Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Saam kan ons berge versit
Die Taalmonument by die Paarl.Foto: getty images

Volgens Statistieke SA se algemene huishoudelike peiling wat in 2018 uitgereik is, praat meer as ’n kwart (25,3%) van ons land se mense Zoeloe tuis. 14,8% praat Xhosa en 12,2% Afrikaans – die derde mees algemene huistaal in Suid-Afrika, teenoor Engels wat die sesde plek (8,1%) beklee.

Buite die huishouding verander dié prentjie: 25,1% mense praat Zoeloe en 16,6% Engels. Naas Zoeloe is Engels die mees algemene taal buite die huishouding, daarna Xhosa (12,8%), gevolg deur Afrikaans en Pedi wat gesamentlik die vierde plek op 9,7% beklee.

Die peiling dui ook daarop dat 77,4% bruin Suid-Afrikaners Afrikaans tuis praat, teenoor 61,2% wit Suid-Afrikaners. Buite die huis staan die gebruik van Afrikaans deur bruin sprekers op 68,8% en vir wit op 37,2%.

Die Afrikaanse ekosisteem beskik dus oor sowat tien miljoen eerste- en tweedetaalsprekers. Voeg daarby die sowat 500 000 swart sprekers en 50 000 Indiërs wat Afrikaans binne en buite die huis praat, dan bied dit nuwe geleenthede.

Geleenthede wat die Afrikaanse gemeenskap en Afrikaans op ’n nuwe trajek van kulturele, ekonomiese, opvoedkundige, spirituele, politieke en maatskaplike ontwikkeling kan plaas. Mits ons dit oordeelkundig en slim ontgin.

Afrikaanssprekendes neem oor grense heen hande om vooruitgang te bewerkstellig.

Maar hoe lyk hierdie ekosisteem in dié stadium? Dis dinamies, ondernemend, energiek en veerkragtig. Daar word op elke terrein gewerskaf en gewoel. Afrikaanssprekendes neem oor grense heen hande om vooruitgang te bewerkstellig. Afrikaanssprekendes laat geld hulle ook in staatsbeheerde ondernemings. Daniël du Toit is die nuwe hoof van Denel, en Edward Kieswetter van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Dr. Randall Carolissen is as administrateur van NSFAS aangestel, en André de Ruyter as hoof van Eskom.

In die private sektor speel Afrikaanssprekendes ook ’n leidende rol. Om nie eens te praat van die bydrae wat hulle lewer op gemeenskaps- en politieke vlak en op die internasionale terrein nie.

Dink maar aan dr. Japie van Zyl, wat aan die hoof staan van die slimste en kreatiefste mense by Nasa. Of prof. Elmien du Plessis wat agter die skerms grondwetlike oplossings vir die grondvraagstuk probeer beding. En prof. Shirley Zinn in die sakewêreld.

Afrikaanssprekendes vind oplossings en bring vooruitgang mee. In dié verband bied die Afrikaanse ekosisteem ’n soliede basis om hul talente aan die wye wêreld te bied. En waar ook al hulle in diens geneem word, instellings tot nuwe hoogtes te neem.

Maar wat van die plaaslike Afrikaanse ekosisteem? Tien miljoen sprekers van Afrikaans!

Dit bring my by die vraag: Wat is die faktore aanwesig in die Afrikaanse ekosisteem wat hulle in staat stel om ’n leierskapsposisie op enige plek ter wêreld en op enige terrein op te neem en ’n suksesvolle uitkoms te bewerkstellig?

Dit behels sterk familie-, kulturele en godsdienstige netwerke, goeie opvoeding, dissipline, aanpasbaarheid, ambisie, kreatiwiteit, mede­menslikheid . . . en ’n unieke vermoë om hulself oor grense heen te laat geld en handhaaf.

Christo van der Rheede

Ook ’n uitwaartse, progressiewe ingesteldheid wat mense met ’n diverse agtergrond op so ’n wyse mobiliseer om as ’n span of as vennote saam te werk om oplossings te vind en vooruitgang te bewerkstellig.

Só word geleenthede wat die wêreld tot voordeel strek, ontgin en die Afrikaanse ekosisteem tegelyk op ’n nuwe en opwindende toekoms-trajek geplaas.

Maar wat van die plaaslike Afrikaanse ekosisteem? Tien miljoen sprekers van Afrikaans! Dink net wat moontlik is as hulle verenig en saam besin oor die ontginning van nuwe moontlikhede deur en in Afrikaans wat nie nét die Afrikaanse gemeenskap nie, maar ook die ganse Suid-Afrika bevoordeel.

’n Inklusiewe en verenigde Afrikaanse ekosisteem kan berge versit.

Meer oor:  Christo Van Der Rheede  |  Afrikaners  |  Taal  |  Afrikaans  |  Samewerking  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.