Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Saamstaan gee krag in hierdie weerlose tye

In my kantoor is al vir jare ’n foto van Beyers Naudé in ’n rolstoel en Nelson Mandela wat die rolstoel stoot. Dis ’n foto van broosheid en weerloosheid. Oom Bey het Madiba nodig, maar Madiba beweeg self moeilik en steun op die rolstoel. Twee brose mense, maar saam beweeg hulle vorentoe.

Die afgelope Sondag was die 105de herdenking van oom Bey se geboorte. Dit was ook die viering van Madiba se inhuldiging as eerste demokratiese president op 10 Mei 1994.

Selfs in hul brose ouderdom leer hierdie morele helde vir ons belangrike lesse. Om mens te wees is om broos te wees. Die Verligtingsdenke leer ons die ideale mens is magtig, onafhanklik, vry, individualisties. Maar hierdie foto leer ons die ideale mens is broos, afhanklik, interafhanklik, gebonde, en mens in gemeenskap, verhoudinge en saamwees.

Wyle prof. Nico Smit van die VGK in Mamelodi het jare gelede gesê op elke mens staan geskrywe: “Breekbaar. Hanteer versigtig”. Broosheid beteken ek is vatbaar vir lyding in allerlei vorme, en dit beteken dat ek inderdaad ook ly en breek.

Ons kan op broosheid reageer met arrogansie. Die Amerikaanse teoloog Reinhold Niebuhr identifiseer in sy The Nature and Destiny of Man vier vorme van hoogmoed waarmee mense probeer wegvlug van broosheid: mag, intellek, moraliteit en spiritualiteit.

Uit die saamwees te midde van broosheid groei krag; in die saamstaan te midde van breekbaarheid gaan ons vorentoe.

Ons kan ook op weerloosheid reageer met angs. In sy boek The Courage to Be skryf die Amerikaanse teoloog Paul Tillich oor die individuele en kollektiewe angs vir mislukking, verlies en verwerping, die angs vir leegheid en doelloosheid, en die angs vir die noodlot en eindigheid. Hoe intens ervaar ons nie hierdie angste in die Covid-19-tyd nie.

Die foto van Madiba en oom Bey leer ons hoe om op weerloosheid te reageer. Uit die saamwees te midde van broosheid groei krag; in die saamstaan te midde van breekbaarheid gaan ons vorentoe.

Dit herinner ons aan simpatie, saam voel, saam bly wees, saam treur en saam hoop te midde van broosheid. Dit herinner ons aan empatie, die invoel en inleef in mekaar se posisies, die kyk na die werklikheid deur die bril van die ander, die staan in die skoene van die ander, die leef in die vel van die ander.

Dit herinner ook aan interpatie, die doelgerigte indink en invoel in die ervaringe van mense van ander groepe, kleure, kulture, so­sio-ekonomiese posisies en lewensbeskouinge.

In dié Covid-19-tyd ervaar ons ongekende weerloosheid. Die bekendste simbool van die Christelike geloof is die kruis, ’n simbool van ’n weerlose God wat in ’n weerlose wêreld in vereenselwiging leef met weerlose mense.

Hemelse solidariteit en die sosiale solidariteit van mense onderling bied vir ons ’n weg vorentoe te midde van broosheid.

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Nelson Mandela  |  Nico Koopman  |  Menslikheid  |  Korona
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.