Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA vroue verdien veel beter as dít

Ja, pres. Cyril Ramaphosa het ’n bitter moeilike taak gehad om sy kabinet saam te stel, maar ’n mens kan egter nie help om te wonder wat die land se vroue gedoen het om die aanstelling van Bathabile Dlamini as minister van vrouesake in die presidensie te verdien nie.

Sy is net so onbeholpe, indien nie meer nie, as ’n voorganger van haar, Lulu Xingwana.

Henry Jeffreys

Dlamini se aanstelling maak ’n bespotting van die ANC se praatjies oor hoe belangrik die party die stand en rol van vroue in die samelewing ag. Dit blyk alles lippetaal te wees.

Dit opper ook vrae oor Ramaphosa se erns oor die lot van vroue. Sedert die bekendmaking van sy kabinet blyk dit Ramaphosa is onder druk geplaas deur onder andere adj.pres. David Mabuza, wat glo op sy en én Dlamini se aanstellings aangedring het.

Benewens haar wanbestuur van maatskaplike toelaes, sal Dlamini ook onthou word vir haar venynige veroordeling van die jong vroue wat in die naam van Khwezi (skuilnaam van die vrou wat oudpres. Jacob Zuma van verkragting aangekla het) teen hom by die bekendmaking van die 2016-verkiesingsuitslae betoog het.

Dlamini het ook vir Ramaphosa vóór sy verkiesing as ANC-leier in Desember 2017 openlik gekritiseer omdat hy glo ook vir Khwezi opgekom het.

Dit is natuurlik ook moontlik dat Dlamini se verblyf in die presidensie van korte duur sal wees.

Suid-Afrikaanse vroue sal dit maar al te goed verstaan. Daar is egter ook vele ander uitdagings vir vroue.

Dit was nog nooit duidelik wat presies ’n departement vir vroue se eintlike taak is nie. Die departement mag dalk nie die beplande herskikking van staatsdepartemente en ’n tweede kabinetskommeling oorleef nie.

Dat die lot van vroue in Suid-Afrika gefokusde aandag moet kry, is nie te betwyfel nie, maar dan moet daar opnuut gedink word oor wat die doel van so ’n departement moet wees en wie dit moet lei en bestuur.

Die probleme van vroue is voor die hand liggend. Phumzile Mlambo-Ngcuka, Suid-Afrika se eerste en tot dusver enigste vroue-adjunkpresident (sy is nou die uitvoerende direkteur van die Verenigde Nasies se afdeling vir vroue), het onlangs op Internasionale Vrouedag gesê geweld is die grootste bedreiging vir vroue wêreldwyd.

Suid-Afrikaanse vroue sal dit maar al te goed verstaan. Daar is egter ook vele ander uitdagings vir vroue. Dit sluit in geslagsgelykheid in die werkplek. Baie kan ook nog gedoen word vir die bemagtiging en ontwikkeling van vroue, nieteenstaande die vordering wat sedert die koms van demokrasie in 1994 gemaak is.

Maar dit is geweld teen vroue wat die grootste probleem in Suid-Afrika is. Studies toon dat een uit elke drie Suid-Afrikaanse vroue slagoffers van geweld in hul leeftyd sal wees.

Dlamini is president van die ANC- vroueliga en daarom baie invloedryk. Sy verdien egter nie haar plek in die kabinet nie en moet so gou moontlik verwyder word.

Ons wy ’n hele maand daaraan om die gruwel van geweld teen vroue en kinders in die openbare oog te hou, en ons herdenk ook die rol van vroue en hul bydrae tot die uitbou van die samelewing met ’n amptelike vakansiedag.

Dit is egter nie duidelik in hoe ’n mate dit help om die lot van vroue te verbeter nie.

Ramaphosa se behoud van Dlamini in die kabinet (sy het meer as genoeg gedoen om summier na die agterbanke van die parlement verban te word), het waarskynlik baie met interne ANC-politiek te doen.

Dlamini is president van die ANC- vroueliga en daarom baie invloedryk. Sy verdien egter nie haar plek in die kabinet nie en moet so gou moontlik verwyder word.

Sy sal waarskynlik nie belang stel nie, maar Mlambo-Ngcuka sal ’n uitstekende kandidaat vir dié pos wees. Maar New York en ander wêreldstede klink soveel beter as Pretoria.

Meer oor:  Bathabile Dlamini  |  Lulu Xingwana  |  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Vroue  |  Rubriek  |  Kabinet  |  Menings  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.