SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
SA wil nóú optrede teen staatskapers hê

Adv. Bongani Bongo, ANC-LP en oudminister, se inhegtenisneming verlede week weens beweerde korrupsie het beslis weer ’n greintjie hoop onder burgers laat opvlam dat staatskapers tog eendag in ’n tronk kan beland.

Llewellyn Prince

Korrupsievoos Suid-Afrikaners wil in dié stadium net sien dat iemand gestraf word vir die grootskaalse plundering van staatsgeld, veral in die termyn van Jacob Zuma.

Die gevolge daarvan kan daagliks nog gesien word in die finansiële verknorsing waarin staatsondernemings, soos die SAL en Eskom, hulle bevind. Dié en ander staatsondernemings word kunsmatig aan die lewe gehou met reddingsboeie van miljarde waarvoor die belastingbetaler moet opdok. Dít terwyl niemand strafregtelik daarvoor aanspreeklik gehou word nie.

Net verlede week het die Britse politikus lord Peter Hain Suid-Afrikaners se frustrasie met die slakkegang van die Zondo­-kommissie van ondersoek na staatskaping verwoord toe hy ook sy vrese uitgespreek het dat die regering nie met die nodige dringendheid die gesteelde geld probeer terugkry nie.

Die stadige tempo van die Zondo­-kommissie beteken ook dat dit jare kan neem voordat iemand strafregtelik weens staatskaping vervolg kan word.

Die stadige tempo van die Zondo-kommissie beteken ook dat dit jare kan neem?.?.?.

Daarby gaan ander vermeende staatskapers, net soos Zuma tans met sy sogenaamde Stalingrad-taktiek maak, ook alles moontlik doen om hul dag in die hof te vermy.

Daarom het Bongo se inhegtenisneming verlede week weer effense hoop laat opvlam dat die Valke en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) tog ernstig is om oortreders aan die pen te laat ry.

Dit kon gesien word toe selfs politieke partye veral Bongo se inhegtenisneming wyd verwelkom het, met die DA wat hom as “ ’n belangrike meeloper in die staatskapingsmafia van die Guptas­ en Zuma” beskryf.

Die Valke se aankondiging dat nóg tien verdagtes landwyd aangekeer is weens hul beweerde betrokkenheid by tenderbedrog van R600 miljoen in die armoedegeteisterde Oos-Kaap, het daardie hoop verder versterk.

Die duidelike frustrasie met die slakkegang van optrede teen staatskapers kan selfs in die parlement gesien word soos opposisie- en selfs ANC-LP’s by elke moontlike geleentheid ministers met vrae peper oor wanneer staatskapers aangekeer gaan word.

Adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, het onlangs ná vrae van LP’s in die parlement gesê ernstige korrupsiesake is kompleks en neem lank om af te handel.

Volgens haar is voorkeursake wel geïdentifiseer om bespoedig te word. Dit is belangrik vir gefrustreerde Suid-Afrikaners wat net optrede wil sien.

  • Prince is ’n parlementêre verslaggewer van Netwerk24.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.