Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA verstaan nie koalisie-regering
Alida Kok
Alida Kok

Tydens ’n onlangse besoek aan verskeie streeksparlemente in Europa met die doel om multivlakregering (die unitêre en federale samestellings van state) te bestudeer en beter te verstaan, het ek drie dinge oor Suid-Afrikaanse politiek opnuut besef: Die dominante partystelsel met die ANC en sy faksies as heerser van die land het ons verstaan van politiek so verwring dat ons die balans en gesonde politieke kompetisie wat stabiele koalisiepolitiek of tweepartystelsels meebring, in wese nie begryp nie.

Ons is so gefokus op die destruktiewe effek van ANC-partypolitiek op die strukture van nasionale en provinsiale regering dat ons nie eens weet hoe nasionale en provinsiale regering sal lyk as daar nie ’n dominante party is nie.

’n Ervaring wat ek gehad het tydens ’n besoek aan die provinsiale parlement van Suid-Tirool illustreer hierdie punt.

Suid-Tirool is ’n outonome provinsie in die noorde van Italië met ’n pynlike politieke geskiedenis tussen Duits- en Italiaanssprekendes. Suid-Tirool was oorspronklik ’n Oostenrykse provinsie wat met die skikking ná die Eerste Wêreldoorlog aan Italië gegee is. Met die opkoms van fascisme is die provinsie doelbewus deur die sentrale regering in Italië veritaliaans en is Duitssprekende gemeenskappe onderdruk.

Ondanks dié geskiedenis is daar vandag twee politieke partye – die Duitssprekende Suid-Tiroolse Volksparty en die Italiaanssprekende Lega – in ’n koalisie in die provinsiale wetgewer. Omdat Suid-Tirool outonoom is, het die provinsiale wetgewer baie mag in die provinsie.

Terselfdertyd is daar nie ’n provinsiale regbank in Suid-Tirool nie. As Suid-Afrikaner het ek dadelik ’n “probleem” hier raakgesien – hoe hou ’n mens dan ’n party wat die reëls in die wetgewer en elders breek verantwoordbaar as ’n mens daardie party nie hof toe kan neem nie?

By nader ondersoek het ek besef die koalisie tussen die twee uiteenlopende partye is so stabiel dat hulle as mekaar se wigte en teenwigte dien.

By nader ondersoek het ek besef die koalisie tussen die twee uiteenlopende partye is so stabiel dat hulle as mekaar se wigte en teenwigte dien.

As Suid-Afrikaner is dit vir my normaal om politieke gedinge in die hof op te los vanweë ons dominante partystelsel wat ’n konteks skep waarin korrupsie grotendeels ongesteurd kan voortgaan. Iemand van Suid-Tirool het nie eens nodig om dit te oorweeg nie, want gedesentraliseerde of federale politieke mag bied ’n raamwerk waarin politieke druk verlig word.

Tweedens is die skadu van apartheid nog so teenwoordig in die wyses waarop ons sin maak van ons politiek, en die geromantiseerde bevrydingsnarratief van die ANC nog so prominent, dat mense eerder sal redeneer dat politieke mag buite die ANC moreel verkeerd is.

Suid-Afrikaners floreer nie onder oorgesentraliseerde politieke mag nie, maar desondanks wil ons nie ons idees oor federalisme hersien nie. Ons word eerder ver-lam deur skeefgetrekte persepsies oor maatskaplike geregtigheid.

Hier dien die debat oor Afrikaanse onderwys as voorbeeld: Nadat Solidariteit aangekondig het hy gaan R4,5 miljard aan private Afrikaanse onderwys bestee, bestaan daar ’n vrees dat dié projek eintlik Afrikanernasionalisme is. Of afkeur in die projek bestaan want Afrikaanssprekendes kan nie op ’n uitnemende onderwysstelsel geregtig wees as die res van die land nie ook uitnemende onderwys het nie.

Intussen is die stap om die Afrikaanse onderwysstelsel te red ook ’n nodige stap teen ’n dominante partystelsel en oorgesentraliseerde politieke mag. Derdens het ons nie die taal – die woorde en die konsepte – in Suid-Afrika om te kan dink en praat oor gedesentraliseerde of federale politieke mag nie. Idees rakende federalisme in Suid-Afrika het bagasie weens ons apartheidsverlede.

Ons gaan nou ’n toekoms binne waarin ons stelselmatig ’n nuwe woordeskat van federalisme skep en uitleef.

  • Kok is ’n dosent in politiek en internasionale verhoudinge aan Akademia.
Meer oor:  Alida Kok  |  Politiek  |  Regering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.