus onlangs gesê het: “Die voortbestaan van ’n Grondwet hang nie net van die omstandighede van sy geboorte af nie, maar ook van die aard en karakter van diegene wat die verantwoordelikheid het om dit in stand te hou.”

Jan Bosman

En dit is presies hierin waar die huidige gevaar lê.

Te midde van die ANC-regering se ideologiese kaperjolle, word daar twee beleidsraamwerke voorgehou wat verdere katastrofiese gevolge sal hê. Die een is die onbekostigbare en ondeurdagte NGV en die ander die wysiging aan die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak wat die beginsel van eiendomsreg verskraal.

Ons sou soos Botha gehoop het dat pres. Cyril Ramaphosa se aanvanklike beleidsbenadering wat “samewerking tussen die private en die openbare sektor in die soeke na oplossings vir die land se ernstigste tekortkomings” insluit, rigtinggewend sou wees vir nuwe ekonomiese groei aan die een kant, maar ook sosiale kohesie aan die ander kant.

Dit sou ook die burgerlike samelewing ingesluit het en die goeie wil was daar, maar helaas wil dit lyk asof ook die president moes swig voor sy party se ideologie.

Dit dra net daartoe by dat ons onafwendbaar afstuur op ’n mislukte staat.

* Bosman is die hoofsekretaris van die Afrikanerbond. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.