Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA verdien jong vroue in politiek
Amanda Gouws
Prof. Amanda Gouws Foto: Verskaf

Manlike politieke leiers wat magsbehep is, maak die wêreld ’n onveilige en onstabiele plek vir almal van ons.

Die volgende leiers spesifiek dra by tot globale onveiligheid: Donald Trump van Amerika, Wladimir Poetin van Rusland, Reçep Tayyip Erdogan van Turkye, Boris Johnson van Brittanje, Kim Jong-oen van Noord-Korea en Basjar al-Assad van Sirië.

Vroue is egter moeg daarvan om die skoonmaakwerk te doen nadat mans chaos gesaai het. Die protesoptogte van vroue die dag nadat Trump as president ingesweer is, het gewys dat vroue nie populistiese en vrouehaat-politiek aanvaar nie. Miljoene vroue oor die wêreld heen het geprotesteer.

Die middeltermyn-verkiesing in November 2018 in die VSA was ’n nóg duideliker teken dat vroue bereid is om die mag terug te neem.

In hierdie verkiesing is meer vroue as ooit vantevore tot die Kongres verkies. Wat egter nog meer verrassend was, is die diversiteit en ouderdomme van die vroue wat verkies is.

Jong vroue is moeg daarvoor dat hul toekoms beslis word deur mans wat net hul eie belang dien.

Jong, vreeslose vroue, waarvan twee inheemse Amerikaners is, twee Moslemvroue, en die jongste, die 29-jarige Alexandria Ocasio-Cortez, is van Latyns-Amerikaanse afkoms.

Jong vroue is moeg daarvoor dat hul toekoms beslis word deur mans wat net hul eie belang dien. Trump het aan van hierdie vroue gesê hulle moet teruggaan na die lande waar hulle vandaan kom, hoewel hulle almal Amerikaanse burgers is.

Volgens Emily’s List, ’n politieke aksiekomitee wat geld insamel om vroulike Demokratiese kandidate te bevorder, het 42 000 vroue aangedui dat hulle politieke kandidate wil wees sedert Trump president geword het. In die November 2018-verkiesings was daar 529 vroulike kandidate teenoor die 312 in 2016.

Jacinda Ardern, Nieu-Seeland se eerste minister, is 37 jaar oud. Ysland se eerste minister, Katrin Jakobsdóttir, is 44, Finland se Sanna Marin is 34, en Serwië se eerste vroulike eerste minister, Ana Brnabic, is 44 en openlik gay.

Hierdie vroue het ’n baie ander profiel as die van baie magsdronk manlike leiers. Hulle verstaan en bevorder die agenda van geslagsgelykheid, geregtigheid en klimaatsverandering. Hulle stel belang in alliansies en ’n goeie lewenstandaard vir ál hul burgers en poog om konflik te vermy.

Hier in Suid-Afrika het ons ook die vars bries van jong vroue in die politiek dringend nodig.

Mbali Ntuli (31) het pas haar kandidatuur vir leierskap van die DA aangekondig. Aangesien die DA meriete en nie gender of raskwotas voorstaan nie, kan ons seker wees dat sy op meriete daar gekom het. Sy is reeds ’n lid van die KwaZulu-Natalse wetgewer.

Ntuli staan groter regverdigheid in die DA voor en wil die party saamsnoer, want sy glo nie die huidige leierskap kan dit doen nie.

Sy was die DA se verkiesingshoof in KwaZulu-Natal in die 2019-verkiesing en onder haar leiding was KwaZulu-Natal die enigste provinsie waar die DA se steun verbeter het.

Ntuli is nie die eerste swart vrou in ’n DA-leierskapsposisie nie. Lindiwe Mazibuko was ook jonk en passievol, maar sy het geswig onder die druk wat die DA-leierskap op haar uitgeoefen het. Helen Zille het vroeër ook vir Ntuli ’n prima donna genoem.

Die DA staan nou ’n kans om ’n jong, swart leier te kry wat moontlik die gety van stemverlies vir die DA kan stuit deur swart kiesers terug te bring.

Ntuli verdien ’n kans. Indien sy dit nie kry nie, sal daar ’n duidelike boodskap uitgaan na die kiesers dat die DA die status quo wil behou.

  • Prof. Gouws is verbonde aan die departement politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Amanda Gouws  |  Mans  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.